Frankryk
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Franse Republiek (Frans: République française) is 'n sentralistiese, demokratiese land in Wes-Europa, begrens deur België, Luxemburg, Duitsland, Switserland, Italië, Monaco, Andorra, en Spanje.
Dit is 'n stigingslid en volgens sy oppervlak tans die grootste land van die Europese Unie.
Naas die metropolitaanse (Europese) gebied van Frankryk is daar oorsese gebiede in die Karibiese See (onder meer 'n gedeelte van die eiland Saint-Martin), Suid-Amerika (Frans-Guyana), Noord-Amerika (Saint-Pierre et Miquelon), in die Indiese Oseaan en in Oseanië.
Die naam Frankryk is afgelei van die Germaanse volk van die Franke, wat die gebied na die einde van die Romeinse Ryk verower.
Die land, wat meer as dubbel so groot is soos die Verenigde Koninkryk, beleef na die Tweede Wêreldoorlog 'n vinnige groei van sy stedelike gebiede. Desondanks is die grootste deel van die land plattelandse gebiede, en die landbousektor speel tradisioneel 'n baie belangrike rol in die binnelandse politiek van Frankryk.
Die land se lang en ryk geskiedenis bly lewendig in sy Romeinse ruïnes, middeleeuse katedrale en stede. Die erfenis van die tydperk voor die Franse Rewolusie van 1789 sluit talle 18de eeuse kastele (châteaux) in. Die land is met jaarliks meer as 75 miljoen besoekers die belangrikste toeristebestemming ter wêreld.
|
|||||
Nasionale leuse : Liberté, Égalité, Fraternité | |||||
Amptelike taal | Frans | ||||
Hoofstad | Parys 48° 49' N, 2° 29' O |
||||
Grootste stad | Parys | ||||
Regering - President - Eerste Minister |
Republiek Jacques Chirac Dominique de Villepin |
||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
Gelys 40ste 675 417 1 vk km 0,26% |
||||
Bevolking - Totaal (2005) - Digtheid |
Gelys 20ste 63 213 894 2 inw. 93,59 inw./vk km |
||||
Onafhanklikheid - Van die Romeinse Ryk - Verdrag van Verdun |
486 843 |
||||
Nasionaliteit in Frans m/v | Français, française | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2005 1 816 miljard VSA-$3 29 900 VSA-$4 |
||||
MOI | 0,938 (2003) - hoog5 | ||||
Geldeenheid | Euro (EUR ) |
||||
Tydsone | UTC +1 (somertyd +2) | ||||
Volkslied | La Marseillaise MP3 | ||||
Internet-domein | .fr | ||||
Skakelkode | +33 |
||||
1 waarvan 547 030 in die metropolitaanse Frankryk 2 waarvan 60 656 178 in die metropolitaanse Frankryk 3 Geranglys 7de 4 Geranglys 24ste 5 Geranglys 16de |
Inhoud |
[wysig] Geografie
Hoofartikel: Geografie van Frankryk
Terwyl die grootste deel van Frankryk se staatsgebied in Wes-Europa lê, is daar wyd verspreide Franse gebiede en besittings in Noord-Amerika, die Karibiese See, Suid-Amerika, die westelike en suidelike Indiese Oseaan, die noordelike en suidelike Stille Oseaan en Antarktika.
Wanneer daar na die Europese gebied van Frankryk verwys word (insluitend Korsika), word dikwels die term die metropolitaanse Frankryk gebruik (afgelei van Frans la France métropolitaine, of net la Métropole), in teenstelling met die oorsese départements en gebiede, wat as die oorsese Frankryk (la France d'outre-mer, of kort les DOM-TOM, 'n afkorting van die Franse départements d'outre-mer - territoires d'outre-mer) bekend staan.
