Alberta
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Alberta is 'n provinsie in die weste van Kanada met 'n oppervlakte van 661 190 km³. Sy hoofstad is Edmonton, sy grootste stad en ekonomiese sentrum Calgary. Ander groot stede en dorpe in die provinsie is Banff, Camrose, Fort McMurray, Grande Prairie, Lethbridge, Lloydminster, Medicine Hat, en Red Deer.
Inhoud |
[wysig] Demografie
Alberta het 3 183 312 inwoners (2004), waarvan 81% in stedelike gebiede woon en 19% op die platteland, en 'n bevolkingsdigtheid van 4 mense per vierkante kilometer. Sowat twee persent van die bevolking is Franstalig. 70 000 mense behoort tot die Eerste Nasies, veral Cree en Siksika. Daar is groot Chinese en Oos-Indiese gemeenskappe in die provinsie. Die vinnige bevolkingsgroei van die provinsie is te danke aan die groot aantal immigrante.
Die Bonnie Doon-gebied van Edmonton is die sentrum van die Franko-Albertaners, terwyl enkele tienduisend in die noordelike stede Bonnyville, Plamondon en St. Paul woon.
L’Unithéâtre in Edmonton en die Société de Théâtre is oorwegend Franstalige toneelgeselkappe, en daar is 'n aantal groepe wat die tradisionele volksdanse gereeld in die provinsie opvoer. Die Centre d’arts visuels de l’Alberta is 'n instelling vir Frankofone kunstenaars in Alberta. Die jaarlikse Franko-Albertaanse Fees is die hoogtepunt van die kulturele lewe.
Bekende Franko-Albertaners sluit Vader Albert Lacombe, Crystal Plamondon, wat as Kanada se "Cajun Koningin" bekend staan, Les Bûcherons, 'n duo wat die Franko-Kanadese musiek en dans vir gehore dwarsoor die provinsie aanbied, en die politikus Denis Ducharme in.
[wysig] Klimaat
Die noordelike deel is baie kouer dan die suidelike gebiede van Alberta, waar die somers deur droë en byna woestynagtige weerstoestande met hoë temperature gekenmerk word. Die weste van die provinsie word deur die berge beskerm, en warme winde - die sogenaamde chinooks - sorg vir 'n baie mild klimaat, terwyl die grasvlaktes in die ooste 'n kontinentale klimaat met uiterstes tussen -35°C in die winter en +35°C in die somer het. Die sentrale en suidelike gebiede van Alberta maak deel uit van die Noord-Amerikaanse tornadosone; kwaai somerhitte en swaar reënstorms tree gereeld in die oostelike deel op.
[wysig] Ekonomie
Die provinsie Alberta is die grootste produsent van ru-olie, sintetiese ru-olie, natuurlike gas en gasprodukte in Kanada. Twee van die grootste petrochemiese aanlegte in Noord-Amerika lê in Sentraal-Alberta. Die vervaardigers van polietileen en viniel in Red Deer en Edmonton lewer produkte van wêreldgehalte vir die uitvoermark, terwyl Edmonton se olieraffinaderye die grondstowwe vir die groot petrochemiese nywerheid oos van die stad voorsien.
[wysig] Land- en bosbou
Die landbou lewer 'n aansienlike bydrae tot die provinsie se ekonomie. Met meer as vyf miljoen beeste produseer Alberta amper die helfte van Kanada se beesvleis en voer ook na ander lande uit. Die ander ruggraat van die kommersiële veeteelt is skaapvleis en -wol. Daarbenewens is Alberta 'n belangrike verskaffer van buffelvleis.
Lentekoring en canola is die vernaamste landbougewasse; bye speel, afgesien van die tradisionele heuningproduksie, 'n onmisbare rol in die bestuiwing van hibriede canola-kultivare.
Die bosbou in die noordelike deel van Alberta steun op die plaaslike sagtehoutbosse, wat groot hoeveelhoede timmer- en laaghout oplewer. Die papier-en-pulp-bedryf van Alberta is 'n belangrike uitvoerder van onder meer koerantpapier op die Noord-Amerikaanse en Pasifiese markte.