Delvillebos
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Delvillebos (in Engels, Delville Wood, in Frans, Bois d'Elville) is ‘n klein bos by die dorp Longueval in die Somme vallei in Frankryk. Die Suid-Afrikaanse Oorloggedenkteken en die Delvillebos-gedenkmuseum ter herinnering aan Suid-Afrikaners, wat aan twee wêreldoorloë, die oorlog in Korea en die Berlynse Lugbrug deelgeneem het, is in 1986 geopen. Die museum is 'n verkleinde weergawe van die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918), het 121 offisiere en 3 032 manskappe van die Eerste Suid-Afrikaanse Infanterie Brigade op 14 Julie 1916 in 'n hewige geveg gewikkel geraak. Ses dae later, op 20 Julie is die Brigade te hulp gesnel, maar dit was reeds te laat. Slegs 29 offisiere en 751 manskappe het die Slag van Delvillebos oorleef, en van die bos het net 'n enkele booghoutboom na die slag staande gebly.
Na die verwoesting van die Delvillebos is boompies vanaf Stellenbosch en Franschhoek weer aangeplant, dieselfde eike van die Kaap wat oorspronklik uit Frankryk kom. Die bome vorm nou die lang eikelaning by die begraafplaas van Suid-Afrikaanse gesneuweldes na die ingang van die monument uit. Op 11 November 1986 het die Staatspresident van Suid-Afrika, Pieter Willem Botha, in Delvillebos ook ‘n gedenkmuseum onthul, waar ‘n aantal uitstallings aangebring is om Suid-Afrika se deelname aan die Eerste en Tweede Wêreldoorlog en in Korea uit te beeld. Die beeldhouer Danie de Jager het ‘n brons reliëf getiteld “Die sesde dag” uitgebeeld. Die reliëf van 8,2 x 3,2 meter beeld gehawende manskappe op die voorgrond uit met die verwoeste oorblyfsels van Delvillebos in die agtergrond.