Wit See
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Wit See (Russies: Beloje More / Бе́лое мо́ре) is 'n binne-see van die Barentsz-see met 'n oppervlak van 90 000km2, aan die Noordwes kus van Rusland. Dit word omring deur die russiese Karelië republiek in die weste, en die oblasts (gebiede) Arkhangelsk in die suidooste en Murmansk in die noorde. Toegang van die Barentssee tot die Witsee word in die noorde tussen die Kola-skiereiland (wat deel uitmaak van Lapland), aan die weste kant en Kanin aan die ooste kant verkry.
Die see het drie groot baaie: die Kandalaksjabaai, die Onegabaai en die Dwinabaai. In die noordooste is 'n vierde baai: die Mezenbaai. Die Noordelike Dwina lewer meeste water aan die see. Die Mezen, wat in die uiterste noordooste van die see uitmond, is ook 'n groot waterbron. Die see lê grotendeels ten suide van die Poolsirkel, maar is tog vir die grootste deel van die jaar gevries.
Die belangrike hawe van Arkhangelsk is aan die Wit See geleë by die mond van die Noordelike Dwina. Vir groot dele van Rusland se geskiedenis was dit Rusland se hoofsentrum vir internasionale maritieme handel. In die moderne era het dit 'n belangrike Sowjet vloot- en duikbootbasis geword. Die stad Severodvinsk effens verder wes het 'n kernduikbootbasis. Kleiner stede en dorpe aan die see sluit in Kandalaksja, Kem en Onega. Op die rant van die Onegabaai lê die Solowetski-eilande.
Sedert 1933 verbind 'n 227 kilometer lang kanaal, die Wit See-Oossee Kanaal (Belomorsko-Baltijskij kanal), die see met die Onegameer en daarmee met die Oossee. Die kanaal is onder Stalin met dwangarbeid van Gulaggevangenes gebou. Dit is die langste kanaal in Europa.
Die hele Witsee val onder Russiese soewereiniteit (i.e. Word beskou as interne watergebied van Rusland).
[wysig] Eksterne skakels
- Nordic travel: Travel Russia. The White Sea
- Stranded seals face slow death BBC storie oor seeleeus wat in 2001 op witsee ys vasgekeer is.