Darling, Wes-Kaap
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Darling is 'n klein dorpie in die Weskus gebied van die Wes-Kaapt, omtrent 75km van Kaapstad.
Teen die begin van die 18de eeu het omtrent 29 boere in 'n gebied genaamd Groenkloof geboer. Darling is in 1853 op een van die plase, Langfontein, gestig. Dit is vernoem na Sir Charles Henry Darling wat in 1851 na die kaap gekom het as Luitenant Goewerneur.
Die Darlingmuseum stel die geskiedenis van die dorp en die Darling roomhuis, wat in 1899 deur twee Sweedse setlaars, Nils Georg Moller en G. Threnstrom, gevestig is en in 1950 gesluit is, ten toon. Darling is beroemd vir veldblomme en sedert 1917 word die Darling Veldblomskou elke jaar deur die Darling Veldblomvereniging, wat in 1915 deur Mev. Suzanne Malan en Mr. Frederick Duckitt van Waylands gestig is, gehou. [1]. Landbou in die gebied is gefokus op graanproduksie, druiwe, aartappels, ertjies en suiwelboerdery. Die eerste Merinoskape in Suid-Afrika is ook hier aangehou nadat 'n verskepingsfout hulle hier afgelewer het. Wolproduksie in Suid-Afrika vind sy oorsprong in die Darlingomegewing.
Die Suid-Afrikaanse satiris Pieter Dirk Uys voer baie van sy vertonings as Evita Bezuidenhout by Evita se Perron, 'n kabaretteater en restaurant in Darling, op. Die kunsmark daarnaas is in 2006 deur die Darling Trust, 'n liefdadigheidsorganisasie wat die probleme van verarmde gemeenskappe in die omgewing aanspreek, oorgeneem.
Die Hildebrand monument is in Darling opgerig ter ere van Veldkornet C.P. Hildebrand van die Boere magte se Maritz Kommando. Darling was die mees suidelike dorp waartoe 'n Boere kommando deurgedring het tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899 - 1902).
Die gerestoureerde Victoriaanse huise en boomryke strate maak Darling 'n gewilde naweekoord vir inwoners van Kaapstad en omgewing.