Ekonomie van Benin
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Ekonomie van Benin | ||
---|---|---|
Geldeenheid | CFA Franc (XOF) | |
Fiskale jaar | Kalenderjaar | |
Handelsorganisasies | AU, ECOWAS, WTO | |
Statistieke [1] | ||
BBP rangorde | 144ste (2004) [2] | |
BBP | $8,338 biljoen (2004) | |
Groeikoers van die BBP | 5% (2004) | |
BBP per capita | $1 200 (2004) | |
BBP volgens sektore | Landbou (36,3%), nywerheid (14,3%), dienste (49.4%) (2004) | |
Inflasiekoers | 2,8% (2004) | |
Bevolking onder die broodlyn | 33% (2001) | |
Mannekrag | nie beskikbaar (1996) | |
Mannekrag volgens beroep | nie beskikbaar | |
Werkloosheid | nie beskikbaar (2003) | |
Hoofnywerhede | Tekstielnywerheid, voedselverwerking, bougrondstowwe, sement | |
Handelsvennote | ||
Uitvoer | $720,9 miljoen (2004) | |
Uitvoergoedere | Katoen, ru-olie, palmprodukte, kakao | |
Belangrikste handelsvennote | Volksrepubliek van Sjina 30.2%, Indië 15.6%, Thailand 6%, Ghana 5.9%, Niger 4.5% (2004) | |
Invoer | $934,5 miljoen (2004) | |
Invoergoedere | Voedsel, kapitaalgoedere, petroleumprodukte | |
Belangrikste handelsvennote | Volksrepubliek van Sjina 29.7%, Frankryk 13.8%, Thailand 7.2%, Ivoorkus 4.6% (2004) | |
Publieke finansies | ||
Publieke skuldlas | nie beskikbaar | |
Staatsinkomste | $869,4 miljoen (2004) | |
Staatsuitgawes | $720,4 miljoen (1994) | |
Ekonomiese hulp | $342,6 miljoen (ontvang)(2000) |
Die ekonomie van Benin is nog onderontwikkel en word veral deur die landbousektor en klein bedrywe oorheers, wat ook die grootste bydraes tot die ekonomiese groei oplewer. Naas die bestaansboerdery is daar 'n kommersiële landbou met katoen as die belangrikste produk, wat 40 persent van Benin se BBP en sowat 80 persent van sy uitvoerinkomste oplewer. Ander belangrike produkte is tekstiele, palmprodukte en kakao. Mielies, bone, rys, grondboontjies, cashewneute, pynappels, kassawa, yamswortels en ander knolgewasse word net binne die bestaansboerdery verbou. Benin se beskeie visseryvloot lewer visse en kreefte vir die plaaslike mark en die uitvoer na Europa op.
Klein hoeveelhede ru-olie word sedert Oktober 1982 voor die kus ontgin, die produksie is egter tydelik gestaak. Nuwe olievelde word tans ondersoek.
Die ekonomie, wat vroeër deur die staat beheer is, is nou geprivatiseer. Beninse burgers bestuur veral klein bedrywe, terwyl 'n aantal ondernemings in Franse of Libanese besit is. Benin se voormalige staatsbeheerde brouery is deur 'n Franse brouerymaatskappy oorgeneem.
Ligte nywerhede, wat hulle op die verwerking van landbouprodukte en die vervaardiging van verbruikersware toespits, oorheers die sekondêre sektor van Benin se ekonomie. Die dienstesektor groei danksy die ekonomiese en fiskale hervorming nou vinnig.
[wysig] Beleggings en internasionale samewerking
Met die oorgang na 'n demokratiese regering in 1990 hervat Benin sy ekonomiese ontwikkeling. Alhoewel die ekonomie nog steeds deur die lae pryse vir sy hoofuitvoergoedere geknel word, is daar grootskaalse beleggings van private en publieke kapitaalbronne.
Benin dek die grootste deel van sy elektrisiteitsbehoeftes deur krag van Ghana in te voer. 'n Gemeenskaplike hidroelektriese projek met Togo aan die benedeloop van die Monorivier word as 'n belangrike stap in die rigting van groter elektriese selfvoorsiening beskou.
Die lidmaatskap in die monetêre sone van die CFA-Franc verseker ekonomiese stabiliteit en verleen toegang tot Franse ekonomiese bystand. Benin is ook 'n lidstaat van die Wes-Afrikaanse Ekonomiese Gemeenskap ECOWAS.