Port Elizabeth
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Port Elizabeth (Zoeloe: Bhayi, Xhosa: iBhayi), wat in die plaaslike Afrikaanse streektaal dikwels ook "Die Baai" of net "PE" genoem word, is 'n hawestad in die Oos-Kaapprovinsie, Suid-Afrika. Die stad aan die Algoabaai met sy 749 921 inwoners (1996) is die grootste in die Oos-Kaapprovinsie, en beskik met die Universiteit van Port Elizabeth dekades lank oor die enigste tweetalige universiteit in die land.
Port Elizabeth is vernoem na Elizabeth Donkin, die eggenote van die Kaapse goewerneur en stigter van Port Elizabeth, Sir Rufane Donkin. Sy is in 1818 in Indië oorlede. 'n Steenpiramide in die stedelike park Donkin Reserve herinner aan Elizabeth Donkin.
Port Elizabeth strek oor sestien kilometer langs die Indiese Oseaan, en sy lang wit strande soos King's Beach, Humewood, Hobie en Pollock, waarvan sommige in die binnestad lê, maak van die stad 'n gewilde toeristebestemming.
In 2001 word Port Elizabeth saam met Uitenhage, Despatch en ander stede en gebiede in die omgewing deel van die Nelson Mandela Metropolitaanse Munisipaliteit met sowat 1,5 miljoen inwoners.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die Portugese seevaarder Bartolomeu Diaz sit in 1488 naby die huidige Port Elizabeth voet aan wal en rig 'n kruis op.
Voor 1820 is daar net 'n voorpos en vanaf 1799 'n fort. Na die immigrasie van die 1820-Setlaars begin die dorp geleidelik groei en word 'n handelsentrum in die Oos-Kaap. Vandag is dit die sentrum van die Suid-Afrikaanse motornywerheid en tegelykertyd 'n gewilde vakansieoord.
[wysig] Ekonomie
Alhoewel die plaaslike produksiesyfers beskeie is in vergelyking met oorsese lande, dra Port Elizabeth die trotse bynaam "Detroit van Suid-Afrika". In Port Elizabeth en die voorstad Uitenhage het vervaardigers soos General Motors, Volkswagen, Ford, Continental Tires en baie ander nywerhede vir die plaaslike Suid-Afrikaanse mark opgerig. Die motorbedryf stimuleer ook die vestiging van ander ondernemings, wat hoofsaaklik komponente vir motors vervaardig.
Die twee lughawens van die stad bied verbindings na ander nasionale bestemmings.
Port Elizabeth se seehawe beskik oor 'n oppervlak van 115 hektaar en meer as 3 400 meter se kaaigeriewe. 'n Tweede seehawe, Coega, word tans gebou en sal moontlik die vestiging van nuwe nywerhede in die gebied bevorder.
[wysig] Tersiêre instellings
Die Universiteit van Port Elizabeth, wat in 1964 as die enigste tweetalige Afrikaans-Engelse universiteit in Suid-Afrika gestig is en oor 'n kampus van sowat 800 hektaar beskik, vorm vanaf die jaar 2005 saam met die voormalige Technikon van Port Elizabeth en die Vista-Universiteit die nuwe Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.
[wysig] Besienswaardighede
- Die Donkin Reserve met die steenpiramide is een van die bekendste bakens in die stad. Die vuurtoring langs die piramide is in 1861 opgerig en huisves vandag 'n militêre museum. Die gerestoureerde privaathuise van Donkinstraat is pragtige voorbeelde van die Victoriaanse boustyl.
- No. 7 Castle Hill van 1827 is die oudste gebou van Port Elizabeth wat bewaar is. Dit is oorspronklik die tuiste van die eerste geestelike in die gebied, Eerwaarde F. McCleland. Die gebou is 'n tipiese voorbeeld van 'n 19de eeuse stadhuis en nou 'n museum en nasionale monument. Die museum beskik oor 'n versameling van meubels, huisgereedskap en poppe uit die 19de eeu.
- Die Wit Huis of Old Harbour Board Building van 1904 is 'n pragtige voorbeeld van die Art-Nouveau-boustyl in Suid-Afrika. Oorspronklik dien dit as 'n administratiewe gebou vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens.
- Die Settlers' Cemetery is die begraafplaas van baie van die Britse 1820-Setlaars.
- Die Campanile (Kloktoring) is in 1923 ter herdenking aan die landing van die 1820-Setlaars opgerig. 'n Wenteltrap met 204 trappies lei na die uitkykplek van die toring met 'n hoogte van 53 meter, wat 'n pragtige uitsig oor die stad bied. Die kloktoring beskik oor 23 klokke, waarvan tien daagliks om 8.32 uur, 13.32 uur en 18.02 uur gelui word.
- Fort Frederick, wat in 1799 ter beskerming van die monding van die Baakensrivier deur Britse troepe opgerig is, staan bekend as die eerste steengebou in die Oos-Kaap. Die fort is vernoem na die Hertog van York. Vandag is die gebou 'n nasionale gedenkwaardigheid, wat onder meer oor 'n versameling van historiese kanonne beskik. Die fort is ook 'n uitstekende uitsigpunt vir die Algoabaai.