Nova Scotia
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Nouvelle-Écosse Nova Scotia Nieu-Skotland |
|||||
---|---|---|---|---|---|
|
|||||
Leuse : Munit Haec et Altera Vincit | |||||
Ander provinsies en gebiede van Kanada | |||||
Land | Kanada | ||||
Hoofstad | Halifax 44° 39' N, 63° 35' W |
||||
Grootste stad | Halifax | ||||
Goewerneur-generaal | Myra A. Freeman | ||||
Eerste Minister | Rodney MacDonald (Progressive Conservative Party) | ||||
Oppervlakte | 55 283 km² | ||||
- Land | 53 338 vk km | ||||
- Water | 1 946 vk km (3,5%) | ||||
Bevolking (2005) | |||||
- Totaal | 936 921 inw. | ||||
- Digtheid | 16,95 inw./vk km | ||||
Toelating tot die Kanadese Federasie | |||||
- Datum | 1 Julie 1871 | ||||
Verteenwordiging in die Parlement | |||||
- Parlement | 11 | ||||
- Senaat | 10 | ||||
Posafkorting | NS | ||||
Voorsetsel by poskode | B | ||||
Tydsone | UTC -4 | ||||
Internet-domein | .ns.ca | ||||
Nova Scotia of Nieu-Skotland (Frans: Nouvelle-Écosse, Skots-Gaelies: Albain Nua) is 'n maritieme provinsie langs die suidoostelike Atlantiese kusgebied van Kanada met 'n oppervlak van 55 283 vierkante kilometer en sowat 937 000 inwoners. Die hoofstad en kulturele en ekonomiese sentrum is Halifax (360 000 inwoners).
Die provinsie se motorregistrasienommers het "Canada's Ocean Playground" as hulle leuse, en behalwe vir die landengte van Chignecto is Nova Scotia 'n eiland, wat deur die waters van die Fundybaai, die Golf van Saint-Laurent en die Seestraat van Northumberland begrens word.
Nova Scotia maak deel uit van die oorspronklike tuisland van die Mikmaq, 'n Eerste Nasie wat die gebied van maritieme provinsies en dele van Maine, die Gaspésie-skiereiland en Newfoundland bewoon het.
Franse setlaars stig in 1604 die eerste permanente Europese nedersetting noord van Florida, Port Royal, as die moederstad van die latere gewes Akadië.
In die tydperk tussen 1713 en 1760 word die gebied by die Britse kolonies in Noord-Amerika ingelyf. Nova Scotia is een van die vier oorspronklike provinsies van die Kanadese Konfederasie, wat in 1867 gestig is.
Maar Nova Scotia staan veral bekend vir sy Franse en Skotse tradisies en sy historiese vestings en opelug-museums. Die hoofstad Halifax is die beginpunt van die gewilde "Vuurtoring-roete" (Lighthouse Route), wat in westelike rigting langs die kuslyn loop. Die spierwit vuurtoring van Peggy's Point naby Peggy's Cove is een van die mooiste in Kanada en die enigste wat 'n poskantoor huisves.
Inhoud |
[wysig] Ekonomie en landbou
Die provinsie het hoofsaaklik vrugbare boland en valleie; die gematigde klimaat bevorder landbou. Die provinsie staan bekend vir sy vrugte (Franse setlaars het hier vroeg 'n soort "Klein Normandie" geskep waar groot hoeveelhede sider (cidre), die Normandiese appelwyn, gebottel word), veeboerderye, suiwelnywerheid, bosboubedrywe, vissery en visverwerking; ander bronne van inkomste is steenkool en die yster- en staalnywerheid. Intussen is ook toerisme, die rolprent-, musiek- en ander kulturele bedrywe vinnig groeiende sektore van die plaaslike ekonomie.
Fynproewers vereenselwig die provinsie met sy kreefte - Nova Scotia is vandag die grootste uitvoerder van hierdie seekos-spesialiteit, en sowat 90 persent van sy vangste het buitelandse bestemmings.
