Beyers Naudé
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Christiaan Frederik Beyers Naudé, algemeen bekend as Beyers Naudé (of ook "oom Bey") was 'n Afrikaner-dominee, en 'n prominente anti-apartheidsrolspeler. Alhoewel hy aanvanklik apartheid verdedig het, het hy later sy sienings verander en het hy sy oortuigings daarteen publiek gemaak. Nadat hy in apartheid-jare deur sommige as verraaier gesien is, is hy uiteindelik vereer as stryder teen apartheid, met onder andere 'n straat en 'n plein wat na hom vernoem is. Die Vryheid van Johannesburg is ook aan hom toegeken.
[wysig] Lewensverloop
Beyers Naudé is gebore te Roodepoort, Suid-Afrika, op 10 Mei 1915. Hy was een van agt kinders van Jozua Francois Naudé en Ada Naudé. Sy pa was 'n predikant van die NG Kerk en 'n stigterslid van die Afrikaner-Broederbond.
Hy matrikuleer te Graaff-Reinet in die Karoo. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal 'n MA-graad in tale. Hy behaal ook 'n graad aan die Skool vir Teologie in 1939.
In 1940 word hy as lid van die Afrikaner-Broederbond toegelaat -- die jongste lid van sy tyd in hierdie organisasie. Vir 20 jaar volg hy die loopbaan van predikant in die NG Kerk en is landswyd by gemeentes in die bediening. In 1961 word hy aangewys as moderator van die Suid-Transvaal Streeksinode. Soos ander, is hy self daardeur verras, !!daar hy reeds wyd kritiek ontlok!! vir sy standpunt teen die apartheidsbeweging onder die Nasionale Party.
As gevolg van toenemende druk en kritiek weens sy anti-apartheidsuitsprake en standpunt wat op Bybelse gronde en Christenskap berus, bedank hy uit die bediening (gemeente Aasvoëlkop in Northcliff, Johannesburg) in Oktober 1963. Gedurende die jare 1977 tot 1984 raak hy betrokke by ondergrondse weerstand teen apartheid. In 1980, is hy toegelaat tot die NG Kerk in Afrika, sendingkerk (vir swartmense) van die NG Kerk.
Na die totstandkoming van die demokratiese bestel in Suid-Afrika in 1994, word Beyers Naudé wêreldwyd gehuldig vir sy rolvervulling in die anti-apartheidsbeweging en ontbinding van die voormalige Suid-Afrikaanse politieke bestel. Hy was nooit lid van die ANC nie.
Sy gesondheid gaan sedert 1999 agteruit en hy verswak dermate dat sy bondgenoot, Nelson Mandela, hom in 'n rystoel moet rondstoot tydens 'n plegtigheid in Augustus 2004. Beyers Naudé kom te sterwe op 7 September 2004, in 'n aftree-oord te Northcliff, Johannesburg.
[wysig] Bronne
- Opgesom uit Huldeblyk op 7 September 2004, gelewer deur die South African Broadcasting Corporation Copyright 2000-2003 SABC
- Persvrystelling van sy dood by joburg.org.za