Slag van Bloedrivier
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Slag van Bloedrivier is op 16 Desember 1838 naby die Bloedrivier in die huidige KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, geveg. Sowat 470 Voortrekkers, onder leiding van Andries Pretorius, het 'n ossewalaer beskerm teen tussen 10 000 en 20 000 Zoeloe-impies. Die Zoeloekrygers, onder Koning Dingaan se regering, is aangevoer deur Dambuza (Nzobo) en Nhlela.
Op 15 Desember het die Voortrekkers inligting verkry dat 'n groot Zoeloemag op pad was. Pretorius het 'n uiters goeie gevegsterrein langs die Bloedrivier (toe die Ncomerivier) gekies, waar die ossewaens in 'n laer getrek is. Ten spyte van mis wat die aand oor die omgewing neergedaal het, was dit die volgende oggend helder. Voor die slag begin het, het die Voortrekkers 'n gelofte voor God afgelê dat, sou hulle gespaar word, hulle 'n kerk sal bou en die dag as 'n sabbat herdenk.
Die Zoeloes het herhaaldelik die laer onsuksesvol aangeval, todat Pretorius ná twee uur 'n groep perderuiters beveel het om die laer te verlaat en die Zoeloes aan te val. In die struweling het Pretorius ook 'n assegaaiwond aan sy linkerhand opgedoen.
Deels weens die feit dat die Voortrekkers vuurwapens teen die Zoeloes se assegaaie gebruik het, asook die goeie ligging en motivering van die Voortrekkers is uiteindelik slegs drie Voortrekkers gewond en geen dood nie; dit teenoor meer as 3 000 Zoeloekrygers wat gesterf het.
16 Desember is 'n openbare vakansiedag in Suid-Afrika; voor 1994 was dit as Geloftedag bekend, en tans as Versoeningsdag.
[wysig] Verwysings
- Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, hersiene uitgawe, deur Cameron & Spies. Human & Rousseau, 1991.
[wysig] Sien ook
- Lys van slagte 1801-1900