Die metropolitaanse Frankryk, wat danksy sy vorm dikwels ook l'Hexagone (die heksagoon) genoem word, het 'n oppervlak van meer as 'n halfmiljoen vierkante kilometer, wat in die noorde en weste deur kusvlaktes en heuwels gekenmerk word. Meer as die helfte van die oppervlak lê minder as 250 meter bo seevlak. Die res van die land is bergagtig, met die Sentraalmassief (Massif Central) in die suidelike middel van die land, die Pireneë in die suidweste en die Alpe in die suidooste. Frankryk se hoogste berg, die Mont Blanc, is tegelykertyd ook die hoogste in Europa met 4 808 meter. Die Bretonse Massief sluit 'n gedeelte van Normandië in en strek in suidwaartse rigting tot by La Rochelle. Ander berggebiede is die Vogese-bergreeks in Elsas en die Franse gedeelte van die Ardenne.
Die Sentraalmassief, wat sowat 'n sesde van Frankryk se landoppervlakte tussen die Rhône-Saônevallei en die Akwitaanse bekken beslaan, is deur vulkaniese aktiwiteite sowat tien tot dertig miljoen jare gelede gevorm. Die hoogste bergspitse is die Puy de Sancy (1 886 meter) en die Plomb du Cantal (1 858 meter). Die oorheersende kalksteen maak die Sentraalmassief minder geskik vir landbouaktiwiteite.
Tussen die berggebiede lê uitgestrekte rivierbekkens soos dié van die Loire-, Rhône-, Garonne- en Seineriviere. Die groot riviere is deur kanale met mekaar verbind.
Korsika, die grootste Franse eiland in die Middellandse See met 'n oppervlak van 8 680 vierkante kilometer, word veral deur bergagtige landskapsvorme met gereelde sneeuval in die winter gekenmerk. Meer as veertig bergspitse bereik hoogtes van meer as 2 000 meter. Net sowat 'n kwart van die eiland is geskik om as weivelde vir skape en bokke te dien. Naas die bebosde gebiede, wat ook 'n kwart van Korsika se oppervlak beslaan, is daar net sowat twee persent landbougebiede in die valleie, langs die kus en op geterrasseerde berghange.
Frankryk het met uitsondering van die noordooste slegs natuurlike grense, waarvan die helfte deur die Ryn, die Alpe en die Pireneë gevorm word. Die ander helfte van die land se sowat 5 500 kilometer lange grenslyn word deur die kuste van die Atlantiese Oseaan en die Middellandse See gevorm.
Danksy die oorsese départements en gebiede, wat wêreldwyd verspreid is, beskik Frankryk oor die tweede grootste Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EES) na dié van die Verenigde State, met 'n totale oppervlak van 11 035 000 vierkante kilometer.
[wysig] Klimaat
Daar is rofweg vier klimaatsones in die metropolitaanse Frankryk:
- Die gebied wes van die lyn Bayonne-Lille het 'n vogtige kusklimaat met dikwels frisse somers.
- In die Elsas, in Lotaringe, langs die Rhônevallei en in die bergagtige streke van die land (Alpe, Pireneë en Sentraalmassief) is die klimaat al halfkontinentaal met koue winters en warm somers.
- Die noordelike deel van die land, Parys en sy omgewing en die sentrum van die land is in klimatiese opsig oorgangsgebiede met koue winters en warm somers. Die gebied kry die hele jaar deur reën. Wingerde, wat teen die suidelike hange lê, lewer in hierdie noordelike gebiede wyne van uitstekende kwaliteit op.
- Die suide van die land, wat van die Franse Riviera se vlaktes tot by die Rhône- en Saônevalleie in die noorde en Languedoc en Narbonne in die weste strek, het 'n mediterreense klimaat met milde winters en baie warm somers. Dit is net soos Suid-Afrika se Kaapland 'n winterreënstreek en danksy die warm temperature en droë weer in die somer uiters geskik vir die wynboubedryf.
[wysig] Geskiedenis
Hoofartikel: Geskiedenis van Frankryk
Die grense van moderne Frankryk is byna dieselfde as die grense van die ou gebied van Gallië, wat bewoon was deur die Galliërs (Keltiese mense). Gallië is ingeneem deur die Romeine in die eerste eeu voor Christus, en die Galliërs het uiteindelik die Romeinse taal en kultuur aangeneem.
In die 14de eeu ontwikkel Frankryk met sy twintig miljoen inwoners (in vergelyking met Duitsland se veertien en Engeland se vier miljoen) tot die magtigste nasie in Europa.
