Suid-Afrika
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
|||||
Nasionale leuse: !ke e: ǀxarra ǁke (Verskillende mense verenig) |
|||||
Volkslied: Volkslied van Suid-Afrika | |||||
Hoofstad | Kaapstad (wetgewend) Pretoria (administratief) Bloemfontein (geregtelik) 33°55′S 18°25′E |
||||
Grootste stad | Johannesburg | ||||
Amptelike tale | Afrikaans, Engels, Ndebele, Noord-Sotho, Suid-Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zoeloe | ||||
Regering | Demokratiese republiek Thabo Mbeki |
||||
Onafhanklikheid
Onafhanklikheid
- datum |
Vanaf Brittanje: 31 Mei 1910² |
||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 219 912 vk km (24ste) |
||||
Bevolking - 2005 skatting - Digtheid |
47 432 000 (26ste) 39 / vk km |
||||
BBP (PPP) - Totaal - Per kapita |
2005 skatting VSA $570.2 bn (18de) |
||||
HDI | |||||
Geldeenheid | Rand ([[ISO 4217|ZAR]] ) |
||||
Tydsone - Somertyd |
+2 (UTC+2) geen (UTC+2) |
||||
Internet TLD | za | ||||
Skakelkode | +27 |
||||
¹'n klein aantal Suid-Afrikaners gebruik die naam Azanië eerder as 'Suid-Afrika', wat hulle verwerp weens die koloniale oorsprong daarvan. Hulle is meestal lede van partye wat vanuit 'n Afrosentriese tradisie kom, soos die Pan Africanist Congress of Azania, en groepe wat uit skeurings daarvan ontstaan het, soos die Azanian People's Organization (AZAPO). ² Gevorm as die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910, en het die Republiek van Suid-Afrika geword op 31 Mei 1961. |
Suid-Afrika is 'n republiek aan die suidpunt van Afrika. Dit word begrens aan die noorde deur Namibië, Botswana en Zimbabwe, en na die noordooste deur Mosambiek en Swaziland. Lesotho is heeltemal vervat binne die grense van Suid-Afrika.
Suid-Afrika is een van die mees etnies-diverse lande in Afrika. Die land het meer Europese immigrante ontvang as enige ander land in Afrika en het die hoogste bevolking van Europese, Indiese en gemengde afkoms. Rasse- en etniese stryd was nog altyd 'n groot deel van die geskiedenis en politiek van die land. 'n Ander belangrike faktor in die ontwikkeling van die land is die ryk mineraalbronne waaroor die land beskik. Die land se ekonomie is die grootste en mees ontwikkelde in die kontinent met moderne infrastruktuur in die hele land.
Rassekonflik tussen die wit minderheid en die swart meerderheid het die land se geskiedenis en politiek oorheers. Die tema het 'n hoogtepunt bereik met die apartheidbewind tussen 1948 en die negentien-negentigs. Nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, is 'n stelsel gegrond op rassediskriminasie opgerig. Die wette is van 1990 af afgeskaf na 'n lang en gewelddadige stryd teen apartheid waarin swart mense die leiding geneem het. Wit, bruin en Indiër- Suid-Afrikaners het egter ook deelgeneem en buitelandse druk was 'n belangrike faktor in die uiteindelike aftakeling van apartheid. Die dramatiese verandering in die politieke stelsel is egter op die ou einde op wonderbaarlike wyse relatief vreedsaam bewerkstellig. Suid-Afrika is een van die min lande in Afrika en die res van die ontwikkelende lande wat nie 'n staatsgreep deurgemaak het nie. Die veelpartysamesprekings, waarvolgens die nuwe Suid-Afrika in plek gestel is, het gelei tot die ontwikkeling van een van die voorste grondwette ter wêreld met stewige beskerming van menseregte.
Vandag word daar gereeld na Suid-Afrika as die Reënboognasie verwys - 'n term wat aanvanklik deur Aartsbiskop Desmond Tutu bedink is en later op uitgebrei is deur die toenmalige President Nelson Mandela as 'n metafoor vir die land se nuutgevonde multikulturele diversiteit na die beëindiging van die skeiding wat deur die apartheidsideologie meegebring is. Suid-Afrika is die eerste, en sover enigste, land wat kernwapens ontwikkel het en daarna vrywillig sy hele kernwapenprogram ontbind het.
