Bartel Pietersen
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Bartel Pietersen is die Deense stamvader van die Pieterse Afrikanerfamilie.
Inhoud |
[wysig] Herkoms
Weinig is bekend oor Bartel se herkoms. Na skatting is hy gebore in 1725 en was hy afkomstig van die stad/ of gebied Randers, in Denemarke.
Daar is 'n paar kandidate wat aanspraak maak om Bertel Pedersen van Randers te wees:
Sommige bronne beweer dat Bertel in 6 Januarie 1738 gebore is as die seun van Peder Nielsson in die Karby gemente in die Djurs Nørre gebied van die Randersgraafskap. Hierdie inskrywing kan gevind word in die aanlynweergawe van die Kopenhagen argiewe. Die aanspraak word egter bevraagteken omdat Bertel reeds as "Baadsman" onder die offisiere aangeteken is op die tweede rit van [Kroonprinses van Denemarke]]. Bertel moes dus reeds op 'n ouderdom van 10 jaar onder die offisiere getel het.
Nog 'n kandidaat was 'n Bertel wat in 1736 by die Sankt Morten gemeente in die Støvring gebied van die Randersgraafskap gebore is.
[wysig] Alternatiewe name
Voorheen bekend in publikasies as Barthold Pietersen van Randers' - die 'n' het later by baie families op natuurlike wyse verdwyn, andere het dit behou. Daar is onsekerheid oor wat Bartel se oorspronklike naam was. Sy Deense naam mag dalk Bartel, Barthold, Bertel of Olle gewees het en sy van Pedersen of Pederson of Randers.
Uit bronne bleik dit dat Bartel se naam oor tyd verander het.
- Die 'Storm round the Cape, Dangerous Danish Voyages' verwys na Bertel Randers asook Olle Pedersen.
- Die sertifikaat wat aan hom uitgereik is in 1753 deur die Kaptein van die skip "Kroonprinses van Denemarke" verwys na Bertel Randers
- Die goedkeuring om burgerskap wat in 1956 deur Goeweneur Rijk Tulbach uitgereik is verwys na hom as: Bertel Pieters van Randers
- Die "Inventories of the Orphan Chamber, Cape Town Archives Repository, South Africa" gebruik die naam Bartel Pietersz van Randers.
- Sy noemnaam op die Deense skip was skynbaar "Randers" met verwysing na sy gebied van herkoms.
- Die inventaris van die Kamer van Weeskinders toon aan dat Bartel met sy dood bekend gestaan het as Bartel Pietersz van Randers en as Bartel Pitters van Randers.
- Bartel se kinders word almal aangegee met die van Pieterse
Uit al die name is dit duidelik dat Bertel 'n sterk verbintenis gehad het met die Randersgraafskap.
[wysig] Bertel se handtekening
Bertel se handtekening soos weergegee in die opgaaf van die tweede reis van Kroonprinses van Denemarke. Ons aanvaar dat die handtekening Bertel se eie handskrif is. Die handtekening vir die rit van Kopenhagen na Tranquebar en handtekening van die terugtog van Tranquebar na Kopenhagen dieselfde was terwyl verskillende persone verantwoordelik was vir die opstel van die opgaaf met die twee geleenthede.
[wysig] Bertel as Bootsman
Bertel, was reeds aangeteken as bootsman onder die offisiere, tydens die tweede reis van Kroonprinses van Denemarke.
Tydens die tweede reis van Kroonprinses van Denemarke het Bertel getuig teen die kok Hans Hendrich Gotberg. Na skuldbevinding en vonnisoplegging, is Hans dood toe hy oorboord geval of gespring het.
In die "Storms om die Kaap. Gevaarlike Deense reise" word 'n klein bietjie van Bartel se persoonlikheid weergegee tydens die derde reis van Kroonprinses van Denemarke. Op 23 Mei 1752 toe die skip in 'n benarde posisie was, het Konstabel Tonnes Tollesen, Bartel en die jongste offisier, Michael Hansen Lindegaard aanbeveel dat hulle 'n bootjie na die land sal stuur sodat hulle kan uitvind waar hulle min of meer is. Sodoende kon hulle bepaal hoe vêr hulle nog van Mosselbaai is.
[wysig] Aankoms in Suid-Afrika
Die dokument "Storms rondom die Kaap. Gevaarlike Deense reise' geskryf deur G Nørregaard beweer dat Bartel 'n soldaat was in Tranquebar, Indië.
Bartel het op stormagtige wyse by die Kaap aangekom.
Hy was bootsman in diens van die Deense Oos Indiese Kompanjie, toe sy skip, bekend as Kroonprinses van Denemarke , 'n Oosindiëvaarder, op 9 Junie 1752 deur 'n storm in Mosselbaai verwoes is. Van sy kaptein, Svend Finger, kry 'Randers', soos wat hy aan boord bekend gestaan het, op 25 Augustus 1753,deur middel van 'n sertifitikaat, toestemming om sy heil aan land te soek, waar hy dit ookal kan vind.
Bartel het in 1756 toestemming van die goewerneur van die Kaap de Goede Hoop Rijk Tulbach ontvang, met sy ambag as timmerman, om by die Kaap (waar hy burgerregte ontvang het) aan te bly.