[wysig] Franse Rewolusie
Sien hoofartikel: Franse Rewolusie
[wysig] Vyfde Republiek
Die Grondwet van die Vyfde Republiek, wat met medewerking van Charles de Gaulle en Michel Debré geskryf is, is op 4 Oktober 1958 aanvaar. Dit dien as die grondslag van 'n nuwe, half-parlementêre staatsbestel, wat meer uitvoerende gesag aan die Staatspresident verleen en sodoende 'n einde maak aan die instabiliteit van die vroeëre parlementêre republieke.
Sedert die sestigerjare speel Frankryk danksy die versoening en latere noue samewerking met Duitsland 'n belangrike rol as 'n dryfkrag agter die Europese beweging, wat met die stigting van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) 'n groot politieke sukses behaal. Vandag is Frankryk een van die belangrikste lande van die Europese Gemeenskap en 'n voorstander van die idee dat Europa ook wêreldwyd 'n politieke rol moet speel.
[wysig] Politiek
Hoofartikel: Politiek van Frankryk
Frankryk is sedert die jaar 1875 'n republiek met 'n parlementêre stelsel. Vandag is die land 'n sentralistiese, demokratiese republiek met 'n semi-presidensiële regeringstelsel. Die grondwet van die Vyfde Republiek van Oktober 1958 verleen meer gesag aan die Staatspresident, wat regstreeks deur die volk vir 'n ampstermyn van vyf jaar verkies word. Hy benoem die Eerste Minister en die kabinet, het 'n vetoreg op die besluite van die parlement en die reg om die parlement te ontbind. Tans is Jacques Chirac die vyfde Staatspresident van die Franse Republiek.
Die regering onder die leiding van die Eerste Minister bepaal die beleid van die nasie.
Die parlement bestaan uit twee kamers, die Nasionale Vergadering (Assemblée Nationale) met 577 vyfjaarliks direk verkose afgevaardigdes en die Senaat (Sénat) met 331 lede, wat indirek verkies word. Die parlement kontroleer die regering en beraadslaag en besluit nasionale wette.
Die oorsese gebiede word deur 22 afgevaardigdes in die Nasionale Vergadering en 14 in die Senaat verteenwoordig. 'n Bykomende 12 senatore word deur Franse burgers in die buiteland verkies.
[wysig] Buitelandse beleid
Frankryk is 'n permanente lid van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en beskik oor die vetoreg. Die buitelandse beleid van die land konsentreer op die noue bande met Duitsland binne die strukture van die Europese Unie en sy belangrike betrekkinge met voormalige kolonies in Afrika. In baie Afrikalande tree die Franse regering met 'n soort ordende gesag op.
Frankryk staan skepties teenoor die Verenigde State se beleid as supermoondheid en maak steeds eie voorstelle in verband met internasionale vraagstukke.
[wysig] Verdediging
Die land is in 1949 een van die stigterslede van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en word op militêre gebied deur die Verenigde State beskerm. Met die presidentskap van generaal de Gaulle in 1958 begin die betrekkinge met die VSA en die Amerikaans-oorheersde NAVO verander.
Onder die leiding van de Gaulle ontwikkel Frankryk vanaf 1960 sy eie kernwapens. As 'n kernmoondheid steun die land vanaf 1965 met sy Force de Frappe op vyftig vliegtuie met kernwapens, en in 1968 beskik die Franse weermag reeds oor agttien lanseerplatforms vir middelafstandmissiele, wat in die jare 1970 en 1971 met kernmissiele toegerus is.
In die sewentigerjare is die Force de Frappe versterk deur duikbote met sestien middelafstandmissiele.
Frankryk het die militêre afdeling van die NAVO in 1968 verlaat, maar gaan steeds voort om 'n aktiewe rol by die politiese aktiwiteite van die organisasie speel.
Diensplig is gestaak, en die land beskik tans oor 'n professionele weermag van sowat 300 000 soldate.
