Oudtshoorn
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Oudtshoorn is met sowat 60 000 inwoners die grootste dorp in die Klein Karoo, 'n streek in die provinsie Wes-Kaap (Suid-Afrika). Die dorp is geleë tussen die majestueuse Outeniekwa- en Swartberge, 506 kilometer oos van Kaapstad. Oudtshoorn staan onder meer bekend as die sentrum van die volstruisteelt en die gasheerstad van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die belangrikste kulturele fees van die Afrikaanse taalgemeenskap in Suid-Afrika. Die dorp is ook die beginpunt van die wynroete langs die R 62.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die omgewing van Oudtshoorn is oorspronklik deur Boesmans bewoon, en 'n groot aantal van hulle rotstekeninge is in die grotte van die nabygeleë Swartberge bewaar.
Die eerste Europese ontdekkers in die gebied was 'n Nederlandse handelsekspedisie onder die bevel van ene veldkornet Schrijver, wat in Januarie 1689 deur 'n Griekwa-gids oor die ou olifante-trekpad na die streek gelei is. Die ekspedisie het tot by die huidige dorp Aberdeen gekom en het die Klein Karoo op 16 Maart oor die Attakwaskloof weer verlaat. Die eerste setlaars het hulle egter eers sowat honderd jaar later in die gebied gevestig.
Die dorp Oudtshoorn het ontstaan op twee plase wat aan Cornelis Petrus Rademeyer behoort het. Die eerste permanente gebou in die Klein Karoo, 'n Nederduits-Gereformeerde kerk, is in 1839 naby die oewer van die Grobbelaarsrivier opgerig. Die dorp Oudtshoorn het rondom hierdie kerkgebou begin groei en is vernoem na baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, wat in 1772 as goewerneur van die Kaapkolonie benoem is, maar tydens die seereis op pad na die Kaap oorlede is.
'n Klein skool met een klaskamer is in 1858 gebou, en 'n rukkie later is 'n munisipaliteit en in 1859 ook 'n Landboukundige Genootskap gestig. In dieselfde jaar is met die bou van 'n groter kerkgebou begin, wat die kleiner godshuis sou vervang.
Die jaar 1859 was ongelukkig ook die beginpunt van 'n langdurige droogte, wat die plaaslike ekonomie in mekaar laat stort het. Baie boere het hulle plase verloor en moes as bywoners op plase bly. In 1865 is die dorp reeds deur armoede geteister. Met die stortreëns van die jaar 1869 is die droogte finaal gebreek, en die depressie tot 'n einde gekom. Oudtshoorn het 'n welvarende gemeenskap geword.
[wysig] Die eerste Goue Era van die volstruisbedryf
Oudtshoorn het sy welvaart in daardie tydperk veral aan die volstruisteelt te danke gehad, wat veral in die Europese modebedryf gewild geraak het en veral as versiering van hoede gebruik is. In die tydperk tussen 1875 en 1880 het die prys vir 'n paar volstruise tot by 1 000 pond sterling gestyg.
Die boere in die omgewing van Oudtshoorn het besef dat volstruisteelt winsgewender sou wees as enige ander landbouproduk. Hulle het die verbouing van hulle tradisionele graangewasse laat vaar en in plaas daarvan lusern geplant, wat as volstruisvoer benodig is. Danksy die ekonomiese welvaart is ook die nuwe Nederduits-Gereformeerde kerkgebou uiteindelik voltooi en op 7 Junie 1879 ingewy.
Ongelukkig het die volstruisbedryf weens oorproduksie in 1885 'n krisis beleef. Daarbenewens is Oudtshoorn in Mei van dieselfde jaar deur 'n vloedramp verwoes. Die nabygeleë Victoriabrug oor die Olifantsrivier is een jaar na sy voltooing deur die vloedwaters weggespoel.
[wysig] Die tweede Goue Era van die volstruisbedryf
Die volstruisbedryf het maar stadig herstel, en eers na die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) was daar 'n groot oplewing. Die bedryf het rekordverkope van volstruisvere gehad, en baie volstruistelers het nou as "veerbaronne" bekend gestaan en vir hulle statige villas, die sogenaamde volstruisveerpaleise, laat oprig. Die volstruisbedryf het sy hoogtepunt in 1913 bereik, maar met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het verkope sterk gedaal. Die plaaslike ekonomie het opnuut in duie gestort, en die meeste boere het weer begin om hulle tradisionele graangewasse te verbou.
[wysig] Afrikaans
Die skrywer C.J. Langenhoven, die bekendste boorling van Oudtshoorn, het in die tydperk ná die ekonomiese krisis van 1914 bekendheid verwerf. Langenhoven, wat as een van die vaders van die Afrikaanse taal beskou word, was 'n eersterangse skrywer, wat 'n groot deel van die belangrike literêre werke van die vroeë Afrikaanse literatuurgeskiedenis opgelewer het.
Oudtshoorn is vandag 'n moderne dorp, wat veral op toerisme, landbou en volstruisteelt steun. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die grootste Afrikaanse taalfees in die land, vind hier jaarliks plaas.
[wysig] Besienswaardighede
Die historiese volstruisveerpaleise en die huidige volstruis-skouplase, die Kangogrotte sowat 30 kilometer van Oudtshoorn af, die wynroete en die pragtige natuurskoon van die omgewing met sy kenmerkende fauna, waaronder baie vetplante (sukkulente), lok duisende toeriste.
[wysig] Eksterne skakels
Provinsie Wes-Kaap |
|
---|---|
Hoofstad: | |
Streke: |
Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Tuinroete | Klein Karoo | Overberg | Weskus |
Grootste stede en dorpe: |
Kaapstad | George | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Worcester |
Munisipaliteite: |
Beaufort-Wes | Bergrivier | Breederivier | Breederivier/Wynlande | Breedevallei | Kaap Agulhas | Sederberg | Sentraal-Karoo | Kaapstad | Drakenstein | George | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Plettenbergbaai | Prins Albert | Saldanhabaai | Suid-Kaap | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Weskus | Witzenberg | |