Montevideo
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | ![]() |
Koördinate | 34°53' S, 56°10' W |
Stigting | 24 Desember 1726 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 526 vk km |
Hoogte bo seevlak | 0-43 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2004) | 1 325 968 |
- Metropolitaanse gebied (2004) | 1 668 335 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 523/vk km |
Tydsone | UTC -3 |
Burgemeester | Ricardo Ehrlich |
Amptelike Webwerf | Montevideo.gub.uy |
Montevideo [monteβi'ðeo] is die hoofstad en grootste stad van Uruguay en dien ook as die ekonomiese, finansiële en kulturele sentrum en belangrikste hawestad van dié Suid-Amerikaanse republiek. Die stad met 'n oppervlak van 526 vierkante kilometer en 1,3 miljoen inwoners lê teen die monding van die Río de la Plata.
[wysig] Geskiedenis
Montevideo is op 24 Desember 1726 deur die Goewerneur van Buenos Aires, Bruno Mauricio de Zabala, gestig, nadat die Portugese uit die fort, wat deur hulle hier twee jaar vroeër opgerig was, verdryf is. Volgens die oorlewering gaan die naam Montevideo terug op 'n Spaanse seeman in diens van die Portugese seevaarder Magellaan, wat, toe hy die heuwel raakgesien het, "Monte vi eu" - "Ek het 'n heuwel gesien" uitgeroep het.
Wetenskaplike verklarings lei die naam van die stad van ou seekaarte af, waarop die heuwel as "Monte VI D. E. O." of "Berg 6 van Oos na Wes" ingeteken was. Magellaan het die berg moontlik ook na die Heilige Ovidio Monte de San Ovidio vernoem. Die volledig oorspronklike naam van die stad was San Felipe y Santiago de Montevideo.
In die tydperk tussen 1790 en 1804 is Montevideo se hoofkerk uit baksteen op die Plaza de la Constitución opgerig.
Vanaf die vroeë 19de eeu is Montevideo verskeie kere deur die Britte, Spanjaarde, Portugese, Brasilianers en Argentyne gebombardeer en beleër. In 1828 is Montevideo tot hoofstad van Uruguay verklaar.
Sedert die begin van die 19de eeu tot by die vroeë 20ste eeu het Montevideo onder sterk Britse invloed gekom en sodoende Brasiliaanse en Argentynse pogings om sy handel te oorheers afgeweer. Die Argentynse diktator Juan Manuel de Rosas het die stad in die tydperk tussen 1838 en 1851 verskeie kere beleër.
Vanaf 1851 het die stad vinnig begin groei, en in 1860 was daar reeds 37 787 inwoners. Britse maatskappye het Montevideo tussen 1860 en 1911 deur middel van 'n uitgestrekte spoorwegnetwerk met die omliggende plattelandse gebiede verbind. Tot by die jaar 1884 het die inwonertal meer as verdubbel, en die destydse bevolking van 104 472 het reeds baie Europese immigrante ingesluit. Handel was die belangrikste bron van inkomste, en Montevideo was in hierdie opsig 'n sterk mededinger van die Argentynse hoofstad Buenos Aires.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse pantserskip Graf Spee, wat besig was om die seehandel in die Suidelike Atlantiese Oseaan te versteur, die nuus gehaal, toe dit ná 'n seegeveg met Britse kruisers die neutrale hawe van Montevideo binnegevaar het. Aangesien hy net die keuse tussen 'n verdere geveg met die Britte of 'n internering deur die Uruguayaanse owerhede gehad het, het die Duitse kaptein sy skip op 17 Desember 1939 self laat sink.
[wysig] Demografie
Sowat die helfte van Montevideo se 1,3 miljoen inwoners is van Italiaanse afkoms, en ook die oorgrote meerderheid van die res het Europese (veral Spaanse) wortels. Slegs twaalf persent van die bevolking is geen nasate van Europese immigrante nie.
Die metropolitaanse gebied van Montevideo, wat hoofsaaklik uit die stad self en die omliggende provinsie van Canelones met Montevideo se voorstede en aangrensende landelike gebiede bestaan, verteenwoordig meer as veertig persent van Uruguay se totale bevolking.
[wysig] Klimaat
Montevideo het 'n gematigde Mediterreense klimaat met 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 13 °C.