[wysig] Ekonomie
Hoofartikel: Ekonomie van Frankryk
Ekonomie van Frankryk |
|
|
Die Franse ekonomie steun sowel op die private entrepreneurskap (met meer as 2,5 miljoen geregistreerde ondernemings) asook staatsbeheerde bedrywe. Alhoewel die invloed van die staat nou geleidelik verminder word, beheer publieke ondernemings nog 'n groot deel van die Franse infrastruktuur, met name die spoorweë (SNCF), elektrisiteit, lugvaart en telekommunikasie. Die regering is tans besig om sy aandele aan Air France, France Télécom, versekerings-, bank- en krygstuigbedrywe te verkoop. Ekonomiese patriotisme, dirigisme, sentralisering en hiërargiese strukture bly egter tipiese kenmerke van die Franse ekonomie. Desondanks die patriotiese tendense van die land se ekonomiese beleid is 46 persent van aandele in ondernemings, wat in die CAC 40 gelys word, in buitelandse besit. Maar sedert die Sosialistiese oorwinning in die verkiesing van die jaar 1981 het Frankryk se ekonomiese beleid duidelik in 'n ander rigting beweeg as dié van byvoorbeeld die Verenigde Koninkryk of Duitsland. Die Franse regering het in die verlede aktief opgetree teen vyandige oornames van Franse ondernemings en meer aandag aan sosiale vraagstukke gegee as aan die stabiliteit van sy geldeenheid.
Frankryk is 'n lid van die G8-groep van leidende nywerheidslande en is in die jaar 2004 die vyfde grootste ekonomie ter wêreld, na die Verenigde State, Japan, Duitsland en die Verenigde Koninkryk.
Die hoofsaalike uitvoergoedere is motors, vliegtuie, farmaseutiese produkte, elektroniese toerusting en wyn. Volgens die OECD is Frankryk in 2004 die vyfde grootste uitvoerder van vervaardigde produkte, na die Verenigde State, Duitsland, Japan en die Volksrepubliek van Sjina. Tegelykertyd is dit die vierde grootste invoerder van vervaardigde goedere (na die Verenigde State, Duitsland en die Volksrepubliek van Sjina).
In 2005 het Frankryk se uitvoere 355 miljard € beloop. Uitvoere na die Verenigde State het met 9 en uitvoere na Asiatiese lande selfs met 16 persent gegroei. Nogtans voer die land minder goedere en dienste uit as ander vergelykbare nywerheidslande.
Die statistieke van die OECD toon in 2003 dat Frankryk die lidstaat met die meeste direkte buitelandse beleggings is (met die uitsondering van Luxemburg, waar buitelandse beleggings grotendeels in die vorm van geldtransaksies van internasionale banke met 'n setel in Luxemburg gemaak word). Met buitelandse beleggings ter waarde van 47 miljard VSA-dollar oortref Frankryk selfs die Verenigde State met 39,9 miljard VSA-dollar, Duitsland (12,9 miljard VSA-dollar) en Japan (6,3 miljard VSA-dollar).
Die vernaamste sektore van die Franse ekonomie is die motornywerheid, ruimte- en lugvaartnywerheid, masjienbou, chemiese nywerheid en die inligtings- en kommunikasietegnologie. Die metropolitaanse gebied van Parys is die grootste nywerheids- en handelsentrum. Ander belangrike sentrums is Lyon, Marseille en Lille.
Landbou en toerisme is eweneens hoogs ontwikkel. Sedert 1969 het die landbousektor 'n positiewe handelbalans, en Frankryk het tot die tweede grootste uitvoerder van landbouprodukte op die wêreldmark ontwikkel, met wyn, dranke, graan, suiwelprodukte en suiker as sy vernaamste uitvoergoedere. Die land produseer jaarliks 55 miljoen hektoliter wyn en is met meer as 75 miljoen buitelandse besoekers in 2003 die belangrikste toeristebestemming ter wêreld, nog voor Spanje (52,5 miljoen toeriste) en die VSA (40,4 miljoen toeriste). Frankryk lok met sy kulturele erfenis in historiese stede soos Parys, lang strande en gesofistikeerde vakansieoorde langs sy kuslyn, ski-oorde in die Sentraalmassief, die Alpe en die Pireneë en landelike gebiede wat met hulle natuurskoon en rustigheid bekoor en gewild is by ekotoeriste.