Inhoud |
Geskiedenis
Hoofartikel: Geskiedenis van Suid-Afrika
Prehistoriese geskiedenis
Suid-Afrika het van die oudste argeologiese terreine in Afrika. Uitgebreide fossieloorblyfsels by die Sterkfontein-, Kromdraai- en Makapansgatgrotte dui aan dat verskeie australopithecines in Suid-Afrika gewoon het vanaf ongeveer drie miljoen jaar gelede. Hulle is gevolg deur verskeie Homo-spesies insluitend Homo habilis, Homo erectus en die moderne mens, Homo sapiens. Bantoe ystergebruikende landbouers en veewagters het teen die 4de- of 5de eeu suid oor die Limpoporivier in hedendaagse Suid-Afrika in beweeg (die Bantoe-uitbreiding). Hulle het stadig verder suid getrek en daar word geglo dat die vroegste ystergieterye in die hedendaagse KwaZulu-Natalprovinsie uit ongeveer 1050 dateer. Die mees suidelike groep was die Xhosa wat tot by die Visrivier getrek het, wat vandag in die Oos-Kaapprovinsie lê. Die ystertydperk-groepe het vroeëre jagter-versamelaargroepe verplaas soos hulle suid getrek het.
Nederlanders en Xhosas in die Kaap
Die geskrewe geskiedenis van Suid-Afrika begin op 6 April 1652 toe 'n verversingstasie by die Kaap van Goeie Hoop deur Jan van Riebeeck namens die Verenigde Oos-Indiese Maatskappy gevestig is. Vir die grootste deel van die 17de en 18de eeue was die vestiging, wat stadig aan die uitbrei was, 'n Nederlandse. Die Nederlandse setlaars het uiteindelik naby die Visrivier met die Xhosas, wat besig was om in 'n suidwestelike rigting uit te brei, in aanraking gekom. 'n Reeks oorloë, wat as die Kaapse grensoorloë bekend staan, het hierop gevolg. Die oorloë is meestal deur botsende belange oor grond veroorsaak. Om arbeidstekorte in die Kaap te verlig, is slawe uit Indonesië, Madagaskar, en Indië deur die Nederlandse owerheid ingevoer. Die meeste afstammelinge van dié slawe, wat gereeld met Nederlandse setlaars getrou het, is later saam met die oorblyfsels van die oorspronklike Khoikhoi as Kaapse kleurlinge en "Kaapse Maleiers" geklassifiseer. Hierdie twee groepe verteenwoordig sowat vyftig persent van die bevolking van die provinsie Wes-Kaap. Die Europese immigrante uit Nederland is onder meer aangevul deur Duitsers en Franse Hugenote.
Britse kolonie
Groot Brittanje neem die Kaap van Goeie Hoop in 1797 vir die eerste keer tydens die Vierde Engelse-Nederlandse oorlog in besit. Nederland is in 1795 deur die Franse weermag onder die leierskap van Napoléon Bonaparte oorwin. Brittanje wou verhoed dat die Kaap in Franse hande val en die Britse weermag, onder Generaal Sir James Henry Craig vaar na Kaapstad om die kolonie te beskerm namens die Stadhouer Prins Willem V van Oranje. Die goewerneur van Kaapstad weier aanvanklik om enige instruksies van die prins te gehoorsaam, maar na die Britte gedreig het om kragdadig op te tree, stem hy in. In Februarie 1803 lei die Vrede van Amiens daartoe dat die kolonie weer onder Nederlandse beheer kom in die vorm van die Bataafse Republiek. Ná oorlog weer uitbreek, word 'n Britse mag weereens na die Kaap gestuur en na 'n slag in Januarie 1806 op die strande van Tafelbaai gee die Nederlandse vesting van die Kasteel oor aan die Britte onder Sir David Baird, en die Britte annekseer die Kaapkolonie in 1805.
