Hydro-Québec
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Hydro-Québec is 'n staatsbeheerde maatskappy, wat die provinsie van Québec (Kanada) van elektrisiteit voorsien. Soos die naam al aandui, word krag in Québec veral deur hidroëlektriese kragsentrales opgewek.
Hydro-Québec is oorspronklik op 14 April 1944 deur die Eerste Minister Adélard Godbout gestig, toe 'n aantal elektrisiteitsvoorsieningsmaatskappye in die omgewing van Montréal gedeeltelik genasionaliseer is. Die huidige naam is eintlik 'n afkorting van die volledige naam van die maatskappy (Hidroëlektriese Kommissie van Québec). Télesphore-Damien Bouchard word die eerste voorsitter van Hydro-Québec.
Maurice Duplessis, wat later in die jaar 1944 nog eens Eerste Minister word, weier om met die nasionalisering van elektrisiteitsmaatskappye voort te gaan.
Tydens Québec se "Stille Rewolusie" word uiteindelik ook die oorblywende veertien privaat beheerde maatskappye deur die staat oorgeneem, en Hydro-Québec word tot sy huidige vorm uitgebrei.
Vanaf 1965 is Hydro-Québec die eerste maatskappy wat kraglyne van 735 kV gebruik om elektrisiteit oor groot afstande te kan versprei. Hierdie lyne maak tans 'n derde van Québec se lyne uit.
Die Eerste Minister Robert Bourassa (Liberale Party) gee in die sewentigerjare die aanleiding vir die oprigting van die Jamesbaai-projek, wat Québec nou van 'n aansienlike persentasie van sy kragbehoeftes voorsien.
Op 13 Maart 1989 lei geomagnetiese storms, wat deur die son veroorsaak is, tot 'n grootskaalse kragonderbreking. Die elektrisiteitsvoorsiening is na sowat nege ure se werk herstel.
In Januarie 1998 word die kraglyne van Québec tydens 'n erge ysreën beskadig. Dele van die Montréal-eiland kan tot ses dae lank nie van elektrisiteit voorsien word nie, terwyl die kragonderbreking in ander gebiede van die provinsie drie weke lank voortgaan.