Bronne verskil oor wie van 'Kroonprinses' saam met Bartel in die Kaap agtergebly het. Die boek van G Nørregaard vertel dat slegs Olle Mortenson in die Kaap agtergebly het. Volgens die Kaapse argiewe was daar egter vyf persone wat op die 'Kroonprinses' was wat toestemming gerky het om in die Kaap agter te bly.
- Bertel Pieterse van Randers
- Marcus Jacob Croese
- Johannes Thomas Roodewald van Kopenhagen
- Jurgen Stamp van Flensburg, as slagter
- Sivert Jacobsen Wiid, as Kuiper
[wysig] Huwelik en kinders
Op 29 Maart 1761 trou hy met Anna Christina MINNIE, dogter van Dirk Minnie en Christina Scheepers, te Swellendam. Dirk Minnie was die stamvader van die Minnie-familie.
Barthold het sewe kinders gehad:
- Maria Magdalena Pieterse gedoop in 1764
- Johannes Theodorus Pieterse gedoop in 1765
- Pieter Pieterse gedoop in 1768
- Jacobus David Pieterse gedoop in 1771
- Ferdinandus Albertus Pieterse gedoop in 1773
- Frederik Pietersegedoop in 1773
- Christina Pieterse gedoop in 1775
Bartel het as veeboer 'n bestaan gemaak op die leenplaas Drie Vanteyn tussen die Kauga en Langkloof in die omgewing van George in die Ooskaap.
[wysig] Sterftekennis
Bertel sterf in 1776 en laat sy vrou met sewe minderjarige kinders agter.
Bertel se besittings met sy sterwe word soos volg weergegee:
Besittings: 1 ou wa, 1 ploeg met gereedskap, 4 grawe, 1 houtbyl, 1 ou handbyl, 3 "avegaars", 2 bore, 1 handsaag met 2 lemme, 1 snaphaan, 1 ou saal met houers, 'n pistool, draagband ens., 1 groot pot, 3 Kklein potjies, 1 koekpan, 3 blikke, 4 gebedsboeke, 3 ou blikke, 6 blikborde, 1 soplepel, 16 vurke, 6 tafelmesse, 1 staal kamerpot, 1 ou blikketel, 3 blik trekpotte, 1 koper koffiekan, 1 klein keteltjie, 2 strykysters, 4 "aade commen", 22 porselyn tafelborde, 1 "partiporc theegoed", 8 bottels, 2 wynglase, 2 anker vaatjies, 2 ou watervate, 2 bottervate, 2 botter "carns", 2 klein botter vaatjies, 4 melk emmers, 2 ou emmers, 3 klein 'balijs", 3 waterkanne, 2 plat potte, 1 meelsif, 6 ou "manden", 5 kiste van verskillende groote, 1 bakkis, 1 kinderwieg, 1 skuifdoos, 2 lepelrakke, 2 kinderbedjies, 12 ou sakke, 1 bedsak, 2 beddens, 2 houtkanelare met 2 snuiters, 10 "cronzikels", 2 "ree scheven met harebijtles", 3 "sligt scheven", 5 "roffel scheven", 12 skawe met bytels, 5 skawe songe bytels, 1 kloubytel, 1 deurslag, 1 "croos", 1 kruishout, 1 houtpasser, 2 omslae met 8 "knegts", 1 ou "dissel", 1 knyptang, 1 klein coper passer, 2 vyle, 1 buigtang, 8 bytels 3 stukke yster, 2 hammers, 1 out stuk yster, 2 tafels, 3 stoele, 1 ou plank, 1 passer, 1 groot skaar,
Vee: 98 beeste van verskillende soorte, 1013 skape van verskye soorte 4 perde 93 bokke
Laste: 10 maande agterstallige rente op die leenplaas. Geld word geskuld aan: Jacob Helbek, Jacobus de Buijs, Pieter Jourdaan, Anthon Nortje, Gert van Nimwegen, Andries du Preez, Theodorus Minne, Gert van Roijen, Abrahab Viveje en Barkhouser
Bates was gereken op 831 Rd:s en die laste was gereken op 731 Rd:s
[wysig] Verwysings
- Die Groot Afrikaanse familienaamboek - C.Pama
- Stamvader Bartel Pieterse - Navorsing deur Gerda Pieterse
- Precis of the Archives of the Cape of Good Hope deur HCV Leibrandt te vinde by die Kaapse Argiewe
- Storms round the Cape. Dangerous Danish voyages. Die dokument is 'n engelse vertaling (wat gereel is deur M Hanley) van 'n Deense boek met dieselfde naam wat geskryf is deur die Deense geskiedkundige G. Nørregaard.
- Inventories of the Orphan Chamber - Cape Town Archives repository, South Africa MOOC 8/16a
- Die verhaal van Hans Henrich Gotberg deur Palle Kvist
- Uitreksels oor Bertel vanuit die protokol (in die Kopenhagen Internasionale argiewe) van die 2de rit van Kroonprinses van Denemarke soos weergegee deur Palle Kvist.