Die Britte sit die oorlog teen die Xhosas voort en stoot die oostelike grens ooswaarts tot by 'n lyn van forte, wat langs die Visrivier opgerig is, en konsolideer die gebied deur Britse Setlaars aan te moedig om hulle in dié gebied te vestig. As gevolg van druk deur afskaffingsverenigings in Brittanje, beëindig die Britse parlement sy wêreldwye slawehandel in 1806 en skaf slawerny in al sy kolonies af in 1833. Die voortslepende grensoorloë, ongelukkigheid met die wyse waarop slawerny afgeskaf is en ander verskille met die Britse owerheid lei daartoe dat 'n gedeelte van die Nederlandssprekende bevolking as deel van die Groot trek verder in die binneland in trek buite Britse beheer. Die groep, wat eers as Voortrekkers en later as Boere bekend sou staan, kom in teenstand met swart stamme soos die Zoeloes. Hulle vestig 'n reeks Boererepublieke, waarvan die Zuid-Afrikaansche Republiek en Oranje-Vrystaat die belangrikste is.
Eerste en Tweede Vryheidsoorloë
Die ontdekking van diamante in 1867 en goud in 1886 het ekonomiese groei en immigrasie aangemoedig wat tot verdere onderdrukking van die plaaslike bevolking gelei het. Die Boere weer Britse indringing in die Eerste Vryheidsoorlog (1880–1881) suksesvol af deur taktiek wat baie meer gepas tot plaaslike toestande is, te gebruik. Die Boere het byvoorbeeld kakiekleure gedra wat dieselfde kleur as die veld was terwyl die Britte helderrooi baadjies gedra het wat hulle maklike teikens vir die Boereskerpskutters gemaak het. Die Britte keer ondanks teenstand deur die Liberale Party in die Britse Parlement in die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) in groter getalle terug. Ondanks aanvanklike suksesse en verbete weerstand deur die Boere, oorweldig die Britse magte die Boere as gevolg van hulle getalleoorwig en beter toevoerlyne. Nadat die Boer na guerillataktiek oorslaan, slaag die Britte eers daarin om die Boere tot oorgawe te dwing toe hulle die geskroeide aarde beleid en gepaardgaande konsentrasiekampe gebruik om dit vir die Boere onmoontlik te maak om verder te veg. By die Vrede van Vereeniging word volle heerskappy oor die Suid-Afrikaanse republieke aan Brittanje gegee. Die Britse regering kom ooreen om die £3 000 000 oorlogskuld van die Boereregerings oor te neem. Een van die hoofvoorwaardes van die verdrag wat die oorlog beëindig het, was dat swart mense geen stemreg sou hê nie behalwe in die Kaapkolonie.
Unie van Suid-Afrika
Na vier jaar van onderhandelinge is die Unie van Suid-Afrika geskep uit die Kaap-en Natalkolonies en die Oranje-Vrystaat en Transvaalse Republieke op 31 Mei 1910, presies agt jaar na die einde van die Tweede Vryheidsoorlog. Die nuut geskepte Unie van Suid-Afrika was 'n Britse dominium. In 1934 smelt die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party saam om die Verenigde Party te vorm, wat versoening tussen Afrikaners en Engelssprekende blankes nagestreef het. Dit skeur egter in 1939 oor die Unie se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog as 'n bondgenoot van die Verenigde Koninkryk. Die regsgesinde Nasionale Party het met Duitsland gesimpatiseer en wou sterker rassesegregasie implementeer.
Apartheid en die Nuwe Suid-Afrika
In 1948 wen die Nasionale Party die algemene verkiesing en word 'n reeks strawwe segregasie wette geïmplementeer om die apartheidbeleid te implementeer. Onder apartheid, is mense van verskillende rasse geskei en is swart mense stemreg binne die "wit Suid-Afrika" ontsê. Implementering van die beleid veroorsaak oneindige leed aan miljoene Suid-Afrikaners deur gedwonge verskuiwings, beperkings op beweging, indiensneming en gewelddadige onderdrukking van die stryd teen apartheid. Apartheid knou ook die ekonomiese vooruitgang van veral swart Suid-Afrikaners. Terwyl die wit minderheid van die hoogste lewenstandaarde in Afrika geniet het, in baie opsigte soortgelyk aan die in die "eerste wêreld" se westerse lande, is die swart meerderheid agtergelaat in terme van byna elke moontlike meetbare standaard, insluitend inkomste, opvoeding, behuising, en lewensverwagting.
