Chicago
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Deelstaat | Illinois |
Koördinate | 41°54' N, 87°39' W |
Geïnkorporeer op | 4 Maart 1837 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 606,2 vk km |
Hoogte bo seevlak | 179 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2005) | 2 873 518 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 867/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 9 443 356 |
Tydsone | UTC -6 | Somertyd: UTC -5 |
Burgemeester | Richard M. Daley (D) |
Amptelike Webwerf | cityofchicago.org |
Chicago is die grootste stad in die Amerikaanse deelstaat Illinois, die Midweste en met 'n bevolking van byna drie miljoen ook die derde grootste stad in die Verenigde State. Die metropolitaanse gebied van Chicago het meer as 9,4 miljoen inwoners in die deelstate Illinois, Wisconsin en Indiana en is eweneens die derde grootste in die VSA.
Chicago, wat in die noordweste van Illinois aan die Michiganmeer lê, is die finansiële, sake- en kulturele sentrum van die Midweste en word deur die Loughborough University Globalization and World Cities Study Group & Network as 'n alpha-wêreldstad gelys. Die stad het in sy geskiedenis verskillende byname soos Windy City, Chi-Town en Stad van die Groot Skouers (volgens Carl Sandburg se gedig Chicago) gekry.
Die stad is in 1833 as 'n dorp gestig, wat die Groot Mere met die Missisippirivierstelsel verbind het, en het vinnig tot 'n beduidende vervoersentrum in die Noordwesgebied ontwikkel, met stoomboot-, kanaal- en (sedert 1855) spoorwegverbindings na ander belangrike gebiede in die VSA. In 1890 is dit reeds by die tien invloedrykste wêreldstede gereken en was ook 'n belangrike nywerheids-, politieke, geneeskundige en opvoedkundige sentrum.
Ná die groot brandramp van die jaar 1871 is die stad vinnig herbou. Die stad was in die laat 19de eeu die bakermat van die staalgeraamte-wolkekrabber, en sy argitektuur sluit ontwerpe van internasionaal befaamde argitekte soos Louis H. Sullivan, Frank Lloyd Wright en Ludwig Mies van der Rohe in.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Chicago 'n nuwe oplewing van boubedrywighede beleef, alhoewel 'n groot deel van die stedelike bevolking na die voorstede verhuis het.
[wysig] Geografie
Chicago lê in die noordooste van die deelstaat Illinois aan die suidwestelike oewer van Michiganmeer, en op die kontinentale waterskeiding by die Chicago Portage, wat die waterskeidings van die Mississippirivier en die Groot Mere met mekaar verbind.
Twee riviere vloei heeltemaal of gedeeltelik deur die stadsgebied van Chicago - die Chicagorivier in die middestad en die Calumetrivier in die industriële voorstad South Side. Die Chicago Sanitary and Ship Canal verbind die Chicagorivier met die Des Plainesrivier wes van die stad.
Toe Chicago in die 1830's gestig is, het die meeste beboude gebiede by die monding van die Chicagorivier ontstaan. Tans beslaan Chicago 'n totale oppervlak van 606,1 vierkante kilometer (234 vierkante myl), waarvan 588,3 vierkante kilometer (227,1 vierkante myl) land en 17,8 vierkante kilometer (6,9 vierkante myl) of 2,94 persent water is.
Die gemiddelde hoogte bo seevlak is 176 meter (579 voet), met die laagste punte langs die meeroewer (176 meter) en die hoogste, 'n vullisterrein, in die suide (224 meter/735 voet).
[wysig] Die Michiganmeer
Die geskiedenis van Chicago is nou verbind met dié van die Michiganmeer, en reeds voor die stigting van die stad is setlaars en goedere met skepe na die gebied vervoer. Die Michiganmeer is die derde grootste van die Groot Mere met 'n maksimale diepte van 925 voet en 'n oppervlak, wat effens groter is as dié van Kroasië in Europa. Die meer bereik net voor Chicago 'n gemiddelde diepte van tussen 15 en 35 voet. 'n Aantal skeepswrakke, waaronder skoeners, sleepbote en veerbote, maar ook vliegtuie uit die Tweede Wêreldoorlog lê hier op die meerbodem.
Duiktogte en kruisvaarte langs die kus is baie gewild onder die inwoners. In 1988 is sebramossels in Lake Saint Clair ontdek, en hulle het vinnig in die Groot Mere uitgebrei. Die mossels het 'n groot impak op die plaaslike ekostelsel. Hulle verstop waterpype en het 'n negatiewe uitwerking op die basiese voedselketting. 'n Onverwagte gevolg van hulle uitbreiding was die suiwering van die meerwater - terwyl sigbaarheid onderwater in die 1970's nog slegs 'n gemiddelde vyf tot vyftien voet was, het dit tans gestyg tot gemiddeldes van meer as twintig en soms selfs veertig voet.
[wysig] Klimaat
Chicago se klimaat word, net soos die res van die Midweste, deur 'n groot verskeidenheid weerstoestande en vier verskillende seisoene gekenmerk. Julie is die warmste maand van die jaar met gemiddelde maksimale temperature van 29 °C (84 °F) en 'n gemiddelde minimum van 17 °C (63 °F). Die kwik daal in Januarie, die koudste maand, tot 'n gemiddelde maksimum van -2 °C (29 °F) en gemiddelde minima van -10 °C (13 °F). Die hoogste temperature, wat volgens die Nasionale Weerdiens ooit amptelik aangeteken is, was 40 °C (117 °F) op 24 Julie 1934, die laagste (-31 °C of -23 °F) op 20 Januarie 1985.
Chicago se gemiddelde jaarlikse neerslag is 965 millimeter (38 duim). Somer is die hoofreënseisoen met oorwegend kortstondige reënvalle en donderbuie. Die winters is eerder droog, en die meeste neerslag val as sneeu. Die sneeurykste winter was dié van 1929-30 met 'n totale sneeuval van 114,2 duim. Die sterkste reënval binne 24 uur is met 164 millimeter (6,49 duim) op 14 Augustus 1987 aangeteken.