Heilige Romeinse Ryk
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Heilige Romeinse Ryk was die amptelike naam vir die magsgebied van die Romeinse keisers van die Middeleeue tot by die jaar 1806.
Ná die afsterwe van Karel die Grote is die Frankiese Ryk in drie dele verdeel:
- die Wes-Frankiese Ryk, die historiese voorloper van die huidige Frankryk,
- Lotaringe, 'n koninryk, wat van die Noordsee tot by Rome gestrek, maar uiteindelik verdwyn het, en
- die Oos-Frankiese Ryk, net soos Lotaringe 'n uitgestrekte ryk in die hart van Europa.
Die Heilige Romeinse Ryk is sedert die 10de eeu onder die heerskappy van die Ottone-dinastie uit die voormalige Karolingiese Oos-Frankiese Ryk gevorm. Die Oos-Frankiese koning het na homself as die rex Francorum orientalium verwys -"koning van die Oos-Franke" - en was in feite die herrser oor 'n ryk met 'n verskeidenheid opstandige stamme.
Die naam Sacrum Imperium (Latyns "Heilige Ryk") is in 1157 en die titel Sacrum Romanum Imperium vir die eerste keer in 1254 in 'n historiese dokument gebruik.
Vanaf die 15de eeu is ook die bynaam "van die Duitse Nasie" gebruik, en die bewoners het geleidelik 'n soort kulturele gemenskapsgevoel ontwikkel. Geskiedkundiges verwys na die Heilige Romeinse Ryk soms ook as die Ou Ryk, ter onderskeiding van die Duitse Ryk, wat in 1871 gestig is.
Vanweë sy supranasionale karakter het die ryk nooit tot 'n nasionale staat in die moderne sin ontwikkel nie, maar het steeds 'n soort monargiese raamwerk vir die groot aantal onafhanklike Duitse state gebly. Behalwe vir die keiser en die ryksstande was daar ook min gemeenskaplike instellings.
Danksy sy swakke strukture was die Heilige Romeinse Ryk ná die Middeleeue ook nie meer in staat om 'n oorlog te voer of sy magsgebied uit te brei. Die ryk se bevoegdhede was in die algemeen beperk tot gebiede soos die regssekerheid en die bewaring van vrede. Die ryk het sorg gedra vir politieke stabiliteit en die vreedsame beslegting van konflikte deur die magsdinamiek binne perke te hou: Die ryk het die onderdane beskerm teen willekeurige magsmisbruik van plaaslike heersers en kleiner ryksstande teen regsverkragting deur die magtige ryksstande en die keiser.
Ná die Vredesluiting van Münster (Wesfalen) in 1648 was ook die buurlande as ryksstande 'n deel van die bedeling. Die Heilige Romeinse Ryk het sodoende ook 'n rol gespeel by die bewaring van vrede binne die Europese konstellasie van state.
Sedert die middel van die 18de eeu was die ryk nogtans te swak om sy deelstate teen die magsuitbreiding van interne en eksterne magte te beskerm. Sy politieke onmag was uiteindelik ook een van die redes vir sy neergang. Napoléon Bonaparte se verowerings en die stigting van die Rynbond het die ryk byna heeltemaal verlam. Nadat keiser Frans II op 6 Augustus 1806 afstand van die rykskroon gedoen het, is die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie uiteindelik ontbind.