Apartheid het al hoe meer omstrede geword in die internasionale arena wat tot sanksies en onttrekking van beleggings gelei het, wat gepaard gegaan het met al hoe erger onluste. Die spanning het 'n hoogtepunt bereik in 1984-85 toe die regering met al hoe strawwer teenmaatreëls reageer. Dit het weer gelei tot feller weerstand van anti-apartheid bewegings (veral die ANC). Die land is op sy knieë gedwing deur die kombinasie van internasionale boikotte en ekonomiese sanksies, stakings, optogte, betogings, en sabotasie. In 1990 neem die Nasionale Partyregering die eerste stappe tot 'n onderhandelde skikking toe dit die ANC en ander politieke organisasies ontban en ANC-leier Nelson Mandela na 27 jaar in die tronk vrylaat. Apartheidwetgewing is geleidelik geskrap en die eerste veelrassige verkiesing is in 1994 gehou. Die ANC het met 'n oorweldigende meerderheid gewen en is steeds aan bewind.
Ten spyte van die beëindiging van Apartheid leef miljoene swart Suid-Afrikaners steeds in armoede. Dit word gereeld toegeskryf aan die nalatingskap van apartheid, maar daar is ook druk op die huidige regering om dienslewering op te knap en sosiale vraagstukke aan te spreek. Die regering het wel baie vordering gemaak wat betref behuising, elektrisiteitsvoorsiening en toegang tot water, en lewenskwaliteit het in baie opsigte verbeter.
Ander name
Suid-Afrika het 11 amptelike tale, met slegs Indië wat meer het. As gevolg hiervan is daar vele aanvaarde amptelike name vir die land. Agt nie-amptelike tale word ook erken: Fanagalo, Lobedu, Noord-Ndebele, Phuthi, Gebaretaal, Khoe, Nama en San. Sien ook tale in Suid-Afrika.
Politiek
- Hoofartikel: Politiek van Suid-Afrika.
Suid-Afrika het 'n tweekamerparlement wat bestaan uit 'n Nasionale raad van Provinsies (of hoër-huis) met 90 lede, en 'n Nasionale Vergadering (of laerhuis) met 400 lede. Lede van die laerhuis word volgens proporsionele verteenwoordiging verkies: helfte van die lede word direk verkies op grond van nasionale lyste en die ander helfte word verkies uit provinsiale lyste. Tien lede word verkies om elke provinsie in die Nasionale Raad van Provinsies te verteenwoordig, ongeag die bevolkingsgrootte van die provinsie. Verkiesings vir beide kamers word elke vyf jaar gehou. Die regering word in die laerhuis gevorm, en die leier van die meerderheidsparty in die Nasionale Vergadering is die President.
Tans word Suid-Afrikaanse politiek oorheers deur die ANC wat 69,7% van die stemme in die algemene verkiesing van 2004 ontvang het. Die hoofteenstander teen die ANC se heerskappy is die Demokratiese Alliansie wat 12,4% van die stemme ontvang het. Die voorheen dominante Nuwe Nasionale Party, waarvan die voorganger, die Nasionale Party, apartheid aanvanklik ingestel het, het na 1994 spoedig steun verloor en het op 9 April 2005 gestem om finaal te ontbind.
