Louis Washkansky
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Louis Washkansky (1913 – 21 Desember 1967) ondergaan die wêreld se eerste menslike hartoorplanting.
Washkansky was 'n Lithuaniese Jood wat in 1922, toe hy nege was, saam met sy familie na Suid-Afrika geimmigreer het. Hy was 'n groentehandelaar in Kaapstad. Washkansky het diens gedoen gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Oos- en Noord-Afrika sowel as Italië. Na die oorlog trou hy met sy vrou Ann.
Washkansky was 'n geesdriftige sportsman. Hy het deelgeneem aan sokker, swem en gewigoptel. Later in sy lewe het sy gesondheid agteruitgegaan. Hy was 'n diabeet en het aan ernstige hartversaking begin ly. Hy het drie hartaanvalle gehad.
Washkansky ondergaan 'n hartoorplanting op 3 Desember 1967, aan die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Die skenker was Denise Darvall, wat in 'n motorongeluk dood is. Die hartoorplanting is onderneem deur dr Chris Barnard en sy hartspan. Die operasie was 'n sukses maar Washkansky het 'n verswakte imuniteitsisteem gehad en sterf aan dubbele longonsteking agtien dae na die oorplanting.