Frankryk het by nog 11 ander EU lede aangesluit om die Euro te gebruik vanaf 1 Januarie 1999. Die Euromunte en -banknote het die Franse Franc totaal vervang in 2002.
[wysig] Demografie
Hoofartikel: Demografie van Frankryk
Volgens 'n amptelike skatting is die bevolking van die metropolitaanse Frankryk en die oorsese gebiede op 1 Januarie 2004 61,9 miljoen mense. Die bevolkingsdigtheid is 111 mense per vierkante kilometer.
Daar is 73 stede wat saam met hulle voorstede 'n inwonertal van meer as 100 000 het. Die grootste stedelike gebiede is Parys (11,2 miljoen inwoners), Lyon (1,7 miljoen inwoners), Marseille (1,5 miljoen inwoners), Lille (1,2 miljoen inwoners) en Toulouse (1,1 miljoen inwoners).
Frankryk het na Duitsland die tweede grootste bevolking van die Europese Unie (EU). Anders as in Duitsland is daar 'n aansienlike natuurlike bevolkingsgroei, met 792 600 geboortes teenoor 560 300 sterfgevalle in 2003. Die geboortekoers bedra in dié jaar 1,9 - Frankryk toon ná die Republiek van Ierland die tweede gunstigste demografiese ontwikkeling in die EU. In 2003 is 280 300 huwelike gesluit. In 2006 het die geboortekoers tot 2,0 babas per vrou gestyg en die aantal geboortes tot 830 900.
Op 1 Januarie 2004 is 25,3 persent van die Franse jonger as twintig en 16,2 persent ouer as 65 jaar. Die gemiddelde lewensverwagting van vroue is 83,8 jaar, die van mans 76,7 jaar.
Die amptelike taal in die metropolitaanse Frankryk en die oorsese gebiede is Frans, tog praat die grootste deel van die Franse bevolking 'n plaaslike dialek. Naas Frans bestaan daar 'n aantal inheemse tale soos (Baskies, Bretons, Katalaans, Korsikaans, Nederlands (Vlaams), Duits (Elsasser Duits), Oksitaans), maar die Franse regering en skoolstelsel het die gebruik van hierdie tale sterk afgeraai tot redelik onlangs.
[wysig] Geloof
Frankryk is 'n laisistiese republiek waar staat en godsdienstige gemeenskappe streng van mekar geskei word. Die staat hou geen statistiek oor die gelowe van sy burgers nie, en alle gegewens berus op skattings of inligting wat deur die gemeenskappe self verskaf word. Die 2003 CIA World Factbook lys die gelowe van Frankryk as : Katoliek 83-88%, Protestants 2%, Joods 1%, Moslem (Noord-Afrikaanse werkers) 5-10%, ongebonde 4%.
Volgens skattings, wat op demoskopiese navorsing baseer, is daar 5 miljoen Moslems, 1 miljoen Protestante, 600 000 Boeddhiste, 600 000 Jode en 150 000 ortodokse Christene.
Frankryk se Joodse gemeenskap is die derde grootste ter wêreld ná die Verenigde State en Israel. Hulle verskil egter van ander Joodse gemeenskappe in Europa deur hulle oorwegend Noord-Afrikaans-Sefardiese herkoms (60 tot 70 persent). Die Joodse bevolking het veral uit die voormalige kolonies Algerië, Marokko en Tunisië na Frankryk gekom. Die sogenaamde Crémieux-dekreet het Algeriese Jode in 1870 tot Franse burgers verklaar, en hulle het ná die onafhanklikwording van Algerië in 1962 saam met die Pieds noirs, die Europese setlaars, na Frankryk gevlug.
[wysig] Administratiewe verdeling
Hoofartikel: Administratiewe verdeling van Frankryk, Lys van gebiede in Frankryk
Frankryk het 26 gebiede (Frans: région), wat weer verder verdeel is in 100 départements. Die départements is genommer (hoofsaaklik alfabeties) en hierdie nommer word gebruik in o.a. poskodes en motor-registrasienommers.
|
|
Die départements word verder verdeel in 342 arrondissemente. Daar is 36 500 stede en ander munisipaliteite.