Politieke partye in die parlement in 2004
- ACDP (Afrika Christen Demokratiese Party)
- ANC (African National Congress)
- AEB (Afrikaner-eenheidsbeweging)
- AZAPO (Azanian Peoples' Organisation)
- DA (Demokratiese Alliansie)
- IVP (Inkatha-vryheidsparty)
- MF (Minority Front)
- NNP (Nuwe Nasionale Party)
- OD (Onafhanklike Demokrate Patricia de Lille)
- PAC (Pan-Africanist Congress)
- UCDP (United Christian Democratic Party)
- UDM (United Democratic Movement)
- VF+ (Vryheidsfront Plus)
Provinsies
Suid-Afrika het tot 1994 uit slegs vier provinsies bestaan: Transvaal, Oranje-Vrystaat, Natal en die Kaapprovinsie. Sedert die totstandkoming van die volskaalse demokratiese Suid-Afrika in 1994, is die land verdeel in 9 provinsies (die provinsie se hoofstad volg in hakies op die provinsie se naam):
- Gauteng (Johannesburg)
- KwaZulu-Natal (Pietermaritzburg)
- Limpopo (Polokwane)
- Mpumalanga (Nelspruit)
- Noord-Kaap (Kimberley)
- Noordwes (Mafikeng)
- Oos-Kaap (Bisho)
- Vrystaat (Bloemfontein)
- Wes-Kaap (Kaapstad)
Geografie
Hoofartikel: Geografie van Suid-Afrika
Suid-Afrika is aan die heel suidelikste deel van Afrika geleë met 'n lang kuslyn van meer as 2 500 kilometer (1 550 myl) wat oor twee oseane strek (die Atlantiese en Indiese). Suid-Afrika het 'n groot verskeidenheid klimaatsones, van die woestyntoestande in die Kalahari naby Namibië tot welige subtropiese klimaat langs die grens met Mosambiek. Dit rys vinnig oor 'n bergagtige platorand tot die binnelandse plato wat as die hoëveld bekend staan. Selfs al word Suid-Afrika as semi-droog beskou, is daar aansienlike wisseling in klimaat sowel as topografie.
Die Suid-Afrikaanse binneland wissel van die bergagtige en yl bevolkte Karoo tot gras- en bosveld in die noordelike dele van die land. Die oostelike kuslyn kry heelwat reën en is amper tropies in aard. Die heel suidwestelike gedeelte van die land is weer mediterreens met nat winters en warm, droë somers. Die gebied produseer die meeste van Suid-Afrika se wyn. Dit word gekenmerk deur wind, wat die grootste deel van die jaar met tussenposes waai. Die felheid van die winde het die vaart om die kus van die Kaap van Goeie Hoop in die verlede lewensgevaarlik vir seevaarders gemaak en baie skipbreuke is daardeur veroorsaak. Effens meer oos aan die suidkus van die land, waar reënval meer konstant deur die jaar is, word die Tuinroete aangetref, wat bestaan uit 'n beeldskone groen landskap.
Plant- en dierelewe
Suid-Afrika het meer as 20 000 verskillende inheemse plante, of omtrent 10% van alle spesies op aarde, wat beteken dat dit baie ryk aan biodiversiteit is.
Suid-Afrika se mees algemene bioom is grasveld, veral op die Hoëveld waar die plantegroei oorheers word deur verskillende grasse, lae struike en doringbome, hoofsaaklik kameeldoring en witdoring. Plantegroei is selfs yler in die noordweste as gevolg van die lae reënval. Dáár kom verskeie vetplantspesies voor wat water stoor soos aalwyne en nabome in die baie warm en droë Namakwaland. Die gras- en doringsavanne verander stadig in bosveld in die noordooste van die land met digter plantegroei. Daar is ook 'n beduidende hoeveelheid kremetartbome in die gebied naby die noordelike punt van die Nasionale Krugerwildtuin.
Ekonomie
Hoofartikels: Ekonomie van Suid-Afrika, Landbou in Suid-Afrika, Politieke ekonomie van Suid-Afrika
Volgens 'n ondersoek, wat deur Standard Bank gedoen is, is toerisme tans die belangrikste verskaffer van buitelandse valuta vir die land, met 'n inkomste van R 53,9 miljard in 2003 (of sewe persent van die bruto binnelandse produk) - nog voor die goudmynbou, wat R 35,3 miljard verdien het.