[wysig] Die Franse erfenis
Die historiese Fort Louisbourg was tydens die veertigerjare van die 18de eeu die grootste militêre basis van Frankryk in Noord-Amerika. Die opelug-museum Forteresse de Louisbourg bied met sy gerestoureerde geboue en sy "inwoners en soldate" in historiese kleredrag en uniforms 'n outentieke indruk van die lewe in die voormalige Franse kolonie.
Die Habitation du Port-Royal National Historic Site aan die Fundybaai is een van die oudste Europese nedersettings in Kanada, wat in die 17de eeu gestig is. Die historiese Franse Fort Anne is later deur die Britse owerhede vergroot en dien onder sy nuwe naam Annapolis Royal in die tydperk tussen 1710 en 1749 as die hoofstad van Nova Scotia.
[wysig] Die Skotse erfenis
Nadat Frankryk sy Noord-Amerikaanse kolonies aan Groot-Brittanje afstaan, vestig baie immigrante uit die Skotse Hoogland hulle in die provinsie. Dit is veral clan-hoofde en kleinboere wat deur die Engelse owerhede verdryf is. Die setlaars bring hulle Keltiese taal en musiek saam na hulle nuwe tuiste, en Skotse tradisies soos die Hoogland-spele (Highland Games) en die viering van die Robbie-Burns-Dag ter ere van die nasionale Skotse digter Robert Burns is gewilde feeste in Nova Scotia.
[wysig] Geografie
Die provinsie se vasteland is 'n skiereiland met talle baaie in die Atlantiese Oseaan, wat net deur die Seestraat van Chignecto met die Noord-Amerikaanse vasteland verbind word. Kaap-Breton-eiland, 'n groot eiland noordoos van die provinsie se vasteland, en Sable Island, 'n klein eiland wat sowat 175 kilometer van die provinsie se suidkus af lê en vir sy skeepswrakke bekend staan, behoort eweneens tot die provinsie. Na die Prins-Edward-Eiland is Nova Scotia Kanada se tweede kleinste provinsie volgens oppervlakte, en geen plek in Nova Scotia lê meer as 56 kilometer van die see af.
[wysig] Demografie
Die groot meerderheid van Nova Scotia se bevolking praat Engels as hulle huistaal. Daar is sowat 40 000 Franstaliges en 22 000 Mikmaq, wat oorwegend Algonkin praat.
Die grootste grope immigrante is die lojaliste, wat vanaf 1759 uit die gebied van die Verenigde State na Nova Scotia gekom het, Skotte, Iere en Duitsers (veral in die Duitse nedersetting Lunenburg). In die gebied van Kaap Breton bestaan vir 'n lang tyd 'n Skots-Gaeliese taalgebied. Sedert die middel van die 20ste eeu het die aantal mense met Gaeliese moedertaal egter drasties afgeneem.
[wysig] Besienswaardighede
- Die Nasionale Kaap-Breton Hooglandpark (Cape Breton Highlands National Park) met sy ongerepte natuurskoon lyk soos 'n weergawe van die Skotse hoogland. Die wandelpad Cabot Trail en die uitkykpunt Fishing Cove Lookout is gewilde toeristebestemmings. Die Cabot Trail-wandelpad behoort tot die mooiste toeristeroetes in Kanada. Die Akadiese enklawe Chéticamp bewaar baie tradisies van die oorspronklike Franse inwoners.
- Baddeck langs die Trans-Canada-Highway is 'n tweetalige Engels-Gaeliese dorp en dien vroeër as Alexander Graham Bell se somerwoonplek. Die Alexander Graham Bell National Historic Site behandel die lewe en werk van hierdie bekende uitvinder.
- Die Marine Drive in die suidooste van die provinsie loop langs vissersdorpe en baaie en gee met die opelug-museum Sherbrooke Village 'n indruk van die lewe in die 19de eeu.