Kripte
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Kripte (Grieks "verborge", van kryptein "verberg" ) is 'n begaanbare grafkelder, wat onder die koor (apsis) van baie Christelike kerke lê.
As voorlopers van kriptes word die onderaardse grafkelders van die eerste Christene beskou, wat buite die stadsmuur van die antieke Rome aangelê is. Bo-oor sommige van hierdie grafkelders is later kerke opgerig, soos byvoorbeeld die Ou Sint-Pieterskerk in Rome, wat na oorlewerings op die graf van Petrus gebou is. In die meeste gevalle lê die graf net onderkant die apsis of koor, in die Romaanse boustyl soms onderkant die weskoor.
Die eerste kriptes is in tonnels aangelê en derhalwe ook tonnelkriptes genoem.
Die kripte huisves die graf of die relikwieë van 'n martelaar en was in die Middeleeue naas sy godsdienstige betekenis ook daarop gemik om pelgrims te lok. Die tonnel het gewoonlik die apsis gevolg, sodat pelgrims in staat was om rondom die graf te wandel. Hierdie argitektoniese vorm word ook ringkripte genoem. Die eerste ringkripte is omtrent 590 in Ou Sint-Pieter opgerig.
Langsaan die ringkripte is dikwels 'n buitekripte gebou, waarin kerklike ampsdraers ter ruste gelê is. Ook altare vir herdenkingsdienste is bygevoeg. Die eerste buitekripte is in die 8de eeu in Brixworth (Engeland) gebou.
Met die Romaanse boustyl het die kripte as argitektoniese bouvorm sy bloeitydperk met die sogenaamde saalkripte beleef, wat uit die ringkripte met sy buitekripte ontwikkel het. Die saalkripte was 'n meerskepige gebou en het dikwels tot by die dwarsskip van 'n kerk gestrek. Sy hoogte het boumeesters genoodsaak om ook die koor te verhoog. Die saalkripte van die katedraal in Speyer (Duitsland) spog met 'n hoogte van sewe meter en beskik oor ses altaarnisse, sodat 'n soort "onderkerk" ontstaan het. Saalkriptes het ook as begraafplase van wêreldlike ampsdraers gedien.
Met die opkoms van die gotiese boustyl het die kriptes verdwyn, aangesien martelaars en hulle relikwieë nou openlik in begaanbare kore vertoon is.
Die bekendste kriptes is:
- Kripte van die katedraal in Braunschweig (Duitsland)
- Kripte van die domkerk in Mönchengladbach (Duitsland)
- Kripte van die katedraal in Speyer (Duitsland)
- Kripte in die katedraal van Gurk (Karinthië, Oostenryk)
- Kripte in die klooster Schlägl (Opper-Oostenryk, Oostenryk)
- Kripte in die katedraal van Lund (Swede)
- Kripte in die Sint-Pieterskerk, (Rome, Italië)
Kerkargitektuur |
Kerk : Koornis (apsis) | Dwarsskip | Koor | Skip | Vensterkruis | Narthex | Chapelle absidiale | Wandelgang | Boog | Sybeuk | Kripte | Kerktoring | Chevet | Toringspits | Tour-lanterne | Doksaal | Kerkplein |
Geboue en monumente : Kerk | Kapittelkerk | Doopkapel | Klooster | Abdy | Basiliek | Kapel | Katedraal | Campanile | Kalvarie |
Argitektoniese elemente : Boog | Gewelf | Kapiteel | Steunbeer | | Suil |
Versierings : Kerkvenster | Roset | Gargouille | Timpaan |
Romaanse argitektuur | Gotiese argitektuur | Middeleeuse godsdienstige argitektuur |