Kourou
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kourou is 'n stad in die Franse oorsese département Frans-Guyana met sowat 14 000 inwoners, sowat 40 kilometer noordwes van die hoofstad Cayenne aan die kus van die Atlantiese Oseaan. Die voormalige Franse strafkolonie Duiwelseiland lê naby Kourou.
Kourou is 'n plaaslike toeristebestemming, maar staan veral bekend danksy die lanseersentrum Centre Spatial Guyanais van die Europese Ruimtevaart-Administrasie (European Space Agency, ESA). Die sentrum, wat deur die maatskappy Arianespace beheer word, ontstaan in 1965 en word sedert die einde van die sestigerjare gebruik om Franse rakette en satelliete te lanseer.
[wysig] Centre Spatial Guyanais
Danksy die ligging naby die ewenaar, wat aan 'n raket 'n addisionele snelheid van 500 meter per sekonde verleen en die noukeurige posisionering van 'n satelliet vergemaklik, word die Centre Spatial Guyanais (CSG) as een van die beste lanseerterreine ter wêreld beskou. Die lanseerterrein beskik oor alle lanseergeriewe en 'n fabriek vir raketbrandstowwe.
Die eerste raket van die moderne Ariane-reeks word op 24 Desember 1979 gelanseer. Tans word rakette van die tipe Ariane-5 gebruik.
Die geriewe word volgens 'n Russies-Europese ooreenkoms aangepas vir Russiese Sojoes- en Italiaanse Vega-rakette, wat vanaf 2006 vanuit die CSG gelanseer word. Die Russiese ruimtevaartnywerheid beoog om die CSG as 'n alternatiewe lanseerterrein naas Baikonoer te gebruik en kan danksy die gunstige ligging groter laste hanteer.