R. D. Laing
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Ronald David Laing (7 Oktober 1927 - 23 Augustus 1989) was 'n omstrede Skotse psigiater wat baanbrekerswerk verrig het om die geestessiekte skisofrenie te ontleed. Sy betoog "The Divided Self" wat in 1960 verskyn het, het vir baie gewildheid gesorg onder skisofrene maar vir afkeer onder psigiaters. Deur gebruik te maak van die eksistensieel-fenomenologiese benadering het hy gehelp om die wêreld van die skisofreen aan ander bekend te maak. Laing het die manier waarop psigiatrie destyds bedryf is veroordeel en geargumenteer dat dit gehelp het om die siekte in stand te hou, en het sodoende 'n belangrike bydrae gelewer aan die antipsigiatriese beweging van die vyftigerjare wat onder andere geloods is deur persone soos Thomas Szasz en Michel Foucault.
Laing se sublieme insig in die skisofrenie het hy na eie mening te danke aan sy eie liefdelose en eensame kinderjare wat hom sy hele lewe gekwel het. In 1989 is Laing dood aan 'n hartaanval wat veroorsaak is deur sy jarelange depressie, dwelmmisbruik en alkoholisme.