Digital Radio Mondiale
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Digital Radio Mondiale (DRM) (Frans: "Wêreldwye Digitale Radio") is die nuwe internasionale uitsaai-standaard vir frekwensies benede 30 MHz. Dit sal geleidelik analoë radiouitsendings in die langgolf-, mediumgolf- en kortgolfstandaard vervang. DRM behels naas radiodienste ook datadienste en amateurradio. Die nuut ontwikkelde DRM+ is 'n standaard wat ook vir frekwensises bo 30 MHz geskik is (insluitende FM-radio).
[wysig] Geskiedenis
Die DRM-projek is in September 1996 tydens 'n informele byeenkoms van 'n aantal groot internasionale uitsaaikorporasies in die Franse hoofstad Parys in die lewe geroep. Die oorspronklike groep korporasies sluit Radio France Internationale, TéléDiffusion de France, Deutsche Welle, Voice of America en Thomcast (nou Thales) in.
Die DRM-organisasie is formeel op 5 Maart 1998 in Guangzhou (Volksrepubliek van Sjina) gestig. DRM word in 2006 reeds deur sommige internasionale uitsaaidienste gebruik of getoets.
[wysig] Voordele
DRM gebruik gevorderde oudiokodeks met 'n hoë kompressie, wat MPEG-4 met tegniese verbeterings soos AAC en SBR as basis het. Danksy hierdie tegnologie kan ondanks die lae bandbreedte 'n taamlik goeie klankkwaliteit bereik word. Dit is dus geskik as 'n langafstand-tegnologie vir kortgolfradio in mono-kwaliteit en stereo-mediumgolfradio.
DRM maak dit ook moontlik dat een enkele radiostasie radioprogramme vir 'n hele groep lande of 'n hele vasteland kan uitsaai, wat terselfdertyd ook verbeterde klankkwaliteit het.