Grenoble
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Grenoble | |
---|---|
Land: | Frankryk |
Gewes (région): | Rhône-Alpes |
Département: | Isère |
Koördinate: | 45°11' N, 5°43' O |
Oppervlakte: | 18,13 km² |
Bevolking: | 157 900 (2004) |
Bevolkingsdigtheid: | 8 709 / km² |
Hoogte: | 204-600 m bo seespieël |
Burgemeester: | Michel Destot (2001-2007) |
Grenoble is die hoofstad van die département Isère en die historiese streek Dauphiné in die suidooste van Frankryk met sowat 157 900 inwoners (2004).
[wysig] Geografie
Grenoble lê tussen die bergmassiewe van Vercors, Belledonne en Chartreuse en vorm die geografiese middelpunt van die Franse Alpe. Grenoble is met sy meer as 150 000 inwoners die grootste stad in die Alpe, nog voor die Oostenrykse Innsbruck. Dikwels word dit ook die "hoofstad van die Alpe" genoem.
Die stad lê oorwegend in die riviervlakte van die Isère, maar dit word deur die nabygeleë bergreekse omring. Grenoble lê sowat 150 kilometer suid van Genève, 100 kilometer oos van Lyon en 350 kilometer noord van die Côte d'Azur. Sy ligging maak van Grenoble 'n gewilde toeristebestemming en skioord.
[wysig] Geskiedenis
Die eerste verwysing na Grenoble dateer uit die jaar 43 v.C. - Grenoble was toe 'n klein dorpie met die naam Cularo, wat deur die Galliese stam Allobroges gestig is. In die jaar 286 is 'n stadsmuur opgerig, waarvan 'n aantal oorblyfsels bewaar is.
Ter ere van keiser Gratianus het die dorp in die jaar 377 die naam Gratianopolis en stadstatus gekry. Die stadsnaam het geleidelik na verander Graignovol en uiteindelik Grenoble. Die einding -noble (Frans: "edel, adellik") was 'n indirekte verwysing na die Franse koning, aangesien die omliggende streek Dauphiné sy persoonlike besitting was. Vanaf 1032 het Grenoble tot die Heilige Romeinse Ryk behoort .
In die middeleeue het Grenoble as die hoofstad van die Dauphiné gedien, tydens die 14de eeu was dit ook die setel van 'n universiteit. In 1349 is Dauphiné deur Frankryk gekoop.
Die plaaslike onluste van die jaar 1788, die sogenaamde "Dae van die Dakteëls", was een van die gebeurtenisse aan die vooraand van die Franse Rewolusie - regeringstroepe is destyds met dakteëls bestook. Tydens die rewolusie is die naam van die stad na "Grelibre" (Frans libre: "vry") verander. Die naamwysiging is eers deur Napoléon Bonaparte herroep.
Tussen die twee wêreldoorloë het 'n groot aantal Italiaanse immigrante hulle in die stad gevestig. Op 26 Mei 1944 is Grenoble deur 'n bomaanval verwoes.
Grenoble het internasionale bekendheid verwerf as gasheerstad van die Olimpiese Winterspele van die jaar 1968.
[wysig] Eksterne skakels
- Amptelike webwerf van die stad Grenoble
- Webwerf van Grenoble se toeristekantoor
- Grenoble in Wikitravel
Kategorieë: Frankryk | Alpe | Alpinisme