Marlene van Niekerk
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Inhoud |
[wysig] Biografie
Marlene van Niekerk is op 10 November, 1954 in op die plaas in Tygerhoek naby Caledon in die Kaap gebore.
Sy het in Riviersonderend en Stellenbosch skoolgegaan en het aan die Hoërskool Bloemhof gematrikuleer. Daarna het sy tale en filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar sy in 1978 haar MA graad verwerf het met 'n verhandeling oor die aard en belang van die literêre vormgewing in Friedrich Nietzsche se 'Also sprach Zarathustra'.
In 1979 het sy na Duitsland getrek waar sy haar in die teaterwese bemoei het as leerlingdirekteur. Sy het onder ander in Stuttgart en Mainz gewerk. Van 1980 tot 1985 het sy haar studies in filosofie aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland voortgesit en 'n doktorsgraad met 'n verhandeling oor die werke van Claude Lévi-Strauss en Paul Ricoeur voltooi.
Na haar terugkeer na Suid-Afrika het sy filosofie aan die Universiteit van Zoeloeland en later die Universiteit van Suid-Afrika doseer. Daarna is sy as lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel.
Marlene van Niekerk is tans Professor by die Department Afrikaanse en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch, waar sy ook programkoördineerder is vir die MA in kreatiewe Afrikaanse skryfkunde.
Van Niekerk is meer bekend vir haar literêre werke en het nog nie veel in die filosofie publiseer nie. Nogtans raak haar werke temas soos armoede, die donker psige van Afrikaner, die mislukkings van apartheid, geslagsrolle, ens, aan. Sy is in 1978 met die Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-pryse bekroon en later met 'n Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch bekroon. Vir haar veelbekroonde roman, Triomf, wat wêreldwyd vertaal en gepubliseer is, is sy met 'n M-Net prys en 'n CNA-prys bekroon. Triomf het egter ook onder hewige kritiek deurgeloop omdat Afrikaners daarin op 'n stereotipiese wyse as agterlik uitgebeeld word.
[wysig] Bibliografie
- Sprokkelster (digbundel), 1977
- Groenster (digbundel), 1983
- Die vrou wat haar verkyker vergeet het (kortverhale)
- Triomf (roman), 1994
- Agaat (roman), 2004
[wysig] Bronne
- Stellenbosch Skrywers: Marlene van Niekerk
- Kotzé, Jansie. Besoek die toneel van die misdaad saam met Marlene van Niekerk. Op Litnet
- Roodt, Dan. Marlene van Niekerk se haatskrif. Op Praag