Calgary
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Calgary (Gaelies: "Klaar Water") is die grootste stad in die provinsie Alberta en die vierde grootste in Kanada met 1 060 300 inwoners in die metropolitaanse gebied (2004).
Calgary lê in die suide van Alberta, sowat 80 kilometer oos van die voorgebergtes van die Kanadese Rotsgebergte, en maak deel uit van die dig bevolkte "Edmonton-Calgary-korridor". Die stad staan vandag bekend as 'n sentrum vir wintersport en ekotoerisme. Sy ekonomiese basis is die olienywerheid, terwyl ook die landbou, toerisme en hoëtegnologie-produkte 'n belangrike bydrae tot die vinnige ekonomiese groei van die stad lewer.
[wysig] Geskiedenis
In 1875 rig die Northwest Mounted Police 'n tentkamp by die samevloeiing van die Bow- en Elbowrivier op, om die weg te baan vir nuwe setlaars in die gebied en onwettige drankhandel met die Eerste Nasies te voorkom. Die kamp word as die bakermat van Calgary beskou, en met die bou van 'n spoorwegverbinding begin die vinnige groei van die plattelandse nedersetting, wat aanvanklik veral op die landbou, veeteelt en slagpale steun.
Die groei versnel in 1914 met die ontdekking van die olievelde in die Turnervallei aan die westelike kant van Calgary. Danksy 'n skerp styging van die olieprys teen die einde van die sewentigerjare verander Calgary se binnestad tot 'n moderne wolkekrabbermetropool.
Calgary is in 1988 gasheerstad van die Olimpiese Winterspele. Een van die bekendste bakens van die stad, die Saddledome-stadion met sowat 20 000 sitplekke, is vir die spele opgerig.
Die inwoners van Calgary herdenk nog elke jaar hul beskeie verlede as 'n plattelandse cowtown. Die Calgary Stampede, wat in Julie plaasvind, word tien dae lank met rodeo's, straatoptogte en danspartye gevier.