Uys Krige
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Mattheus Uys Krige (Bonteboskloof, Kaapprovinsie, 4 Februarie 1910 - Hermanus, Kaapprovinsie, 10 Augustus 1987) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer, digter, toneelskrywer, vertaler, rugbyspeler en oorlogskorrespondent.
Hy het onderrig ontvang by die Universiteit van Stellenbosch en daarna van 1931 tot 1935 in Frankryk en Spanje gaan woon, waar hy beide Frans en Spaans vlot leer praat het. Krige het ook rugby gespeel vir 'n rugbyklub in Toulon, in die Suide van Frankryk.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1935 het hy sy loopbaan as joernalis begin met as verslaggewer vir die Rand Daily Mail.
Krige het ook deelgeneem aan die Spaanse burgeroorlog van 1936 tot 1939 en het aan die Republikeine geveg.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy 'n oorlogskorrespondent vir die die Suid-Afrikaanse weermag in Noord-Afrika. Hy was in 1941 gevangene geneem en na Italië gestuur waar hy twee jaar in 'n krygsgevangeskamp deurgebring het. Hy het egter in September 1943 ontsnap en na Suid-Afrika teruggekeer in 1946.
As 'n skrywer en digter was Krige uiters veelsydig - sy werke sluit in romans, kortverhale, gedigte en toneelstukke in beide Afrikaans en Engels. Krige word ook getel onder die sogenaamde "Dertigers", 'n term wat gebruik word om na skrywers uit die dertigerjare te verwys. Hy het die Penguin Book of South African Verse (1968) in medewerking met Jack Cope saamgestel.
Krige het vele werke deur William Shakespeare in Afrikaans vertaal, asook werke deur Federico García Lorca, Pablo Neruda en Lope de Vega, van die oorspronklike Spaans en werke deur Baudelaire, François Villon en Paul Éluard van die oorpronklik Frans.
Sy broer was die skilder en tekenaar François Krige. Hulle gesamentlike reise deur Spanje is vasgelê in Uys se boek Sol y Sombra, waarvoor François die illustrasies voorsien het.