Cornelis van Quaelberg
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Cornelis van Quaelberg (ook van Quaelbergen of van Quaalberg) ( - 3 Februarie 1687, Batavië[1]) was die derde kommandeur aan die Kaap die Goeie Hoop en het Zacharias Wagenaer op 27 September 1666 opgevolg.
Hy het op 25 Augustus 1666 in die Kaap aangeland.
Tydens Van Quaelberg se ampstermyn is hy ingelig dat die Franse beplan het om 'n fort by Saldanhabaai op te rig. Van Quaelberg het vier soldate onder bevel van Sersant W. Wiederholt oorland na Saldanhabaai gestuur, maar die Franse skip, Saumacque het voor die Nederlanders daar aangekom. Die Franse het 'n vlagpaal met 'n loodplaat opgerig by die grootste watergat om aan te dui dat die terrein onder Franse bestuur geval het. Die loodplaat het 'n inskripsie met die wapenskild van Louis XVI en die naam van De Montdevergue gedra. Kort na die Nederlanders se aankoms het die Franse vertrek met 'n vrag voëleiers en seevoëls. Anthonij Bosman het op 7 Julie 1668 verslag gedoen dat hy die paal uitgekap en verbrand het.[2]
Kommandeur van Quaelbergen is in 1668 uit die VOC se diens ontslaan nadat hy die Franse admiraal en onderkoning, De Montdeverque, en sy vloot, in die Kaap ontvang en onthaal het. Die vloot was erg beskadig as gevolg van gevegte teen die Engelse en hy het hulle toegelaat om hul skepe met voorraad uit die Kompanjie se store te herstel.[3] Dit het die VOC tot kommer gestrek omdat die Franse Oos-Indiese Kompanjie onder Colbert 'n belangrike konkurrent kon word. Van Qualenbergen het die Franse skepe oënskynlik beter behandel as die van die VOC.[4]
Van Quaelbergen is later weer deur die VOC in diens geneem en het van 1680 tot 1684 gedien as Goewerneur-generaal van Malakka.
Van Quaelbergen is in 1672 met Henriette Chastelain getroud en is op 3 Februarie 1687 in Batavia oorlede.[1][3]
Vooraf gegaan deur: Zacharias Wagenaer |
Kommandeur van die Kaap de Goede Hoop 27 September 1666 – 18 Junie 1668 |
Opgevolg deur: Jacob Borghorst |
[wysig] Verwysings en Bronne
- ↑ 1,0 1,1 Daghregister van't Casteel Batavia van het jaar 1687, Afgelaai op 2 Maart 2007
- ↑ Route 27, Early Activity on the Langebaan Lagoon, Besoek op 3 Maart 2007
- ↑ 3,0 3,1 Louis Engelbrecht Cornelis van Quaelberg 1666-1668, Besoek op 2 Maart 2007
- ↑ Jo and Judy Vorster Johannes Praetorius, Besoek op 2 Maart 2007
- Hymen W.J. Picard: Masters of the Castle