Prins Christian Victor van Sleeswyk-Holstein
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Prins Christian Victor van Sleeswyk-Holstein (Albert Ludwig Ernst Anton; 14 April 1867 – 29 Oktober 1900) was 'n lid van die Britse koningshuis wat in Suid-Afrika aan maagkoors gesterf het. Hy was die oudste seun van Prinses Helena, derde dogter van Koningin Victoria.
Prins Christian is op 14 April 1867, by Windsorkasteel gebore. Sy vader was Prins Christian van Sleeswyk-Holstein, die derde seun van Christian, Hertog van Augustenborg en Gravin Louise van Danneskjold-Samsøe. Sy moeder was Prinses Helena die vyfde kind en derde dogter van Koningin Victoria en Prins Albert van Sakse-Coburg-Gotha. Sy ouers het in die Verenigde Koninkryk gewoon en die prins is gesien as 'n lid van die Britse koninklike familie.
Die prins het sy onderwys ontvang van Wellington College, Magdalen College, Oxford en die Koninklike Militêre Akademie Sandhurst. Hy was in die opsig die eerste lid van die koninklike familie wat nie tuis onderig is nie. Op Wellington het hy voetbal gespeel en hy was kaptein van die krieketspan by Wellington, Magdalen College en Sandhurst. In 1887 het hy selfs 'n wedstryd op professionele vlak gespeel.
Na afloop van sy studies aan Sandhurst is hy aangestel in die regiment “60th King's Royal Rifles” in 1888 en later in “4th King’s Royal Rifle Corps”. Vervolgens het hy in verskillende gebiede gedien. Hy het onder Lord Kitchener in 1898 gedien toe die Britse troepe deur die Dervishe by Omdurman naby Khartoem in Soedan verslaan is. Hy het deelgeneem aan die Ashanti Ekspedisie na Ghana. In 1900 is hy gestuur om in die Anglo-Boereoorlog te veg waar hy onder onder Lord Roberts gedien het. In Suid-Afrika doen hy malaria op en sterf op 29 Oktober aan maagkoors op 33-jarige ouderdom. Hy is op 1 November in Pretoria begrawe.
Prins Christiaan Victor is tydens sy lewe geëer as “Ridder Grootkruis van Bad” (GCB) en “Ridder Grootkruis in die Koninklike Victoriaanse Order” (GCVO). 'n Metaal kruis is ter ere van hom in die Sint Alban Anglikaanse Katedraal in Pretoria aangebring.