Wynbou
Suid-Afrika is met 2,7 persent van die jaarlikse produksie, wat gelykstaan aan 730 miljoen liter, tans die negende grootste wynprodusent ter wêreld. Sowat 4 450 wynprodusente is in die land geregistreer.
Danksy die toenemende internasionale gewildheid van Suid-Afrikaanse wyne het die uitvoersyfers sedert die jare negentig skerp gestyg en beloop in 2005 reeds 281,1 miljoen liter (teenoor 'n skrale 25 miljoen in 1991). Dit maak van Suid-Afrika die vierde grootste wynprodusent buite Europa. Die gewildste soorte vir die internasionale mark is Chenin Blanc en Cabernet Suvignon.
- Mynbou
- Suid-Afrikaanse wapentuig
- Toerisme
Misdaad
Naas die VIGS-epidemie word misdaad in Suid-Afrika as 'n nasionale krisis beskou. Suid-Afrika is een van vyf lande wêreldwyd waar georganiseerde misdaad 'n negatiewe effek op die ekonomie het en hoë ekstra koste veroorsaak. Volgens 'n ondersoek van 1997 van die Duitse Handelskamer het sowat 15 persent van die ondernemings wat deelgeneem het, nuwe beleggings weens die hoë misdaadsyfers gestaak. Meer as twee derdes het gekla oor inbrake en motordiefstalle.
Misdaad word volgens die ondersoek deur Duitse bestuurders en hulle gesinne ook as 'n persoonlike bedreiging beskou. Oor 'n gemiddelde tydduur van sowat 18 maande word elkeen van hulle of 'n familielid die slagoffer van 'n misdaad. Twintig persent van die ondernemings het in die twee jaar voor die ondersoek medewerkers as gevolg van moord verloor. By 47 persent van die ondernemings het bestuurders of hoogs gekwalifiseerdes die land weens die misdaadprobleem verlaat.
In 1995 was die moordsyfers in Suid-Afrika reeds die hoogstes ter wêreld - daar is gemiddeld twee mense per uur vermoor. Die provinsies Gauteng en Wes-Kaap word die meeste geraak; na Johannesburg is in dié verband in 1998 in 'n spesiale uitgawe van die Duitse tydskrif "DEG aktuell" selfs as die "wêreld se moordhoofstad van die jaar 1997" verwys.
Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake waarsku VSA-burgers dat Suid-Afrika 'n swak rekord in misdaadbekamping het[1]. Die situasie het blykbaar sedert 2006 verder versleg, aangesien nou ook buitelanders in welvarende voorstede deur kriminele bendes bedreig word. In Februarie 2007 het ses Amerikaanse diplomate in Pretoria die slagoffers van 'n gewapende roof geword, en nuusberigte staaf dat buitelandse diplomate se vrees vir misdaad ná 'n reeks soortgelyke voorvalle steeds groter word.
Dwelmhandel vier sedert die einde van die apartheid eweneens hoogty in die land, wat vroeër danksy sy isolasie nouliks deur hierdie probleem geraak is. Kaapstad dien nou naas Lagos in Nigerië as een van die Suid-Amerikaanse en Asiatiese kartelle se hoofinvoerhawe vir dwelmmiddels in Afrika. Suid-Afrika is een van die belangrikste lande vir die internasionale dwelmhandel en het ook die grootste produsent van dagga geword. Dagga ter waarde van 45 miljard rand is hier reeds in 1994 op 83 000 hektaar verbou.
Demografie
Hoofartikel: Demografie van Suid-Afrika
Verstedeliking
In 2000 was 95 persent van die Blanke en Asiatiese bevolking, 79 persent van die Kleurlinge en 41 persent van die Swartes verstedelik. Behuisingstekorte en onvoldoende infrastruktuur is veral in die metropolitaanse gebiede 'n groot probleem, en as gevolg word veral die randgebiede van stede deur informele woonstrukture soos plakkerskampe gekenmerk. Die boubedryf is tans nie in stat om in die groeiende navraag na behuising te voorsien nie. Swart stedelike gebiede soos Soweto ly onder oorbevolking; in hierdie Swart voorstad woon nog steeds tussen drie en vier miljoen mense op 'n oppervlak van net 130 vierkante kilometer.
