Frankfurt am Main
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Frankfurt am Main is met sowat 655 000 inwoners die grootste stad van die deelstaat Hessen en op vier na die grootste stad van Duitsland. Die metropolitaanse gebied van Frankfurt am Main het 1,8 miljoen inwoners; die gebied Frankfurt Rhein-Main is met sy meer as vyf miljoen mense die tweede grootste ekonomiese sentrum van die land.
Die stad is die hoofkwartier van die Europese Sentrale Bank en die belangrikste finansiële sentrum van Duitsland. Die lughawe Rhein-Main is met jaarliks sowat 50 miljoen passasiers die grootste in Duitsland en een van die belangrikste lughawens wêreldwyd.
Danksy die handel en talle nywerhede is Frankfurt am Main een van die Europese stede met die hoogste bruto geografiese produk (per capita) en saam met Parys en Moskou een van die min Europese stede met 'n groot aantal wolkekrabbers in sy sentrale besigheidsdistrik.
Inhoud[versteek] |
[wysig] Geskiedenis
Die gebied van die stad is reeds in die steentydperk bewoon. Later stig die Romeine in die gebied 'n militêre kamp, wat in die Merowingiese tyd as Frankiese koningshof dien. In 843 word die stad 'n belangrike palts (tydelike setel) van die Oos-Franke en die plek waar gereeld die Ryksdag plaasvind. Sedert het 1220 het Frankfurt am Main stadstatus. Die oudste dokument wat na die stad Frankfurt am Main verwys, is 'n oorkonde van keiser Karel die Grote vir die klooster St. Emmeram; dit dateer uit die jaar 794.
Sedert 1356 word die konings van die Heilige Romeinse Ryk hier gekies, vanaf 1562 ook die keisers. Die laaste keiser wat in 1792 hier gekroon word, is die Habsburgse keiser Frans II.
Met die einde van die Heilige Romeinse Ryk word die stad 'n lid van die Rynbond en onder die heerskappy van die vorsprimas Karl Theodor von Dalberg die hoofstad van 'n kortstondige Groothertogdom Frankfurt (1810-1813).
Binne die bestel van die Duitse Bond is Frankfurt am Main weer 'n Vrye Stad en setel van die bond se parlement (Bundestag). Tydens die Rewolusie van 1848 vergader die Nationalversammlung (Nasionale Vergadering) in die stad se Paulskirche.
Pruise annekseer die stad in 1866, en dit word 'n deel van die provinsie Hessen-Nassau.
Die bomaanvalle van die Tweede Wêreldoorlog verwoes groot dele van die ou stadskern en middestad. Frankfurt am Main word die setel van die Amerikaanse militêre regering en die administratiewe hoofstad van die drie westelike besettingsones ("Trisonesië"). Anders as verwag word die stad nie as die hoofstad van die onafhanklike Bondsrepubliek, Duitsland gekies nie; die regering word na Bonn verskuif.
Frankfurt am Main herwin sy status as belangrike ekonomiese sentrum en word die hoofkwartier van die grootste Duitse banke, en ook van die Duitse Sentrale Bank (Bundesbank) en sedert 1999 die Europese Sentrale Bank.
[wysig] Ekonomiese basis
Volgens 'n ranglys van die Universiteit van Liverpool (Verenigde Koninkryk) is Frankfurt am Main saam met Karlsruhe (Duitsland), Parys (Frankryk) en München (Duitsland) een van die vier rykste stede van Europa. Tog bly dit 'n stad met 'n baie hoë skuldlas, aangesien 'n groot deel van die welvarende belastingbetalers nie in die stad self woon nie, maar in die aangrensende selfstandige distrikte.
Frankfurt am Main bied sowat 600 000 werkgeleenthede vir sy inwoners en 'n groot aantal pendelaars. Die stad is nie net een van die belangrikste knooppunte vir die Duitse en internasionale vervoer nie, maar ook die setel van verskeie groot handelskoue. Dit is ook die eerste stad ter wêreld wat in die Middeleeue gereeld handelskoue aanbied en is met 'n grootpad, die Via Regia, aan die ander groot Duitse handelstad Leipzig verbind. Die handelskouterrein beskik vandag oor 'n hipermoderne infrastruktuur, met die nuwe wolkekrabber Messeturm as sy baken. Hier vind die groot skoue soos die Internationale Automobilausstellung (motors), Frankfurter Buchmesse (boeke) en Ambiente Frankfurt (verbruikersware) plaas.
Daar is min ander Duitse stede met dieselfde verskeidenheid van internasionale ondernemings wat hier hulle hoofkwartiere het. Die vernaamste nywerhede is chemie, advertensies, sagteware en inbelsentrums. Die stad staan egter veral bekend as 'n finansiële en handelsentrum. Die Frankfurtse Beurs is die tweede grootste in Europa en een van die belangrikstes ter wêreld. Die wolkekrabbers in die middestad, waarvan die grootstes nagenoeg 300 meter hoog is, dien as die hoofkwartiere van die groot Duitse banke.
Die sentrale ligging van Frankfurt in Duitsland het die vinnige groei van sy lughawe bevorder. Dit is nou die grootste passasirs- en vraglughawe op die Europese vasteland en bied ook die grootste aantal internasionale bestemmings.
[wysig] Besienswaardighede
Die Altstadt (ou stadskern) met sy oorspronklik sowat 4000 vakwerkhuise is ingevolge die bomaanvalle van die Tweede Wêreldoorlog grotendeels vernietig. Daar is egter nog die nou straatjies en 'n aantal geboue uit die verlede, soos die keiserkatedraal St. Bartholomäus met sy markante laat-Gotiese westoring. In die katedraal is die Duitse keisers en konings gekroon.
Die Römerberg is die sentrale plein van die ou stadskern met die Römer (Ou Raadsaal), die Alte Nikolaikirche, 'n kerk in die vroeë Gotiese boustyl, die Liebfrauenkirche uit die 14de eeu en 'n reeks huise wat volgens die historiese voorbeelde heropgerig is.
Die Paulskirche, 'n kerk in die klassisistiese styl, wat in 1789 ingewy is, speel 'n beduidende rol in die politieke geskiedenis van Duitsland. Hier vergader die Nationalversammlung van die jare 1848-49.
Die beroemde Alte Oper (Ou Operahuis) word in 1880 deur die argitek Richard Lucae opgerig. Dit is een van die beduidendste operateaters in Duitsland en word - na sy verwoesting in die Tweede Wêreldoorlog - in 1981 heropgerig. Vandag dien dit as 'n konsertgebou; vir operas is 'n nuwe gebou in 1951 geopen.
[wysig] Kookkuns
Frankfurt en sy omgewing is die tuiste van die Duitse appelwyn (Duits: Apfelwein of Äbbelwoi in die plaaslike dialek). Tipiese geregte is die Grüne Soße (Groen Sous, 'n sous met bottermelk, kwark, jogurt en kruie), Frankfurter Rippchen of Rippchen mit Kraut (ribbetjies met suurkool) en die Handkäs mit Musik (Handkaas met Musiek, 'n naam wat glo na die "winderige" eienskappe van hierdie soort kaas verwys).