Kaïro
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kaïro (Arabies: القاهرة, al-Qāhira – „die Sterke“) is die hoofstad van Egipte en die grootste stad in die Arabiese wêreld. Die Egiptenaars gebruik dikwels ook die Hoog-Arabiese landsnaam مصر, vir hulle hoofstad (Egipties-Arabies: Masr).
Met sy 7,7 miljoen inwoners in die stad en sowat 15,5 miljoen in die metropolitaanse gebied is Kaïro die grootste agglomerasie op die vasteland van Afrika. Dit is die vervoersentrum van Egipte en beskik oor 'n groot aantal universiteite, teaters, museums en argitektoniese besienswaardighede. Die ou stadskern van Kaïro is 'n uitstekende voorbeeld van die Islamse boustyl en sedert die jaar 1979 'n wêrelderfenisgebied van die UNESCO.
[wysig] Geskiedenis
Die huidige Kaïro is in die jaar 969 deur die Fatimidiese kalief Al-Moe'ies gestig. Die stad sluit destyds die ou stad Foestat (Ou-Kaïro) in en word oorspronklik met afsonderlike woongebiede vir Arabiere, Berbers, Jode, Grieke, Koerde en Swartes aangelê, wat almal selfregerend is en oor hul eie instellings beskik.
Met die uitbreiding van die Fatimiederyk, wat uiteindelik naas Egipte ook groot dele van die Levant insluit, speel Kaïro 'n al hoe belangriker rol. Met die oprigting van die Al-Azhar-moskee ontwikkel die stad tot die godsdienstige en kulturele sentrum van die Islamse wêreld. Danksy die strategiese ligging by die kruispunt van belangrike handelroetes en naby die Middellandse en Rooi See groei die stad ook tot 'n eersterangse vervoer- en handelsentrum.
[wysig] Bronne
- Aryeh Grabois: Medieval Civilization: An Illustrated Encyclopaedia. Jerusalem 1980: The Jerusalem Publishing House Ltd. / New York 1980: Mayflower Books