Koran
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Koran is die heilige boek van die Islam, wat die openbaring bevat wat Mohammed klaarblyklik van die engel Gabriël ontvang het. Ná Mohammed se dood is die openbarings uit aantekeninge en mondelinge oorlewering versamel en geredigeer. Die oudste Koran-redaksie sou dié van kalief Othman (ongeveer 650) wees.
Die Koran is verdeel in 114 hoofstukke (soeras), onderverdeel in verse (ajas). Die eerste soera (al-Fatiha) is kort. Elke soera meld of dit in Mekka of Medina geopenbaar is. Die korter stukke kom gewoonlik uit Mekka en bevat die waarskuwing oor die Laaste Oordeel en vertel van die Eenheid en Enigheid van Allah. Die latere soeras kom uit Medina en handel oor beloning en straf in die hiernamaals, asook wetgewende voorskrifte en polemiek met Jode en Christene met wie Mohammed in aanraking gekom het in Medina.
Die Islamiete beskou die Koran as 'n wonder waarmee die egtheid van Mohammed se sending bewys word. Die Moslems huldig die opvatting dat die inhoud ewig en 'ongeskape' is, omdat dit presies ooreenstem met Allah se oereksemplaar in die hemel. Die Koran bevat die laaste en definitiewe openbaring ná die Tora se Evangelie- heilige boeke, wat eweneens aan 'n hemelse oereksemplaar ontleen is, maar deur die besitters (Jode en Christene) vervals en vermink is. Die Koran is die mees gesaghebbende bron van die Moslemse teologie (kalam) en pligsleer (fikh), al is daar later verskil ten opsigte van interpretasie en regskole.
Groot dele van die Koran is geskryf in rymprosa. Sonder dat kommentare geraadpleeg word, is die Koran moeilik verstaanbaar. Pragtige en kosbare handgeskrewe eksemplare kan in sommige private en openbare biblioteke besigtig word.