Wikipedia:Rekenaarterme
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Hierdie blad is vir rekenaarterme. Hou verkieslik die bespreking daarvan op die besprekingsblad. Daar is baie terminologiepogings in Afrikaans en nie almal werk altyd saam nie. Party programvertalers is nie altyd bewus van taalkundige sake nie, en baie vertalers is nie altyd ingelig oor watter terme reeds bestaan en gebruik word op skole en universiteite nie. Konsekwentheid met terminologie in wiskunde, taalkunde en ingenieurswese is natuurlik ook baie belangrik. Die Afrikaanse Wikipedia kan dus nie eie rigting inslaan sonder om darem te kyk wat ander reeds gedoen het nie. Blindelingse navolging is egter ook nie altyd ideaal nie.
Die Tweetalige rekenaarwoordeboek, 1985, van Coetzee, Du Plooy en Cluver, word deur baie gerespekteer, maar dit is natuurlik al oud en baie hedendaagse terme kom nie daarin voor nie. Die nuwe Kuberwoordeboek (H.C. Viljoen hoofredakteur) het in 2007 verskyn en sal waarskynlik heelwat hulp gee. Dit bevat meer as 500 bladsye en het 'n Afrikaans-Engelse en Engels-Afrikaanse deel.
Baie programme (veral Vrye Sagteware en ander Oopbronsagteware) is al in Afrikaans vertaal. Die kwaliteit van die vertalings kan drasties wissel. Sommige is deur professionele vertalers gedoen en moeite is gedoen met kwaliteit. Ander is as 'n stokperdjie deur vrywilligers gedoen wat nie meer in die RSA woon nie, nie meer Afrikaans praat nie, nie betrokke is by plekke waar Afrikaans nog gebruik word nie, en nie eens weet hoe om "lêer" te spel nie. Daar is selfs projekte wat van outomatiese vertaling gebruik gemaak het, waarvan die Afrikaans gewoonweg onverstaanbaar is (tensy mens dit woord vir woord eers terugvertaal in Engels). Daar is dus reeds 'n klomp oulike idees vir terme, en enige standardisasiepoging moet ook kyk na wat ander reeds gedoen het, maar sorg moet gedra word.
Aangesien mense orals net Engels sien en hoor, vind party mense sommige Afrikaanse terme aanvanklik vreemd, terwyl dié wat daagliks by universiteite daarmee werk, gewoond is aan die terme wat hulle gebruik. Hierdie sal hopelik ook verbeter. In April 2006 het Microsoft 'n taalpak vir Zoeloe vrygestel, wat Windows (tot 'n mate?) in Zoeloe beskikbaar maak. Tswana is vir Mei 2006 belowe, en Afrikaans vir Junie 2006. Dit is nie duidelik of Microsoft die bestaande, professionele, vertaal- en terminologiekenners in die sagtewareveld gekontak of gebruik het nie. Hierdie behoort egter te help dat mense bewus word van die moontlikheid dat die wêreld dalk nie Engels is nie.
Inhoud |
[wysig] Wenke
In artikels oor vertaalde programme moet daar waarskynlik gepoog word om die terminologie van daardie projek te gebruik, indien sinvol en moontlik. Dit is sekerlik nie sinvol om swak vertalings net so oor te gebruik nie. Dit gesê, wie besluit of dit goed is?
Vir Wikipedia-artikels, indien dit nie 'n algemene term is nie ("netwerk" is darem seker algemeen), oorweeg om die Engelse woord in hakkies te gebruik waar die Afrikaanse term die eerste keer gebruik word.
