Insulien
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Insulien (van Latyn insula, "eiland", omdat dit in die Eilande van Langerhans in die pankreas vervaardig word) is 'n polipeptiedhormoon. Die hormoon is betrokke by die regulering van koolhidraat-metabolisme.
Dit stimuleer sintese van glikogeen in spier- en lewerselle, asook die sintese van vetsure. Dit is ook betrokke by die sintese van proteïene o.a. in spierweefsels. Insulien stimuleer ook die transport van glukose deur selwande, via GLUT-4 sodat dit vir stofwisseling vrygestel kan word (dit verlaag die bloedsuiker) en verhinder die afbraak van vette en glikogeen. Dit beheer saam met glukagon en adrenalien die bloedsuiker. Insulien het 'n antagonistiese werking ten opsigte van glukagon en adrenalien.
Wanneer daar geen insulien in die liggaam gemaak word nie, word daar van diabetes mellitus tipe 1 gepraat. Pasiënte wat hieraan ly benodig dan eksogene insulien (wat tipies onderhuids ingespuit word) om te oorleef. Wanneer onvoldoende insulien gemaak word en/of die liggaamselle is weerstandig teen insulien, word daar van diabetes mellitus tipe 2 gepraat. Pasiënte met tipe 2 diabetes gebruik meestal orale medikasie om die bloedglukose te beheer, maar 'n klein persentasie van gevalle benodig later insulien wanneer die orale middels onvoldende is om die bloedsuiker laag genoeg te hou.