Die verstedelikingsproses van die Swart bevolking sal ook in die eerste dekade van die 21ste eeu aanhou, terwyl die landelike bevolking met tussen vyf en tien persent sal krimp.
Blanke woongebiede van die middel- en opperklas is minder geraak deur die sosiale veranderings ná die einde van die geografiese rasseskeiding. Die ou stelsel van "groepsgebiede" word hier grotendeels nog bewaar, aangesien net 'n minderheid van Swartes huispryse en huurgelde in hierdie gebiede kan bekostig. Die klein getalle nie-Blanke bewoners, wat na die eertydse Blanke woongebiede verhuis, kan maklik geïntegreer word.
Kultuur
Hoofartikel: Kultuur van Suid-Afrika
- Suid-Afrikaanse digters
- Suid-Afrikaanse skrywers
- Suid-Afrikaanse kunstenaars
- Suid-Afrikaanse musikante
- Suid-Afrikaanse entrepreneurs
Datum | Naam | Opmerkings |
---|---|---|
1 Januarie | Nuwejaarsdag | |
21 Maart | Menseregtedag | |
Goeie Vrydag | ||
Familiedag | Maandag na Paasfees | |
27 April | Vryheidsdag | Herdenking van eerste demokratiese verkiesing in 1994 |
1 Mei | Werkersdag | |
16 Junie | Jeugdag | Die dag van die 1976 Soweto-oproer |
9 Augustus | Nasionale Vrouedag | |
24 September | Erfenisdag | |
16 Desember | Versoeningsdag | Voorheen Geloftedag |
25 Desember | Kersdag | |
26 Desember | Welwillendheidsdag |
Bronne
Misdaad
- Brandt, H.: Leben mit dem Verbrechen. In: DEG aktuell, Sonderausgabe 1/1998, S. 16-18
- FAZ, DEG, Afrika-Verein, Safri, Deloitte & Touche: Investitionsführer Südliches Afrika. Frankfurt am Main 2000: F.A.Z-Institut für Management-, Markt- und Medieninformationen GmbH
- Ulrich Jürgens: Alte und neue Disparitäten in Südafrika. In: Geographie und Schule, vol. 21, nommer 121, bladsye 20-29
- Daniel D. Ntanda Nsereko: When Crime Crosses Borders. A Southern African Perspective. In: Journal of African Law, Vol. 41, nommer 2 (1997), bladsye 192-200
- Martin Pabst: Südafrika. München 1997: C.H. Beck
- SADC/EU (uitgewers): Regional Conference on Illicit Cross-Border Drug Trafficking (1995)
Verwysings
- ↑ Overseas Security Advisory Council: South Africa 2007 Crime & Safety Report, besoek op 22 Februarie 2007
|
||
---|---|---|
Algerië | Angola | Benin | Botswana | Burkina Faso | Burundi | Comore-eilande | Demokratiese Republiek van die Kongo | Djiboeti | Egipte | Ekwatoriaal-Guinee | Eritrea | Ethiopië | Gaboen | Gambië | Ghana | Guinee | Guinee-Bissau | Ivoorkus | Kaap Verde | Kameroen | Kenia | Lesotho | Liberië | Libië | Madagaskar | Malawi | Mali | Mauritanië | Mauritius | Marokko | Mosambiek | Namibië | Niger | Nigerië | Republiek van die Kongo | Rwanda | São Tomé en Principe | Senegal | Sentraal-Afrikaanse Republiek | Seychelle | Sierra Leone | Soedan | Somalië | Suid-Afrika | Swaziland | Tanzanië | Togo | Tsjad | Tunisië | Uganda | Wes-Sahara | Zambië | Zimbabwe |
||
Afhanklike gebiede: Brits: Britse Indiese Oseaan Gebied - Sint Helena en afhanklikhede| Portugees: Madeiraeilande |
Spaans: Kanariese-eilande - Ceuta en Melilla | Frans: Mayotte - Réunion |