Scientologie
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Scientologie is 'n soort filosofies-religieuse beweging wat beweer dat hy die geestelike en fisiese gesondheid van sy aanhangers heelwat kan verbeter. Die kern van sy leerstellinge is dat 'n mens, deur deelname in Scientologie, as geestelike wese bevry kan word van die liggaam en die aardsgebonde lewe en daarna in staat sal wees om 'n helende invloed te bewerk oor sy lewe en die lewens van andere. Die Kerk van Scientologie (Church of Scientology) is gestig deur die Amerikaanse filosoof, ontdekkingsreisiger en skrywer van wetenskapsfiksie L. Ron Hubbard (13 Maart 1911 - 24 Januarie 1986).
Die beweging het in 1950 in die Verenigde State met die publikasie van L. Ron Hubbard se boek Dianetics: The Modern Science of Mental Health ontstaan, waarin Hubbard Dianetiek as 'n alternatief tot tradisionele terapieë voorgestel het. Dianetiek het op nuwe meganismes vir die oorlewing van die individu en nuwe vorme van selfuitdrukking gekonsentreer. Baie van die leerstellings is uit die moderne psigologie oorgeneem. Hubbard het onder meer beweer dat traumatiese ervarings uit die verlede as sogenaamde engramme gestoor word en die oorsaak van irrasionele en afwykende gedrag kan wees. Deur die sogenaamde proses van auditing het aanhangers die moontlikheid gekry om hulle engramme onder die toesig van 'n praktisyn en met behulp van die sogenaamde e-meter op te spoor en uit te wis.
Hubbard het meer navorsing oor die wese en die sin van die menslike lewe gedoen, en Dianetiek is geleidelik uitgebrei totdat dit 'n religieuse dimensie gekry het - Scientology. Hubbard het beweer dat elke mens naas sy liggaam en gees ook uit 'n onsterflike spirituele wese, die sogenaamde Thetan, bestaan, wat oor talle menslike lewens strek en die mag het om die basiese elemente van die bestaan soos materie, energie, ruimte en tyd self te skep.
Scientology stel kerklede in staat om langs die sogenaamde Brug na Totale Vryheid te beweeg en sodoende geestelike verligting en die status van 'n sogenaamde Operating Thetan met hoër vlakke van bewussyn te bereik.
Die Kerk van Scientologie het sedert sy stigting in Los Angeles in 1954 vinnig gegroei en deur sy invloed op welbekende persoonlikhede uit die vermaaklikheidsbedryf baie aandag in die media gekry. Die kerk beywer hom met sy verskillende instellings in meer as eenhonderd lande vir religieuse vryheid, die opleiding van praktisyns en maatskaplike en politieke hervorming. Die boek Dianetics en 'n VHS-video oor die gebruik van Dianetiek het reeds in Afrikaans verskyn.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Dianetiek is in 1950 deur L. Ron Hubbard as 'n soort psigoterapeutiese selfhulp-tegniek ontwikkel, en die gelyknamige boek het in die Verenigde State vinnig 'n blitsverkoper geword. Met die vrystelling van die boek Scientology 8-80 is die leerstellings in 1952 tot 'n filosofiese stelsel uitgebou, en in 1954 is die Kerk van Scientologie in die VSA gestig. Die stigtingskerk van die beweging is in Washington, DC geopen. Scientologie maak aanspraak daarop om tegelykertyd 'n universele religie en presiese tegnologie te wees.
Die Scientologiese leerstellings en praktyke is in die volgende jare onder die leiding van die stigter L. Ron Hubbard presies uitgewerk. Ná 'n interne magstryd het 'n aantal lede die beweging in 1982 verlaat om hulle eie Scientologiese groeperings buite die kerk te stig.
Nog voor L. Ron Hubbard se afsterwe in 1986 het David Miscavige die leierskap van die kerk oorgeneem. Alhoewel die Internasionale Kerk van Scientologie (Church of Scientology International) met Heber Jentzsch oor 'n president beskik, word David Miscavige, die voorsitter van die Religious Technology Center ('n instelling wat die kopiereg van Hubbard se werke besit), as die invloedrykste persoonlikheid binne die Scientologie-organisasie beskou.[1]
Die ledetal van die kerk word op sowat 150 000 wêreldwyd beraam.[2] Scientologie word in die Verenigde State, Italië, Spanje, Swede, Hongarye, Portugal, Meksiko, Venezuela, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Zimbabwe, Indië en die Republiek van Sjina as 'n nie-winsgewende, religieuse gemeenskap erken.
[wysig] Verwysings
- ↑ The man behind Scientology: David Miscavige, the seldom-seen leader of the church, comes forth in his first newspaper interview to talk of a more peaceful time for Scientology, St. Petersburg Times, 25 Oktober 1998
- ↑ Scientology comes to town, The Pittsburgh Post-Gazette, 24 Julie 2005
[wysig] Verdere leesstof
- The Church of Scientology International. Scientology: Theology and Practice of a Contemporary Religion. Los Angeles: Bridge Publications 1998
- Jenkins, Philip. Mystics and Messiahs: Cults and New Religions in American History. New York: Oxford University Press 2000
- Miller, Russell. Bare-Faced Messiah: A Biography of L. Ron Hubbard. Londen: Michael Joseph 1987