Die AWS laat verskillende woordbou toe en hierdie kan ons kelder, veral met die maak van skakels. Iets soos "Linux Distribution" kan waarskynlik as "Linux-verspreiding", "Linuxverspreiding" , "Linux Verspreiding" (en dalk nog ander) geskryf word. Kom ons probeer te bly by koppelteken, vasaanmekaar met kleinletters tensy hoofletters noodwendig nodig is (die eerste voorbeeld). Dit is baie keer in elkgeval nodig om 'n koppelteken te gebruik ter wille van leesbaarheid as die naam/term effens taalvreemd is en dus nie so maklik lees as dit vasgeskryf is aan 'n Afrikaanse woord nie. Vir akronieme en afkortings is die koppelteken reeds nodig, en in sommige gevalle sal dit debateerbaar wees of iets nou 'n akroniem is of nie. Hierdie is wel net 'n voorstel, maar ons sal waarskynlik op een of ander skryfwyse moet standardiseer.
[wysig] Woordelys
Engels | Afrikaans | Kommentaar |
---|---|---|
assembler | kyk na konteks: is dit die taal, of die program wat met die taal werk? | |
assembler language / assembly language | saamsteltaal | |
assembler program (assembly program, assembler language compiler) | saamsteller, saamstelprogram, moontlik: saamsteltaalvertaler | |
bit | bis | |
bus | bus | |
byte | greep | |
central processing unit (CPU) | sentrale verwerkingseenheid (SVE) | |
client (soos in client/server) | kliënt | |
compiler | vertaler | |
default | verstek | |
desktop (workarea) | werkskerm, werkarea | |
desktop computer | lessenaarrekenaar | |
file | lêer | |
file manager | lêerbestuurder | |
FLOSS (Free/Libre and Open source software) | vrye en oopbronsagteware | (geen dubbelsinnigheid wat opgeklaar moet word in Afrikaans nie) |
Free Software | Vrye Sagteware | In Engels beteken Free beide Vry en Gratis. In Afrikaans (soos in Frans) is daar 'n duidelike onderskeid - Vrye sagteware verwys na vryheid en nie na koste nie. Sien ook "FLOSS". As gevolg van die verwaring word die term Libre Software (van die Franse "Logiciel Libre") ook in Engels gebruik wanneer na Vrye programmatuur verwys word eerder as gratis. Natuurlike kan Vrye Sagteware ook gratis wees... |
free software | gratis sagteware | as dit bloot daaroor gaan dat dit nie geld kos nie en as dit nié vrye sagteware is nie |
hardware | hardeware (sien bespreking onder) | |
input | toevoer | |
input/output (I/O) | toevoer/afvoer (T/A) | |
(operating system) kernel | (bedryfstelsel)kern | |
laptop | skootrekenaar | |
Linux distribution | Linux-verspreiding | AWS laat ander woordbou toe, maar kom ons bly hierby |
open source ... | oopbron... | (geen spasie) |
open source software | oopbronsagteware | |
output | afvoer | |
proprietary ... | moontlik: eiendom(s)... | (geen spasie) (gebaseer op Pharos) |
proprietary software | moontlik: eiendomsagteware | |
RAM (random access memory) | ewetoeganklike geheue (ETG) | |
read-only ... | leesalleen... | (geen spasie) |
read-only memory | leesalleengeheue | |
regular expression | reguliere uitdrukking | hier het Afrikaans juister terme as die Engels |
server | bediener | |
software | sagteware | sien bespreking onder |
spreadsheet | sigblad, ontledingstaat | Afrikaans is "geseën" met klomp terme :-/ |
word | woord | gewoonlik gebruik in geheueadresering |
tab | oortjie | soos dié van 'n telefoonboekie, deesdae algemeen in gebruik in programme soos Firefox, Konqueror, ens. |
[wysig] Oor "-ture" (programmatuur, apparatuur)
Aanvanklik is die woorde programmatuur en apparatuur gebruik vir sagteware en hardeware, maar probleme het ontstaan toe hierdie terme verder geneem word om soortgelyke Engelse woorde te vertaal. Wat doen 'n mens met die Engelse middleware en shareware? "Programmatuur" en "apparatuur" is pragtige Afrikaanse woorde, maar aangesien die manier van vertaling nie verder geneem is nie, verkies baie mense nou "sagteware" en "hardeware". Dit is ook baie naby aan die Engels wat nie net sleg is nie.