Malmesbury
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Malmesbury is die vooruitstrewende hoofdorp van die Swartland-streek en -munisipaliteit, 66 km noordoos van Kaapstad en 50 km noordwes van die Paarl. Dit is geleë in 'n vrugbare landbougebied waar graan en druiwe die hoofgewasse is. Die inwonertal is in 2006 op 36 447 geskat. Die dorp is so eienaardig in die vallei van die Dieprivier geleë dat treine agteruit moet ry voor hulle verwissel kan word op die noordelike voortsetting van die spoorlyn. Die plaaslike of Malmesbury-aksent se belangrikste kenmerk is die gebreide 'r'. Generaal J.C. Smuts het sy lewe lank met dié aksent, wat hy as kind in die omgewing geleer het, gepraat.
[wysig] Geskiedenis
Jan van Riebeeck het die gebied kort na sy aankom aan die Kaap Het Zwarte Land of Groenkloof genoem. In 1745 is verlof aan 24 persone verleen om 'n NG Kerk hier te stig. Die dorp het in die 18de eeu uit 'n klein versameling huisies ontstaan, wat rondom 'n swaelchloor-fontein gebou is. 'n Ruk lank was die water in die mode en 'n klein sanatorium is hier gebou. Sir Lowry Cole, Britse goewerneur van die Kaap van 1829 tot 1834, het die spa in 1829 besoek en dit 'Malmesbury genoem na sy skoonpa, sir James Harris, die eerste Graaf van Malmesbury, wat sowat agt jaar vantevore oorlede is. Die fontein het mettertyd in onbruik geraak. Munisipale status is in 1896 verwerf.
[wysig] Bronnelys
- Scannell, J.P. (red.), Afrikaanse Kernensiklopedie, Nasionale Boekhandel Beperk, Kaapstad, 1965.
- Rosenthal, Eric (hoofred.), Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Frederick Warne & Co. Ltd., Londen en New York, 1972.
- Raper, P.E., Dictionary of South African Place Names, Lowry Publishers, Johannesburg, 1987.