Andy Warhol
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Andy Warhol (6 Augustus 1928 — 22 Februarie 1987) was 'n Amerikaanse kunstenaar, avant-garde filmmaker, skrywer, en sosiale figuur. Warhol het ook gewerk as 'n tydskrifuitgewer, musiekprodusent en akteur. Met sy agtergrond in die kommersiële kuns was Warhol een van die stigters van die Popkuns-beweging in die Verenigde State in die 1950's.
Warhol is veral bekend vir sy eenvoudige groter as lewensgroot, kleurkontrasterende skilderye (syskermdrukwerke) van verbruikersitems, alledaagse voorwerpe soos Campbell se geblikte sop, papawerblomme en 'n piesang wat op die omslag van die musiekalbum The Velvet Underground and Nico (1967) verskyn het. Hy is ook bekend vir sy gestileerde portrette van twintigste eeuse ikone - soos Marilyn Monroe, Elvis Presley, Jacqueline Kennedy Onassis, en Elizabeth Taylor.
Inhoud |
[wysig] Begin
Hy word as Andrew Warhola in Pittsburgh (VSA) gebore en is van Slowaakse afkoms. Sy pa het in die steenkoolmyne in Pennsylvanië gewerk. Reeds vroeg in sy lewe blyk dit dat hy oor 'n besonderse tekentalent beskik. Hy bestudeer kommersiële kuns aan die "Carnegie Institute of Technology", wat tans bekend staan as die Carnegie-Mellon Universiteit, in Pittsburgh. In 1949, verhuis hy na New York Stad, waar hy 'n loopbaan begin in die reklame- en tydskrifwêreld. Hy word veral bekend vir sy inktekeninge van skoene gedoen in 'n los krapstyl.
[wysig] Massakuns
Baie van Warhol se werk gaan oor die konsep van Amerikana en Amerikaanse kultuur. In die 1960's begin hy met die maak van skilderye op groot skaal van bekende Amerikaanse produkte soos Campbell's-sopblikkies en Coca-Cola-bottels. Sodoende maak hy kuns van alledaagse massaprodukte en maak vervolgens van kuns self 'n massaproduk.
Vir hom verteenwoordig die voorwerpe Amerikaanse kulturele waardes. Coca-Cola verteenwoordig byvoorbeeld vir hom demokratiese gelykheid:
- "Wat puik is van ons land is dat Amerika die tradisie begin het waar die rykste verbruikers essensieel dieselfde items koop as die armstes. Jy kan televisie kyk en Coca-Cola sien, en jy weet dat die President Coke drink, Liz Taylor drink Coke, en dink daaraan jy kan ook Coke drink. 'n Coke is 'n Coke en geen bedrag geld kan vir jou 'n beter Coke laat kry as die een wat deur die boemelaar op die hoek gedrink word nie. Alle Cokes is dieselfde en alle Cokes is goed. Liz Taylor weet dit, die President weet dit, die boemelaar weet dit, en jy weet dit."
Hy het populêre beelde en metodes gebruik om die Amerikaanse kulturele identiteit van die 20ste eeu te visualiseer. Hierdie populêre herdefinisie van Amerikaanse kultuur is 'n tema en gevolg van Warhol se kuns. Aangesien Amerikaanse kultuur internasionale invloed het, het Warhol se kuns ook internasionale invloed.
Buite die kunswêreld is Warhol bekend vir die aanhaling, "In die toekoms sal almal bekend wees vir 15 minute." Hy het later aan joernaliste gesê, "My nuwe lyn is, 'In 15 minute, sal almal bekend wees.'"
[wysig] Die Fabriek
Warhol stig ook die sogenaamde Fabriek ("Factory") geleë by Union Square in New York. Dit was 'n ateljee waarin hy onder andere honderde (ondergrondse) films maak. Die "Factory" ontwikkel tot 'n ontmoetingsplek vir groot en klein kunstenaars. Die oorspronklike "Factory" is gevestig in 'n ou hoedefabriek. Na 'n aantal jare verskuif Andy Warhol sy aanhangers na 'n ruimte aan die oorkant van die straat. In hierdie tweede "Factory" was nie alleen 'n ateljee gevestig nie, maar ook die redaksie van die deur Warhol gestigte blad Interview Magazine. Hy word gedurende die tydperk besonder bekend weens sy syskermdrukwerk. Hy maak syskermdrukwerke van onder andere Elvis Presley. Hy ontdek die latere invloedryke rock-groep "The Velvet Underground". Hy gaan saam met hulle op toer.
