Département
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Département is die naam van die (oorspronklik 83) administratiewe distrikte waarin Frankryk tydens die Franse Rewolusie ingedeel word.
Elke département is naastenby ewe groot en word verder verdeel in arrondissements en kantons. Aan die hoof van die administrasie is 'n prefek. Gewoonlik kan elkeen van die bewoners die prefektuur binne 'n dagreis bereik word.
Met die skepping van die départements beoog Abbé Emanuel Joseph Sieyès (wat ook die nuwe grondwet uitwerk) en die Assemblée Nationale (wat Sieyès se planne in 1789 goedkeur) om die historiese teenstellings tussen die ou provinsies van die monargistiese ancien régime uit die weg te ruim. Die maatreël is gegrond op die rasionale denke van die verligting en die idee van 'n Franse eenheidstaat.
Vandag is daar 100 départements wat oorwegend na riviere benoem is; die ou provinsies bly voortleef as streekname.
Die meeste départements het 'n oppervlakte van tussen 4 000 en 8 000 vierkante kilometer en 'n bevolking van tussen 'n kwartmiljoen en een miljoen inwoners. Gironde is die grootste département met 10 000 vierkante kilometer, die stad Parys die kleinste met net 105 vierkante kilometer (sy voorstede maak deel uit van ander départements). Die département Nord het die grootste inwonertal met meer as 2,5 miljoen mense, terwyl slegs 74 000 mense in die yl bevolkte Lozère woon.
Die 26 Franse Régions en 100 Départements:
|
|
|