J.C. Steyn
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Jacob Cornelius Steyn is 'n Afrikaanse skrywer en is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara, distrik Fouriesburg, in die Vrystaat gebore. Aan die einde van 1944 is sy ouers na die distrik Petrus Steyn, en hy was daar in ’n plaasskool en daarna die hoërskool op Petrus Steyn.
Steyn is in 1956 na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat waar hy in 1958 die B.A.-graad behaal het met onderskeidings in die hoofvakke Afrikaans/ Nederlands en Duits. In Januarie 1959 het hy by Die Volksblad gaan werk, en was tot in Julie 1964 aan dié koerant verbonde as verslaggewer, vertaler, sub- en hoofsubredakteur. In dié tyd het hy ook B.A. (Hons.) en M.A. in Afrikaans en Nederlands behaal, albei cum laude.
In Augustus 1964 is hy na die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam waar hy in 1966 die doktoraaleksamen cum laude afgelê het, met algemene taalwetenskap as hoofvak, en Nederlandse taalkunde en Suid-Sotho as byvakke. ’n Deel van sy studiegeld het hy verdien as korrespondent van Die Volksblad en Die Burger.
Aan die begin van 1968 is Steyn aangestel as lektor in algemene taalwetenskap aan die Universiteit van Port Elizabeth. Aan die einde van 1968 het hy ook sy doktorsgraad aan dié Universiteit behaal met prof. E.B. van Wyk as promotor. In Julie 1970 is hy as senior lektor in algemene taalwetenskap na die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy was tot in Maart 1985 aan dié Universiteit verbonde. Van Julie 1974 tot Augustus 1975 was daar ’n kort onderbreking terwyl hy hoofredaksielid van Rapport was.
Terwyl Steyn in Johannesburg was, het die volgende boeke van hom verskyn: Die grammatika van liefhê (1975), ’n digbundel wat met die Eugéne Marais- en Ingrid Jonker-pryse bekroon is; ’n kortverhaalbundel, Op pad na die grens (1976); ’n novelle, Dagboek van ’n verraaier (1978) en ’n opsienbarende taalpolitieke werk, Tuiste in eie taal (1980), wat bekroon is met die Recht Malan- en Louis Luyt-pryse. In Die gesprek oor Afrikaans, ’n publikasie oor die reaksie op hierdie boek, noem die samestellers, L.T. du Plessis en M.C.J. van Rensburg Tuiste ’n “legendariese” boek. Op grond van dié en latere werke het die S.A. Akademie in 1988 die Langenhovenprys vir taalwetenskap aan Steyn toegeken.
Van April 1985 tot Desember 1997 was hy professor-navorser in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die OVS. In 1985 het ook sy prosabundel Die verlore vader verskyn, wat in 1987 gevolg is deur Trouwe Afrikaners wat handel oor aspekte van Afrikanernasionalisme en die Suid-Afrikaanse taalpolitiek. In 1988 het prof. C.F.J. Muller, hoof van die Naspers-geskiedenisprojek, Steyn gevra om ’n medewerker te word. Hy was verantwoordelik vir drie hoofstukke oor die geskiedenis van Die Volksblad ná 1948, en medeskrywer van ’n hoofstuk oor die Naspers-koerante en Afrikaans in Oor grense heen (1992), en die skrywer van 17 en medeskrywer van 3 van die 21 hoofstukke van Boekewêreld (1992), wat handel oor Naspers se uitgewerye tot 1990. Hierdie werk, waarvan Steyn die hoofouteur was, is bekroon met die Recht Malan- en Rapport-pryse.
Ander werke van hom wat daarna verskyn het, is ’n prosabundel Hoeke Boerseuns ons was (1991), Vrolike en verskriklike ondervindings van gewone mense (1996), waarvan hy samesteller was, en in 1998 Van Wyk Louw — ’n lewensverhaal (2 dele). Al hierdie werke is uitgegee deur Tafelberg.
Laasgenoemde werk is met die SA Akademie se Stalsprys vir geskiedwetenskappe bekroon. Daarna het hy nog twee biografieë geskryf: Penvegter. Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van M.E.R. (2004). Vir laasgenoemde het Steyn die Louis Hiemstra-prys vir nie-fiksie van die SA Akademie ontvang.
Steyn het tientalle artikels vir vaktydskrifte gepubliseer, hoofsaaklik oor kultuurgeskiedenis, die eksterne geskiedenis van Afrikaans en Suid-Afrikaanse taalpolitiek. Daaronder is drie supplemente van boeklengte, naamlik Die betekenis van Die Burger vir die Afrikaanse letterkunde (Acta Academica), Taalideologie en taalbeleid in die Suid-Afrikaanse geskiedenis — oorwegings in die ampstaaldebat? (Acta Academica) en Die taalstryd in die oorgangstyd — Gesindhede teenoor Afrikaans 1990 — 1994 (Stilet). Verder het hy tussen een- en tweehonderd populêre artikels vir dagblaaie en tydskrifte geskryf.