[wysig] Sosiale vlinder
Warhol het gewoonlik gesosialiseer in Serendipity 3 en Studio 54, nagklubs in New York Stad. Hy is algemeen beskou as stil, skaam en as 'n uiters oplettende waarnemer. Meer as een persoon het grappenderwys na hom verwys as "death warmed over." Hy het egter ook 'n reputasie gehad vir 'n skerp tong en is as manipulerend beskryf. Warhol se uiteenlopende persoonlikhede het daartoe aanleiding gegee dat sy vriende hom die bynaam gee van Drella ('n kombinasie van Dracula en Cinderella).
Warhol het gereeld as vrywilliger uitgehelp by veilige huise vir haweloses in New York, veral gedurende die besiger tye van die jaar. Hy beskryf homself as 'n godsdienstige persoon, alhoewel hy nie deur die tradisionele godsdienstiges aanvaar word nie weens sy homoseksualiteit. Baie van sy latere werke bevat byna verskuilde godsdienstige temas of onderwerpe. Na sy dood is werke met godsdienstige temas tussen sy privaat dokumente gevind. Warhol het ook gedurende sy lewe gereeld die mis in die Rooms-Katolieke Kerk bygewoon.
In 1968 is Warhol in die bors geskiet deur Valerie Solanas. Solanas het vroeër 'n groep genaamd die "Society for Cutting Up Men" (S.C.U.M.) gestig en die manifes van S.C.U.M geskryf, 'n radikale feministiese werk wat sedertdien nogal 'n volgelingskap opgebou het, beide van diegene wat dit ernstig bejeën sowel as diegene wat dit snaaks vind. Tydens die voorval was Solanas die enigste lid van S.C.U.M. Sy is 'n dag na die aanval gearresteer en beweer toe, "Hy het te veel beheer oor my lewe." Warhol is ernstig verwond in die aanval en het die fisiese gevolge van die aanval vir die res van sy lewe ervaar aangesien hy 'n korset moes dra om hom te ondersteun. Die skietvoorval het 'n invloed op Warhol se lewe en kuns gehad en die aktiwiteite by die Factory het heelwat meer gekontroleerd geraak.
[wysig] Die 1970's
In vergelyking met die sukses en skandaal van Warhol se werk in die 1960's was die 1970's 'n baie stiller dekade. In hierdie dekade het Warhol egter meer van 'n entrepreneur geword. Volgens Bob Colacello, het Warhol baie van sy tyd bestee om nuwe ryk kliënte te werf vir portretkommissies insluitende Mick Jagger, Brigitte Bardot en Michael Jackson. Hy stig ook Interview Magazine en publiseer The Philosophy of Andy Warhol (1975). In hierdie boek stel hy sy idees oor die aard van kuns as volg: "Die maak van geld is kuns, en om te werk is kuns en goeie besigheid is die beste kuns."
[wysig] Die 1980's
Warhol het 'n herlewing van finansiële en kritiese sukses gehad in die 1980's. Deels was dit toe te skryf aan sy affiliasie en vriendskappe met 'n aantal produktiewe jonger kunstenaars wat die "bul mark" van '80's New York kuns gedomineer het soos: Julian Schnabel, David Salle en die sogenaamde Neo-Ekspressioniste, sowel as Francesco Clemente, Enzo Cucchi en lede van die Transavantguardia-beweging, wat invloedryk geword het. Van besonderse belang was Warhol se noue vriendskap met Jean-Michel Basquiat. Warhol het met Basquiat saamgewerk om 'n reeks werke te produseer.
[wysig] Dood
Warhol sterf in New York Stad tydens 'n roetine galblaasoperasie. Hy was 58 jaar oud. Warhol was bang vir hospitale en het nie graag dokters gaan besoek nie. Hy het dus nagelaat om die kroniese galblaasprobleme betyds te laat ondersoek.
Hy word begrawe in die St. John the Baptist Catholic Cemetery in Bethel Park, Pennsylvanië, suid van Pittsburgh. Mede kunstenaar Yoko Ono was onder die sprekers tydens sy begrafnisdiens.
Warhol het soveel besittings gehad dat dit Sotheby afslaers nege dae geneem het om sy eiendom te verkoop na sy dood. Die vendusie het 'n totale inkomste van oor die VSA $20 miljoen gegenereer.