Montpellier
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Frankryk |
Koördinate | 45°46' N, 03°04' O |
Région (gewes) | Languedoc-Roussillon |
Département | Hérault (prefektuur) |
Eerste historiese verwysing | 985 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 56,88 vk km |
Hoogte bo seevlak | 7-57 m |
Bevolking: | |
- Totaal (1999) | 225 392 |
- Bevolkingsdigtheid | 3 963/vk km |
Tydsone | UTC +1 |
- Somertyd | UTC +2 |
Burgemeester (2004-2008) | Hélène Mandroux-Colas |
Amptelike webwerf | Montpellier |
Montpellier [mɔ̃pəˈlje, mɔ̃pɛˈlje] (Oksitaans: Montpelhièr [mumpeˈʎɛ]) is een van die grootste stede van Frankryk se Mediterreense kusgebied en op sewe na die grootste in die land met 'n oppervlak van 56,88 vierkante kilometer en 225 392 inwoners in die stad en 459 916 in die metropolitaanse gebied (1999).
Montpellier is die prefektuur (hoofstad) van die gewes Languedoc-Roussillon en die département Hérault. Die stad, wat met sy Fin-de-siécle-argitektuur bekoor, is vandag 'n dinamiese universiteitstad en 'n wetenskaplike, kulturele en ekonomiese sentrum.
[wysig] Geografie
Montpellier lê in 'n heuwelland sowat tien kilometer van die Mediterreense kus af aan die Lezrivier. Die etimologie van sy naam is nie duidelik nie. Oorspronklik is dit Monspessulanus genoem, wat of van Mont Pelé (letterlik "kaal heuwel") of Mont de la Colline, twee heuwels in die gebied, afgelei is.
[wysig] Geskiedenis
Montpellier is een van min stede in Frankryk wat nie uit 'n Gallies-Romeinse nedersetting ontwikkel het nie. In die vroeë Middeleeue was die nabygeleë biskopstad Maguelone die belangrikste sentrum in die gebied, maar as gevolg van seeroweraanvalle is die stad na die binneland verskuif. Die eerste historiese verwysing na Montpellier dateer uit die jaar 985. Die stad is onder die heerskappy van die grawe van Guillem uit Toulouse gestig, wat twee dorpies verenig en hulle met 'n stadsmuur en kasteel versterk het. Van die stadsmuur het net twee torings bewaar gebly, wat later opgerig is - die Tour des Pins en die Tour de la Babote.
Sedert die 10de eeu het Montpellier handelsbetrekkinge met ander Mediterreense gebiede, waaronder ook die kruisvaarders se Koninkryk van Jerusalem, gehandhaaf en tot 'n belangrike ekonomiese sentrum ontwikkel. Die stad het ook bekend gestaan vir sy verdraagsaamheid teenoor die plaaslike gemeenskappe van Jode, Moslems, Kathare en later ook Protestante. Daarnaas het die Via Domitia, een van die antieke Romeinse paaie in die suide van Frankryk, as deel van die pelgrimsroete na die Spaanse stad Santiago de Compostela gedien. Die kerk Notre-Dame-des-Tables in Montpellier was 'n belangrike stasie vir die destydse pelgrims, en die stad het ook ekonomiese voordeel uit die pelgrimstogte getrek.
Die skare pelgrims en die verdrywing van die More en Jode uit Spanje het tot die stigting van 'n aantal hospitale en ander instellings gelei. Willem VII van Montpellier het in 1180 die Fakulteit Geneeskunde gestig, wat deur pous Nikolaas IV erken is, en die universiteit, wat in 1220 ingewy is, het tot een van die hoofsentrums vir die opleiding van geneeshere ontwikkel.
As bruidskat van Marie van Montpellier, wat in 1213 met Pieter II van Aragón getrou het, het die stad 'n besitting van die Aragonse konings geword. Montpellier het in 1204 'n oktrooi gekry, waarmee Pieter en Marie die tradisionele vryhede van die stad erken het. Montpellier is ook die reg toegestaan om jaarliks twaalf regerende konsuls te kies.
Montpellier is deur die Aragonse kroon later aan koning Jakob III van Mallorca oorgedra, wat die stad in 1349 aan die Franse koning Filips VI verkoop het om die fondse vir sy voortdurende stryd teen Pieter IV van Aragón te kry. Montpellier was destyds die belangrikste stad in Frankryk na Parys. In die tweede helfte van die 14de eeu het egter sowat 'n derde van die bevolking aan epidemieë beswyk.
In die 14de eeu is 'n kerk opgerig, wat aan Sint Pieter gewy is, en danksy sy toenemende belangrikheid het Montpellier in 1536 ook 'n biskopstad geword, nadat die biskop van Maguelone sy setel na die buurstad Montpelliéret verskuif het, wat by Montpellier ingelyf is.
In 1481 het Montpellier sy rol as die leidende ekonomiese sentrum van die Franse Mediterreense kus aan Marseille afgestaan.
Baie van Montpellier se inwoners het in die tydperk van die reformasie die Protestantse geloof aangeneem, en die plaaslike Hugenote het van die stad 'n sentrum van die Protestantse weerstand teen die oorwegend Rooms-Katolieke Franse kroon gemaak. In 1622 is Montpellier agt maande lank deur die Franse koning Lodewyk XIII beleër en uiteindelik ingeneem. Hy het die sitadel van Montpellier laat oprig om die stad te oorheers. Onder die heerskappy van Lodewyk XIV het Montpellier die hoofstad van Neder-Languedoc (Frans: Bas-Languedoc) geword, en die nuwe politieke funksie is in argitektoniese opsig met die bou van die Promenade du Peyrou, die Esplanade en 'n groot aantal statige huise in die historiese sentrum beklemtoon. Ná die Franse Rewolusie het Montpellier die hoofstad van 'n kleiner gebied, die département Hérault, geword.
Tydens die 19de eeu het Montpellier tot 'n nywerheidsentrum ontwikkel, en sedert die sestigerjare van die 20ste eeu het die stad se vinnige demografiese groei begin. Aanvanklik het talle vlugtelinge uit Algerië, wat destyds sy onafhanklikheid van Frankryk verwerf het, hulle in die stad gevestig. In die 1980's en 1990's is 'n aantal herontwikkelingsprojekte soos die Corum en die Antigone-distrik aangepak.