Duiwelspiek
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Duiwelspiek is deel van die berge in Kaapstad, Suid-Afrika. Wanneer jy Suidwaarts na die berg kyk vanaf die hawe, of na 'n standaard poskaartfoto van die berg, lê die berge as volg van links na regs (oos na wes): Die spitspunt van Duiwelspiek, die plat tafelkop van Tafelberg, die koepel van Leeukop en dan Seinheuwel.
Die oorspronklike Kaapstad-nedersetting (wat deesdae die stadskern, of "City Bowl" is) lê in die natuurlike amfiteater wat deur hierdie kenmerke gevorm word.
Duiwelspiek, soos die res van hierdie, is gevorm vanuit Tafelberg Sandsteen. Onder dit lê graniet en skalie, maar jy sal nie een van hierdie op Duiwelspiek se hange vind nie.
Duiwelspiek staan 1000 meter (3821 voet) hoog, minder as Tafelberg se 1087 meter. 'n Mens kan na die spits stap, maar die klim is mooier en veiliger buite die koue, nat en gladde wintermaande van Mei tot Augustus. Die plantegroei op die hange is tipiese Kaapse fynbos.
Aan die suidekant van Duiwelspiek vind mens Rhodes Memorial, 'n aandenking aan Cecil Rhodes, asook die Universiteit van Kaapstad wat oor die Suidelike Voorstede van Kaapstad uitkyk: bo-oor die Kaapse Vlakte na Stellenbosch, Somerset-Wes en die Hottentots-Hollandberge in die verte.
Duiwelspiek se naam kom vanuit 'n volksverhaal oor 'n Hollandse man genaamd Jan van Hunks, wat 'n berugte pyproker was en aan die voet van die berg geleef het rondom 1700. Hy is deur sy vrou verplig om die huis te verlaat wanneer hy sy pyp wou rook. Een dag, terwyl hy sy pyp teen die hange gerook het, het hy 'n vreemdeling ontmoet wat ook gerook het. Die twee het begin spog oor hoeveel elkeen rook, en vinnig het dit verval in 'n pyprook-kompetisie. Om 'n lang storie kort te maak, het dit later uitgedraai dat die vreemdeling die duiwel was, en dat Van Hunks uiteindelik gewen het, maar nie voordat die rook wat hulle gemaak het die hele berg bedek het met die "tafeldoek"-wolk nie.