Marais Viljoen
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Marais Viljoen het tussen 4 Junie 1979 en 3 September 1984 as Suid-Afrika se laaste seremoniële (nie-uitvoerende) staatshoof gedien. Die posisie is met die grondwetwysiging van 1983 verander in een met uitvoerende magte. Hy is opgevolg deur P. W. Botha. Hy het voorheen waargeneem as staatspresident tussen 21 Augustus 1978 en 10 Oktober 1978, waarna B.J. Vorster tot die posisie verkies is.
Viljoen is op 2 Desember 1915 as die jongste van ses kinders op die plaas Takkap buite Robertson in die Wes-Kaap gebore en het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad skoolgegaan. Hy moes weens geldnood sy skoolloopbaan kortknip, maar het later sy matriek buitemuurs voltooi.
Hy het by die Maitland-poskantoor as telegrafis begin werk en was later ’n vertaler by die Poskantoor se hoofkantoor in Pretoria.
Op 1 Oktober 1937 het hy hom as verslaggewer aangesluit by Die Transvaler, wat toe onder die redakteurskap van H.F. Verwoerd was.
Op 20 April 1940 is hy met Dorothea Maria (Marietjie) Brink, ’n musiekonderwyseres en boorling van Potchefstroom, getroud.
Hy was van 1958 Volksraadslid vir Alberton en het later onder meer gedien as adjunkminister van arbeid en mynwese (1958-1966), minister van arbeid en kleurlingsake (1966-1970), minister van arbeid en pos- en telekommunikasiewese (1970-1976), en ook as president van die Senaat (1976-1979).
Viljoen is op 4 Januarie 2007 in Pretoria aan hartversaking oorlede. [1][2]
[wysig] Verwysings
- ↑ Die Burger 7/1/2007
- ↑ Mail & Guardian 7/1/2007