Aigues-Mortes
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Aigues-Mortes is 'n stad en ou seehawe in Petite Camargue, naby Nîmes in Suid-Frankryk, wat deur koning Lodewyk IX as seehawe vir die kruistogte van die jare 1246 en 1270 gestig is.
Aigues-Mortes is met sy tipiese roosterpatroon van reguit strate wat mekaar kruis is 'n voortreflike voorbeeld van middeleeuse stadsbeplanning.
Danksy die koninklike bevordering van die handel beleef die stad 'n bloeitydperk, wat eers teen die middel van die 14de eeu tot 'n einde kom. Die stad is daarna grotendeels verlaat.
Die oorspronklike kruisvaarderstad is grotendeels bewaar en die huidige stad met sowat 6 000 inwoners (1999) is 'n gewilde toeristebestemming in die département Gard (région Languedoc-Roussillon). Aigues-Mortes lê nou sowat vier kilometer van die kuslyn af en word deur middel van 'n kanaal met die see verbind. Die belangrikste bronne van inkomste naas die toerisme is wynbou en soutontginning.
[wysig] Geskiedenis
Die Romeinse Gaius Marius berig van 'n nedersetting wat reeds in die jaar 102 v.C. bestaan. Die naam Ayga Mortas (Dooie Waters) word vir die eerste keer in die 10de eeu gebruik. Tot by die 16de eeu bly Aigues-Mortes 'n belangrike vervoersentrum van die Mediterreense Frankryk.