Tafelbaai
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Tafelbaai is 'n natuurlike inham waaroor Kaapstad uitkyk en is geleë by die noordelike punt van die Kaapse Skiereiland wat suid tot by Kaap die Goeie Hoop strek.
Die naam Tafelbaai kom van die plat bokant van Tafelberg. Robbeneiland is in die baai. Hoewel die baai reeds vir eeue bekend is as 'n veilige hawe vir skepe, is dit in werklikheid nie 'n baie goeie natuurlike hawe nie en is blootgestel aan stormwinde uit die suidooste en noordweste. Baie seilskepe wat in die 17de- en 18de eeue in die baai skuiling gesoek het, is deur storms gestrand. Die Nederlandse koloniste het egter voortgegaan om 'n nedersetting hier te vestig aangesien daar min natuurlike hawens langs die Kaapse kus is en die naaste alternatiewe - Valsbaai en Saldanhabaai – byna geen vars water gehad het nie.
'n Hawe is mettertyd in Tafelbaai gebou deur landherwinning en die bou van breekwaters om skepe te beskerm. Die ouer deel van die struktuur staan as die Victoriadok bekend. Die nuwer deel word Duncandok genoem.