Frankryk handhaaf ook beheer oor 'n aantal klein eilande in die Indiese Oseaan en die Stille Oseaan, insluitende Bassas da India, Clippertoneiland, Europa-eiland, Glorioso-eilande, Juan de Nova-eiland, Tromelineiland.
[wysig] Kultuur
Hoofartikel: Kultuur van Frankryk
[wysig] Sport
Sokker is die gewildste sportsoort in Frankryk, en die nasionale span, wat bekend staan as die équipe tricolore of les Bleus, spel ook 'n belangrike rol as 'n identiteitskeppende band tussen die verskillende sosiale en etniese groepe van die land. Die meeste internasionale wedstryde van die nasionale sokkerspan vind in die Stade de France in Saint-Denis naby Parys plaas. Die span van Olympique Lyon is tans die Franse sokkerkampioene.
Voor die Tweede Wêreldoorlog was rugby die gewildste sport in Frankryk, maar is sedertdien deur sokker verdring. Dit is nogtans die mees popuêre sport in die suidelike geweste van die land.
Die Tour de France is die bekendste fietswedren ter wêreld. Die Tour vind sedert 1903 gereeld oor drie weke in Julie plaas en is net tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gekanselleer. Alhoewel die roete jaarliks gewysig word, lei dit deur heel Frankryk en aangrensende state.
Ander gewilde sportsoorte is atletiek, Formule 1-motorwedrenne (met die Grand Prix van Frankryk) en tennis (met die Franse Ope in Parys). Val Thorens en Chamonix is net twee bekendes van 'n groot aantal ski-oorde in die Franse Alpe.
Olimpiese Spele het verskeie kere in Frankryk plaasgevind: Somerspele in 1900 en 1924 in Parys, Winterspele in Chamonix (1924), Grenoble (1968) en Albertville (1992).
- Académie française
- Franse filmkuns
- Franse Literatuur
- Bekende Franse Persone
- Franse kookkuns
- Musiek van Frankryk
Datum | Afrikaanse Naam | Franse naam | Opmerking |
---|---|---|---|
1 Januarie | Nuwejaarsdag | Jour de l'An | |
6 Januarie | Driekoningsfees | Fête des Rois | |
2 Februarie | Ligmis | La Chandeleur | |
- | Paasfees | Pâques | Sondag, datum variëer |
- | Paasmaandag | Lundi de Pâques | Maandag na Paasfees |
1 Mei | Werkersdag | Fête du Travail | |
8 Mei | V-E Day | Victoire 1945 | Einde van die Tweede Wêreldoorlog |
- | Hemelvaartdag | Ascension | Donderdag, 40 dae na Paasfees |
- | Pinkster | Pentecôte | Sewende Sondag na Paasfees |
14 Julie | Bastille Dag | Fête Nationale | Nasionale Dag |
15 Augustus | Maria-ten-Hemelopneming | Assomption | |
1 November | Allerheiligedag | Toussaint | |
11 November | Veteranedag Armistice Day Remembrance Day |
Armistice 1918 | Einde van die Tweede Wêreldoorlog |
25 Desember | Kersfees | Noël | |
- | Goeie Vrydag | Vendredi saint | Bykomende vakansiedag in die départements Moselle, Bas-Rhin en Haut-Rhin |
26 Desember | Tweede dag van Kersfees | Saint Étienne | Bykomende vakansiedag in die départements Moselle, Bas-Rhin en Haut-Rhin |
[wysig] Allerlei
Die hoofstad en mees bekende stad Parys is ook die tuiste van die Eiffeltoring, 'n toring van staal opgerig in 1889. Frankryk beskik oor 265 verskeie soorte kaas, 400 skigebiede, 3 430 km kuslyn en die hoogste berg van Europa, die Mont Blanc (4 807 m). Daar is ook sowat 11 000 kampeerterreine en 120 000 km wandelpaaie.
Sien: Lys van stede in Frankryk
[wysig] Sien ook
|
|
---|---|
België | Bulgarye | Ciprus | Denemarke | Duitsland | Estland | Finland | Frankryk | Griekeland | Hongarye | Ierland | Italië | Letland | Litaue | Luxemburg | Malta | Nederland | Oostenryk | Pole | Portugal | Roemenië | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Tsjeggië | Verenigde Koninkryk |