Halifax, Nova Scotia
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Halifax is die hoofstad en grootste metropolitaanse gebied van Nova Scotia, Oos-Kanada. Na sy samesmelting met Dartmouth en Bedford in die jaar 1996 vorm die stad die Halifax Regional Municipality met sowat 360 000 inwoners (2001). Halifax is die ekonomiese sentrum van die Atlantiese provinsies en die tweede grootste Kanadese kusstad na Vancouver (Brits-Kolombië).
[wysig] Geskiedenis
Op 9 Julie 1749 land kaptein-generaal Edward Cornwallis met sowat 2 500 setlaars op die Chebuctoskiereiland, om 'n nedersetting en voorpos vir die Britse troepe te stig. Die klein vesting word ter ere van Lord Halifax, die president van die Britse handelskamer, "Halifax" genoem. Een jaar later word in die omgewing 'n ander nedersetting, Dartmouth, gestig. Die pont, wat die twee stede sedert 1752 met mekaar verbind, is die oudste seewaterpont in Noord-Amerika.
Ondanks baie moeilikhede ontwikkel Halifax vinnig, en in die stad word in 1752 die eerste Kanadese koerant, die Halifax Gazette, en drie jaar later die eerste poskantoor in Kanada opgerig. Met die bou van die eerste kaai in 1758 begin Halifax se gskiedenis as 'n belangrike Kanadese hawestad. Die stad dien ook as basis vir Britse militêre operasies teen die Franse fort in Louisbourg.
Dit is veral dergelike operasies tydens oorloë en internasionale konflikte, waarop die ekonomiese vooruitgang en welvaart van die stad aanvanklik berus. 'n Militêre operasie veroorsaak egter ook die grootste mensgemaakte ramp voordat 'n atoombom die Japanse stad Hirosjima tref. Tydens die Eerste Wêreldoorlog sterf meer as 2 000 mense by die ontploffing van die Franse skip Mont Blanc, wat groot dele van die skiereiland verwoes.
In 1925 ontstaan die eerste transatlantiese telegraafverbinding, en in 1941 stel Trans Canada Airways 'n gereelde lugroete tussen Halifax en Vancouver in. Die internasionale lughawe van Halifax word in 1960 geopen.
[wysig] Klimaat
Halifax se weer is onvoorspelbaar, maar gematig in vergelyking met dié van Sentraal-Kanada. Gewoonlik beweeg temperature tussen -5°C en +25°C. Sneeuval tree in die maande van Desember tot Maart op, dikwels in die vorm van sneeustorms. 'n Rekord-sneeuval van 950 millimeter begelei een van hierdie storms in Februarie 2004.
Die lente se weer word deur mis en koel temperature gekenmerk, terwyl die somer warm en droog of koel en reënerig kan wees. Die vroeë herfs is dikwels nog warm met baie sonskyn.
[wysig] Besienswaardighede
Die Privateers' Wharf is 'n gerestoureerde hawebuurt uit die 19de eeu met restourante en kroeë. Hier lê 'n namaaksel van die beroemde skoener Bluenose uit Lunenburg geanker. Die Bluenose word ook op Kanada se 10-sent-muntstukke uitgebeeld.