Ankoù
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Ankoù (Bretons: An Ankoù) is volgens die Bretonse legendes die spook, wat as die verpersoonliking en helper van die Dood optree om die siele van oorledenes òf na die "Eilande van die Gelukkiges", 'n paradysagtige wêreld anderkant die horison, òf na die "koue hel" van verlate valleie en woude neem. Hy word ook as 'n wagter beskou wat die begraafplase teen ongewenste indringers beskerm.
'n Tipiese uitbeelding van Ankoù is dié van 'n swartgeklede, gesiglose wese wat met 'n sens bewapen is en 'n ou perdewa as sy vervoermiddel gebruik. 'n Mens, wat Ankoù teenkom of die geraas van sy wa hoor, sal volgens die legendes binne 'n kort tydperk sterf.
In teenstelling met die gebruiklike uitbeeldings van die dood as 'n geraamte, is Ankoù 'n wese van vleis en bloed. Die legendes beweer selfs dat die laaste oorledene van die lopende jaar die Ankoù van die volgende gaan wees.
Die Ankoù van Bretagne het sy Ierse eweknie in Dullahan, wat sekere karaktertrekke deel. Albei het hulle oorsprong in ou Keltiese legendes.