Durban
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Durban is 'n stad in Kwazulu-Natal, Suid-Afrika met ongeveer 4 miljoen inwoners uit 'n diverse groep kulture. Dit is 'n gewilde vakansiebestemming weens goeie weer en die warm Mosambiekse seestroom. Suid-Afrika se besigste hawe is by Durban wat een van die wêreld se diepste natuurlike hawens is.
[wysig] Geskiedenis
Durban se natuurlike hawe, wat deur die Zoeloes Thekwini ("Strandmeer") genoem word, is op 25 Desember 1497 deur die Portugese seevaarder Vasco da Gama ontdek. Hy noem die plek Rio de Natal of "Kersfeesrivier". Later is die naam gewysig na Port Natal.
Port Natal bly drie eeue lank 'n toevlugsoord vir skipbreukeling-seemans, slawe- en ander handelaars. Die eerste blywende nedersetting word in 1823 deur Britse setlaars gestig. Die stad groei vinnig en word in 1835 ter ere van die destydse goewerneur van die Kaap, Benjamin D'Urban, vernoem. In 1843 verklaar die Britte die stad tot 'n kolonie. In die laat 19de eeu kom duisende Indiese landarbeiders na die besige hawe- en handelstad, en hulle nakomelinge vorm vandag die belangrike Indiese element van die plaaslike bevolking. Tydens sy verblyf in Suid-Afrika tussen 1893 en 1915 werk die Indiese politikus Mahatma Gandhi vir 'n lang tydperk as 'n advokaat in Durban.