Chrétien de Troyes
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Chrétien de Troyes (omtrent 1135-1190) is die belangrikste middeleeuse digter in Frankryk en skepper van die hoofse ridderroman. Hy staan egter veral bekend as die skepper van die Graal-tematiek, wat tot een van die mees gewilde onderwerpe in die middeleeuse letterkunde word.
As seun van 'n arm riddergesin bly hy in sy jeug aan die hof van die Grawe van Vlaandere. Hy staan vroeg bekend vir sy uitstekende digkuns, en Grawin Marie nooi hom om aan die hof van die Champagne te bly wat toe die literêre sentrum van Europa is.
Chrétien skryf talle romans oor die figure uit die Artuslegende en prys steeds die ideale van die hoofse beskawing en opleiding en die ridderlike deugde. In sy hoofse romans verskyn die getroude edelvrou naas die selfstandige en eiesinnige dame. Sy bekendste werke is "Erec en Enide" (1165) wat as die eerste Franse roman beskou word, Cligès (1165-1170), Lancelot (1170), Yvain (1175) en die onvoltooide Parsival (Perceval of Le Conte du Graal, "Die Storie van die Heilige Graal", tussen 1180/1182 en 1190). Chrétien de Troyes se romans beïnvloed die hoofse lewe van sy tyd en ook die letterkunde van Engeland en Duitsland baie sterk, en begrippe soos chevalier (ridder) en tafelronde staan danksy die digkuns van Chrétien algemeen bekend.
[wysig] Werke
- Érec et Énide, omtrent 1165~1170
- Guillaume d'Angleterre (Willem van Engeland), omtrent 1175
- Cligès, omtrent 1165~1170
- Le Chevalier de la Charrette, Roman de Lancelot, omtrent 1170~1181
- Le Chevalier au Lion, Roman d'Yvain, omtrent 1175~1181
- Le Conte du Graal (Die Verhaal van die Heilige Graal) of Roman de Perceval (Roman van Parsival), onvoltooi, omtrent 1180~1190