Helgoland
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Helgoland is 'n eiland in die Noordsee, 70 km van die kus van Duitsland. Dit is ongeveer 4 000 VGE gevorm en was al vroeg in die Neolitikum tydperk bewoon.
In die vroeë Middeleeue het die Friese daar gewoon en die huidige bevolking praat steeds 'n Noordfries dialek. Later het Denemarke dit in besit geneem en in die tyd van die Hanse was dit 'n tuiste vir seerowers.
Na die groot storm van 1720 is dit verdeel in twee eilande: die Oberland (1 km2) wat uit klippe bestaan, en die Duin (0,7 km2) wat uit sand bestaan.
Hierdie strategiese belangrike eiland, het van 1814 aan Brittanje behoort (Heligoland). Die slag van Helgoland, tussen Oostenryk en Denemarke op 9 Mei 1864 tydens die Schleswig oorlog, was die laaste seegeveg wat met linies van houtskepe. Na 1890 was die eiland 'n basis vir die Duitse vloot. Die slag van Helgolandbaai op 28 Augustus 1914 was die eerste seegeveg van die Eerste Wêreldoorlog, en tydens dié oorlog is die bevolking ontruim. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die bevolking weer geteiken. Meer as 'n duisend bomwerpers het Helgoland aangeval op 18 April 1945. Die bevolking is na die oorgawe weer gedeporteer en die Britse lugmag het die eiland gebruik vir skietoefeninge. Presies twee jaar later het die Britse vloot 6 800 ton plofstof op die eiland gedetoneer om die eiland te probeer sink. In 1952 is die eiland weer aan die Duitsers teruggegee.
Dit is nou deel van Sleeswyk-Holstein, met ongeveer 1650 inwoners, en is 'n gunsteling vir toeriste en veral voëlliefhebbers.