Marine Le Pen
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Marine Le Pen, eintlik Marion Anne Perrine Le Pen (Neuilly-sur-Seine, 5 Augustus 1968) is 'n advokaat en Franse politikus. Sy is die jongste van die drie dogters van Jean-Marie Le Pen, voorsitter van die Franse nasionalistiese party Front National (FN), en sy eerste eggenote Pierrette Lalanne. Marine Le Pen is van haar eerste eggenoot geskei en het drie kinders. In 2002 het sy met haar tweede man Eric Iorio, 'n langjarige lid van die FN, getrou.
Marine Le Pen het tydens die Straatsburgse kongres van die Front National in 1997 'n lid van die besturende liggaam van die party, die Politieke Buro, geword en administreer sedert 1998 die party se regsafdeling. In Julie 2002 word sy ook die voorsitter van Générations Le Pen, 'n organisasie vir jongmense. Gerugte, dat sy haar vader as voorsitter van die Front National sou opvolg, het in die herfs van 2002 groot publisiteit aan Marine Le Pen verskaf, en sy tree nou onder meer in talle televisieonderhoude as die moderne en aantreklike "gesig" van die party op.
[wysig] Politieke loopbaan
Marine Le Pen het bo-op die Front National se kandidatelys in die gewestelike kiesafdeling Île-de-France vir die verkiesing van die Europese Parlement (EP) in 2004 gestaan en is op 13 Junie as 'n lid van die EP verkies.
Sy is in die tydperk tussen 1998 en 2004 'n lid van die Gewestelike Raad van Nord-Pas-de-Calais en sedert 28 Maart 2004 'n lid van die Gewestelike Raad van Île-de-France.
[wysig] Politieke opvattings
Marine Le Pen pleit daarvoor dat die Front National se standpunte oor aborsie - tans is die party nog sterk gekant teen Frankryk se moderne aborsiewette - en Frankryk se lidmaatskap in die Europese Unie (EU) moet verander. Sy gee die voorkeur aan 'n beleid wat die geboortekoers van Franse vroue sal verhoog om sodoende immigrasie oorbodig te maak. Die opskorting van Frankryk se lidmaatskap in die Europese Unie word deur haar nie meer oorweeg nie; sy pleit vir 'n meer outonome rol van Frankryk binne die raamwerk van die EU.
Sy is 'n voorstaander van die sogenaamde "dubbele straf" vir kriminele immigrante, wat volgens die FN se beleid 'n tronkstraf soos Franse opgelê moet kry en daarnaas ook gedeporteer moet word, aangesien hulle twee wette oortree het - die "wet van die Republiek en die wet van gasvryheid".
[wysig] Werke
- A contre-flots, Éditions Jacques Grancher, Parys 2006