Georges de Villebois-Mareuil
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Georges de Villebois-Mareuil (* 1847 in Nantes, Frankryk, † 1900 in Boshof, Suid-Afrika) was 'n Franse militêre leier en skrywer uit 'n adellike gesin.
Tydens die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1871 is hy die kommandant van 'n kompanjie voetsoldate, wat op 28 Januarie 1871 die brug van Blois vanaf die Pruise herower. De Villebois-Mareuil raak by die aanval swaar gewond. As 'n nasionalis neem hy ondanks sy skitterende loopbaan afskeid van die Franse leër.
Aangewakker deur sy anti-Britse gevoelens, sluit hy later by die Boere-strydmag van Transvaal aan en kommandeer die vreemdelegioen, wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog teen die Britte veg. In Maart 1900 word hy deur President Paul Kruger tot generaal benoem. In April 1900 is die klein kommando onder sy bevel deur Britse troepe, wat deur 'n verraaier gewaarsku is, omsingel en uitgewis.
In sy optekeninge, wat in Maart 1900 voltooi is, bewonder hy die Boere se vurigheid en dapperheid, maar beskryf ook die anargie en die argwanende en ongedissiplineerde individualisme, wat tot onnodige verliese gelei het. Hy is 'n onsydige waarnemer en verslaggewer, en sy nugtere en presiese skryfstyl verontagsaam nie die poësie van die skepsels en landskappe wat hy ontdek nie.
Sy stoflike oorskot is na die begraafplaas van Boshof gebring, waar hy met volle militêre eerbewys van die Britse troepe ter ruste gelê is, en in 1971 op die militêre begraafplaas van Magersfontein begrawe.